Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

“U siel [sal] oor my neerbuig”

“U siel [sal] oor my neerbuig”

NEDERIGHEID is ’n aantreklike eienskap. Ons voel gewoonlik aangetrokke tot nederige mense. Maar ongelukkig is ware nederigheid moeilik om in vandag se wêreld te vind—veral onder diegene wat mag of gesag oor ander uitoefen. Wat van Jehovah God, die magtigste Persoon in die heelal? Is hy nederig? Kom ons ondersoek die profeet Jeremia se woorde in Klaagliedere 3:20, 21.—Lees.

Jeremia het Klaagliedere tydens ’n laagtepunt in Israel se geskiedenis geskryf. Hy het kort tevore iets gesien wat hom diep seergemaak het—die vernietiging van sy geliefde Jerusalem deur die Babiloniërs. Die ontstelde profeet het geweet dat die rampspoed ’n regverdige voltrekking van goddelike oordeel oor Israel was weens hulle sondige weë. Maar het Jeremia geen hoop gehad nie? Het hy gedink dat Jehovah te ver verwyderd en onsimpatiek is om berouvolles raak te sien en hulle uit wanhoop op te hef? Luister terwyl Jeremia namens sy volk praat.

Ten spyte van die smart is Jeremia met hoop vervul. Hy roep uit tot Jehovah: “Vir seker sal u siel * [Jehovah self] aan my dink en hom oor my neerbuig” (vers 20). Daar bestaan geen twyfel by Jeremia nie. Hy weet dat Jehovah nie van hom—of van berouvolles onder Sy volk—sal vergeet nie. Maar wat sal die almagtige God doen?—Openbaring 15:3.

Jeremia is seker dat Jehovah sal “neerbuig” oor diegene wat waarlik berouvol is. ’n Ander vertaling sê: “O onthou, en buk af na my.” Hierdie woorde skep ’n tere beeld van Jehovah. Hy, “die Allerhoogste oor die hele aarde”, sal as ’t ware afbuk en sy aanbidders uit hulle lae toestand ophef en hulle in sy guns herstel (Psalm 83:18). Hierdie hoop is soos ’n anker vir Jeremia en bied hom ware vertroosting vir sy gebroke hart. Die getroue profeet is vasbeslote om geduldig te wag tot Jehovah se bestemde tyd om Sy berouvolle volk te verlos.—Vers 21.

Die woorde wat deur Jeremia opgeteken is, leer ons twee dinge van Jehovah. Eerstens, hy is nederig (Psalm 18:35). Hoewel hy “verhewe in krag” is, is Jehovah bereid om as ’t ware tot ons vlak af te daal, om ons te help wanneer ons neerslagtig is (Job 37:23; Psalm 113:5-7). Is dit nie ’n vertroostende gedagte nie? Tweedens, Jehovah is barmhartig; hy is “vergewensgesind” en wil graag berouvolle sondaars in sy guns herstel (Psalm 86:5). Daardie twee eienskappe—nederigheid en barmhartigheid—gaan hand aan hand.

Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah nie soos menseheersers is nie, wie se trots hulle hardkoppig en ongevoelig maak! Beweeg dit jou nie om meer te leer oor die nederige God wat bereid is om ‘af te buk’ om sy aanbidders uit wanhoop op te hef en hulle hoop te gee nie?

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Junie:

Jeremia 51-52; Klaagliedere 1-5Esegiël1-5

[Voetnoot]

^ par. 3 Eertydse skrifgeleerdes het hierdie vers verander sodat dit “my siel” sê, asof dit na Jeremia verwys. Hulle het klaarblyklik geglo dat dit oneerbiedig is om te sê dat God ’n siel is, ’n woord wat die Bybel gebruik om na aardse skepsele te verwys. Maar die Bybel beskryf God dikwels in menslike terme om ons te help om hom te verstaan. Aangesien die woord “siel” kan verwys na “die lewe wat ons het”, beteken die frase “jou siel” “jy”.

[Lokteks op bladsy 14]

Jehovah is bereid om as ’t ware tot ons vlak af te daal, om ons te help wanneer ons neerslagtig is