Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n vrou in die Filippyne gehelp om los te breek van alkoholmisbruik en haar gesinslewe te verbeter? Waarom het ’n karate-entoesias in Australië ’n vreedsame godsdiensbedienaar geword? Lees wat hierdie mense te sê het.

“Die veranderinge het nie oornag plaasgevind nie.”—CARMEN ALEGRE

GEBORE: 1949

GEBOORTELAND: DIE FILIPPYNE

GESKIEDENIS: STRAWWE DRINKER

MY VERLEDE: Ek is gebore in San Fernando, ’n dorpie in die provinsie Camarines Sur. Ek het egter vir die grootste deel van my lewe as ’n volwassene in Antipolo, Rizal-provinsie, gewoon. Antipolo, wat in ’n bergagtige, grasryke gebied met baie bome geleë is, was ’n stil dorpie toe ek soontoe getrek het. Ek het selde mense ná sononder buite sien rondloop. Maar Antipolo is nou ’n groot stad met baie mense.

’n Ruk nadat ek na Antipolo verhuis het, het ek ’n man genaamd Benjamin ontmoet, en mettertyd het ons getrou. Die getroude lewe was moeiliker as wat ek verwag het. Om van my probleme te probeer ontvlug, het ek straf begin drink. Ek het ’n moeilike mens geword, wat duidelik gesien kon word in die manier waarop ek teenoor my man en kinders opgetree het. Ek het baie min selfbeheersing of geduld aan die dag gelê in die wyse waarop ek hulle behandel het. Ek het geen respek teenoor my man betoon nie. Natuurlik was ons gesinslewe nie baie aangenaam nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: My man se suster, Editha, is een van Jehovah se Getuies, en sy het voorgestel dat ek en Benjamin die Bybel saam met die Getuies studeer. Ons het die aanbod aanvaar in die hoop dat dit sou help om ons gesinslewe te verbeter.

Terwyl ons die Bybel studeer het, het ons ’n aantal pragtige waarhede geleer. Veral die woorde van Openbaring 21:4 het my hart geraak. Wat diegene betref wat in die toekomstige aardse paradys onder God se Koninkryk sal lewe, sê hierdie vers dat God “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”. Ek wou een van diegene wees wat hierdie seëninge gaan geniet.

Ek het besef dat ek groot veranderinge in my gesindheid en gewoontes moes maak. Die veranderinge het nie oornag plaasgevind nie, maar ek het uiteindelik daarin geslaag om van alkoholmisbruik los te breek. Ek het ook geleer om goedhartig en geduldig teenoor my gesin te wees. Verder het ek geleer om my man te respekteer en hom my samewerking te gee terwyl hy die leiding in ons gesin geneem het.

Toe ek en Benjamin vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het, was ons diep beïndruk deur wat ons gesien het. Onder die Getuies is daar nie dobbelary, oormatige drinkery en partydigheid nie. Hulle behandel almal met waardigheid en respek. Ons was daarvan oortuig dat ons die ware godsdiens gevind het.—Johannes 13:34, 35.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ons gesinslewe het aansienlik verbeter. Ek en Benjamin is gelukkig getroud, en ons geniet dit om die Bybel aan ander te leer. Ons twee volwasse seuns en hulle vrouens het ook die Bybel begin studeer. Ons hoop dat hulle Jehovah uiteindelik saam met ons sal dien. Dit is werklik die beste lewenswyse.

“Ek het . . . onoorwinlik gevoel.”—MICHAEL BLUNSDEN

GEBORE: 1967

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: KARATE-ENTOESIAS

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Albury, ’n pragtige, welvarende stad in Nieu-Suid-Wallis. Soos die meeste stede, is dit nie misdaadvry nie. Maar oor die algemeen is Albury daarvoor bekend dat dit ’n veilige plek is om in te woon.

Ek het in ’n welgestelde gesin grootgeword. Hoewel my ouers geskei het toe ek sewe was, het hulle toegesien dat ek en my broer en twee susters nooit enigiets kortkom nie. Ek het ’n goeie opvoeding gekry en het na die beste privaat skool in die gebied gegaan. My pa wou hê dat ek ’n loopbaan in die sakewêreld volg wanneer ek skool klaarmaak. Maar ek het meer in sport belanggestel, aangesien ek uitgeblink het in fietsry en karate. Op die ou end het ek werk in ’n motorwerkwinkel gekry, wat my meer tyd gegee het om my op sport toe te spits.

Ek was trots daarop dat ek altyd fiks was. Ek het soms onoorwinlik gevoel. Ek kon maklik my krag gebruik het om altyd my sin te kry. Maar my karatemeester, wat geweet het dat ek dit moeilik vind om nie my krag te misbruik nie, het my streng dissipline en sedes geleer. Hy het voortdurend die belangrikheid van gehoorsaamheid en lojaliteit beklemtoon.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek geleer dat Jehovah geweld haat (Psalm 11:5). Aan die begin het ek geredeneer dat karate nie gewelddadig is nie, maar dat dit ’n sport is wat veilig beoefen word. Ek het gedink dat die waardes en hoë standaarde wat dit bevorder, heeltemal in lyn is met wat die Bybel leer. Die Getuie-egpaar wat met my studeer het, was baie geduldig. Hulle het nooit vir my gesê dat ek die verweerkuns moet prysgee nie; hulle het eenvoudig aangehou om my Bybelwaarheid te leer.

