Leer uit God se Woord
Waarom moet ons God se naam gebruik?
Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al geopper het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.
1. Waarom het God homself ’n naam gegee?
Jy hou ongetwyfeld daarvan dat mense jou naam gebruik eerder as ’n titel, soos “man”, “meneer”, “mevrou” of “vrou”, wanneer hulle jou aanspreek. ’n Naam help om jou as ’n individu te onderskei. God het titels soos “Soewereine Heer”, “God die Almagtige” en “Grootse Skepper” (Genesis 15:2; 17:1; Prediker 12:1). Maar hy het homself ook ’n naam gegee om ons te help om ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek. In Afrikaans is God se persoonlike naam Jehovah.—Lees Jesaja 42:8.
Hoewel baie Bybelvertalers God se naam met titels soos “God” en “Here” vervang het, word daardie naam byna 7 000 keer in eertydse Hebreeuse manuskripte van die Bybel gevind. Dit is duidelik dat God wil hê dat mense sy naam moet ken.—Lees Jesaja 12:4.
2. Waarom is dit noodsaaklik om God se naam te ken?
Om God se naam te ken, beteken meer as om bloot te weet hoe om dit uit te spreek. Dit beteken dat ons ’n hegte verhouding met hom het. Die naam Jehovah beteken “Hy laat word”. Dit is ’n versekering dat God sal word wat ook al nodig is om sy voorneme te vervul. Om God se naam te ken, behels dus dat ons glo dat God sy beloftes sal vervul (Psalm 9:10). Die geloof van mense wat God se naam ken en gebruik, beweeg hulle om op hom te vertrou en hom eerste in hulle lewe te stel. Jehovah God sal hierdie mense beskerm.—Lees Psalm 91:14.
3. Waarom wil God hê dat mense sy naam moet ken?
God wil hê mense moet hom by name ken omdat dit hulle tot voordeel strek. Dit stel hulle in staat om God se vriend te word en gee hulle die hoop om vir ewig te lewe. ’n Mens kan dus verstaan waarom Jehovah wil hê dat ons sy naam bekend moet maak!—Lees Johannes 17:3; Romeine 10:13, 14.
Jesus het God se naam bekend gemaak deur mense oor God se weë, Sy wette en Sy beloftes te leer. Vandag gaan Jesus se volgelinge voort met die werk om God se naam aan al die nasies bekend te maak. Hulle doen dit as ’n verenigde “volk vir [God se] naam”.—Lees Handelinge 15:14; Johannes 17:26.
4. Hoe sal God sy naam verheerlik?
Jehovah God wil sy naam verheerlik omdat dit belaster is. Byvoorbeeld, party mense sê dat hy nie lewe geskep het nie en dat ons nie aan hom gehoorsaam hoef te wees nie. Ander sê dat hy nie vir ons omgee nie en dat hy vir lyding verantwoordelik is. Sulke mense bring oneer op God se naam. Maar hulle sal dit nie vir altyd doen nie. God sal optree teen diegene wat sy naam oneer aandoen.—Lees Psalm 83:17, 18.
Jehovah sal sy naam verheerlik wanneer sy Koninkryk ’n einde maak aan alle menseheerskappy en vrede en veiligheid vir die mensdom bring (Daniël 2:44). Binnekort sal almal moet weet dat Jehovah die ware God is.—Lees Esegiël 36:23; Matteus 6:9.
Wat moet jy doen? Kom nader aan God deur sy Woord te bestudeer en met mense te assosieer wat hom liefhet. Wanneer Jehovah sy naam verheerlik, sal hy sy getroue knegte onthou.—Maleagi 3:16.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 1 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 16]
God se naam in ’n vroeë Hebreeuse manuskrip