My beste vakansie tot nog toe!
’n Brief uit Ierland
My beste vakansie tot nog toe!
“JY HET ’n uitdaging nodig om jou ’n bietjie van jou eksamen te laat vergeet”, het my ouers gesê. “Kom ons gaan kuier by jou niggie en haar man in Ierland en gaan preek vir mense wat selde die goeie nuus van die Koninkryk hoor.”
Ek het nie gedink dat dit ’n goeie idee is nie. Behalwe dat ek vir my eksamen moes leer, was ek ook senuweeagtig oor die reis omdat ek nog nooit buite Engeland was of gevlieg het nie. Hoe sou ’n aktiewe 17-jarige meisie wat in ’n besige buurt in Londen woon, aanpas by die stadiger pas van die lewe in ’n klein dorpie aan die suidwestelike punt van Ierland?
Ek was verniet bekommerd. Van die oomblik dat ons vliegtuig geland het, het ek baie van die land gehou. Maar omdat ons so vroeg uit die vere was, het ek aan die slaap geraak kort nadat ons motorrit begin het. Elke nou en dan het ek wakker geword en die ruwe maar pragtige landskap agter die klipmure aan weerskante van die smal pad sien verbyflits.
Die eerste aand het ons in die dorpie Skibbereen aangekom en ’n genotvolle, geestelik opbouende aand saam met ’n gesin deurgebring wat Ierland toe getrek het om met die Koninkrykspredikingswerk te help. Ons het ’n Bybelspeletjie gespeel. Elkeen van ons het die naam van ’n Bybelkarakter uit ’n sak getrek en dan met behulp van gebarespel ’n ondervinding uitgebeeld wat met die karakter verband hou. Die ander moes raai wie dit was.
Die volgende dag het ek, my ouers, my jonger broer, my niggie en haar man en ’n ander gesin met ’n veerboot na die klein Heir-eiland gegaan, waar minder as 30 mense woon. Jesus het gesê dat die goeie nuus in die hele bewoonde aarde verkondig moet word. Ons het dus die dag op die eiland deurgebring en opbouende skriftuurlike gedagtes met hierdie vriendelike en gasvrye mense bespreek en die pragtige, ongerepte landskap bewonder.
Dit was ’n sonskyndag en die lug was helderblou. Die sagte soet klappergeur van trosse heldergeel blomme van gaspeldoringstruike het in die lug gehang. Lenteblomme het die moeras in die middel van die eiland oortrek. Sanderige baaie lê aan die voet van klipperige kranse waar kormorante en malgasse nesgemaak het. So ver as ’n mens kan sien, is daar tientalle klein eilandjies, waarvan baie onbewoon is en in die Roaringwater-baai geleë is. Hoe waardeer ons tog die volmaakte harmonie van Jehovah se skepping!
Toe het ons weer teruggegaan na Skibbereen, waar ek dit geniet het om talle goeie vriende in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies te maak en dinge te doen wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Waarvan ek veral gehou
het, was om in ’n kajak te gaan vaar. Daar is eenvoudig nie ’n beter manier om die kus van Ierland te sien nie! Ons het vir aandete gaan visvang, maar die robbe het eerste by die vis uitgekom. Ons het ons eie strandspeletjies opgemaak, en ek het selfs Ierse danse probeer.Ons het ook ’n bietjie meer oor Skibbereen probeer uitvind. Toe die aartappeloes in die 1840’s in Ierland misluk het, was die dorpie en sy omstreke een van die gebiede wat die ergste daardeur geraak is. Duisende mense het omgekom van die honger, en omtrent 9 000 van die slagoffers is in ’n massagraf begrawe. Dit is vertroostend om te weet dat daar binnekort onder God se Koninkryksheerskappy nooit weer hongersnood sal wees nie en dat menigtes wat so tragies gesterf het, op ’n paradysaarde opgewek sal word.
Ons het saam met die plaaslike Getuies mense besoek wat selde bereik word in die gemeente se groot gebied. Ons het met ’n smal, steil pad langs gery na huise wat op die randjie van ’n krans geleë is en op die Ierse See uitkyk. Die mense wat ons hier ontmoet het, het ons ook vriendelik ontvang. Soos op Heir-eiland het ons begin deur te sê dat ons op vakansie is en dat ons van ons tyd gebruik om met mense oor ’n hartverblydende boodskap uit die Bybel te praat.
My ma het met ’n vrou gepraat wat ons tydskrifte, Die Wagtoring en Ontwaak!, met graagte geneem het. Toe ons haar ’n paar dae later weer sien, het sy gesê dat sy dit geniet het om die tydskrifte te lees.
“Kom asseblief terug met nog tydskrifte en kom gesels weer met my”, het sy gesê. Ons het vir haar gesê dat ons binnekort huis toe gaan, maar dat ons iemand sal vra om haar te besoek.
“Wel”, het sy gesê, “wanneer julle terugkom, moet julle asseblief by my kom inloer. Die Iere vergeet nooit ’n gesig nie!”
Ons het die laaste dag van ons vakansie op die strand deurgebring saam met die broers en susters van die plaaslike gemeente. Ons het ons eie braai met klippe gebou, dryfhout opgetel en vuur gemaak om die mossels te kook wat ons tussen die rotse gevind het waaroor die kristalhelder seewater spoel. Hierdie stadsmeisie het elke oomblik daarvan geniet!
Wat het ek van my week in Ierland gedink? Dit was my beste vakansie tot nog toe! Dit was nie net groot pret nie, maar dit was ook baie bevredigend om te weet dat ek iets gedoen het wat Jehovah gelukkig maak en verheerlik. Ek geniet dit om ons God te dien, en wanneer ’n mens goeie vriende en familie het wat dieselfde daaroor voel en dit saam met jou doen, bring dit jou selfs groter vreugde mee. Toe ek by die huis kom, het ek Jehovah gedank vir die talle liefdevolle, geestelikgesinde vriende wat hy my gegee het en vir die wonderlike herinneringe wat ek vir ewig sal koester.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
An Post, Ireland