Namate my Bybelkennis toegeneem en my vriendskap met Jehovah hegter geword het, het ek dinge in ’n ander lig begin sien. Ek was beïndruk toe ek geleer het van die voorbeeld wat Jehovah se Seun, Jesus, gestel het. Hoewel Jesus baie magtig was, het hy nooit van fisiese geweld gebruik gemaak nie. Sy woorde wat in Matteus 26:52 opgeteken is, het tot my deurgedring: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”

Hoe meer ek oor Jehovah geleer het, hoe meer het my liefde en respek vir hom toegeneem. Die gedagte dat ons Skepper, wat so wys en magtig is, vir my as ’n individu kan omgee, het my ontroer. Dit het my diep geraak toe ek leer dat selfs wanneer ek Jehovah teleurstel of wanneer ek gevoel het dat dinge eenvoudig te moeilik was en ek net wou tou opgooi, hy my nooit sou afskryf solank ek aanhou probeer nie. Ek het groot vertroosting geput uit sy belofte: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help’” (Jesaja 41:13). Toe ek besef dat hierdie soort liefde aan my betoon is, was ek nie van plan om dit prys te gee nie.

Ek het geweet dat die heel grootste uitdaging sou wees om karate op te gee. Maar ek het ook geweet dat dit Jehovah gelukkig sou maak, en ek was daarvan oortuig dat geen opoffering om hom te dien te groot was nie. Ek dink wat my gehelp het om finaal te besluit, was toe ek Jesus se woorde gelees het wat in Matteus 6:24 opgeteken is: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie.” Ek het besef dat dit onmoontlik sou wees om Jehovah heelhartig te dien en terselfdertyd voort te gaan om karate te beoefen, aangesien karate uiteindelik weer die belangrikste ding in my lewe sou word. Die tyd het aangebreek om my meester te kies.

Dit was nie maklik om karate prys te gee nie. Ek het met talle teenstrydige emosies geworstel. Ek het ’n mate van vreugde ervaar omdat ek geweet het dat ek Jehovah gelukkig maak. Maar dit het ook vir my gevoel asof ek my karatemeester verraai. Diegene wat die verweerkuns beoefen, beskou dit dikwels as ’n onvergeeflike sonde om iemand te verraai. Party verkies selfs om selfmoord te pleeg eerder as om die skande te verduur.

Ek kon myself nie sover kry om aan my karatemeester te verduidelik waarom ek ophou nie. Ek het karate eenvoudig die rug toegekeer en alle kommunikasie met hom en my ander karatemaats beëindig. Ek het geweet dat ek die regte ding doen toe ek karate prysgee. Maar ek het ook skuldig gevoel omdat ek nie my nuwe oortuigings aan hulle verduidelik het nie en ’n geleentheid deur die vingers laat glip het om ander van my geloof te vertel. Dit het vir my gevoel asof ek Jehovah teleurgestel het nog voordat ek hom begin dien het. Dit het my baie gekwel. Ek het baie keer tot Jehovah probeer bid maar eenvoudig in trane uitgebars.

Jehovah moes iets goeds in my gesien het, want hy het die broers en susters in die gemeente beweeg om my te hulp te kom. Hulle liefde, vertroosting en vriendskap was ongelooflik. Ek het ook vertroosting geput uit die Bybelverslag van Dawid en Batseba. Al het Dawid ernstige sondes gepleeg, het Jehovah hom vergewe nadat hy opregte berou getoon het. Toe ek oor daardie verslag nadink, het dit my gehelp om my eie tekortkominge in perspektief te sien.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Voordat ek die Bybel bestudeer het, het ek nie veel vir enigiemand anders omgegee nie—alles het om my gedraai. Maar met die hulp van Jehovah en my pragtige vrou met wie ek sewe jaar getroud is, het ek baie meer empatie aangekweek. Ons het die voorreg geniet om die Bybel met ’n aantal persone te studeer, insluitende party met tragiese omstandighede. Dit het my groter vreugde gebring om te sien hoe Jehovah se liefde ander se lewens raak as wat dit my ooit sou kon bring om ’n groot karatekampioen te wees.

[Lokteks op bladsy 14]

“Die gedagte dat ons Skepper, wat so wys en magtig is, vir my as ’n individu kan omgee, het my ontroer”

[Venster/Prent op bladsy 15]

“Dankie vir hierdie wonderlike reeks!”

Het jy dit geniet om die voorgaande ondervindinge te lees? Dit is net 2 van meer as 50 soortgelyke verslae wat sedert Augustus 2008 in Die Wagtoring verskyn het. Die reeks “Die Bybel verander lewens” het baie gewild onder ons lesers geword. Waarom het dit by soveel byval gevind?

Die verslae in hierdie artikels handel oor mense wat uit verskillende agtergronde kom. Voordat hulle oor Jehovah God geleer het, het sommige ’n mate van sukses geniet, maar hulle het nie ’n ware doel in die lewe gehad nie. Ander moes groot uitdagings oorkom, soos ’n kwaai humeur of dwelm- of alkoholmisbruik. ’n Paar het Jehovah geken terwyl hulle grootgeword het, maar het ’n ruk lank opgehou om hom te dien. Al hierdie ondervindinge lig toe dat dit moontlik is om veranderinge te maak om God te behaag. As ’n mens dit doen, bring dit altyd voordele mee. Watter uitwerking het hierdie verslae op ons lesers?

Een leser verduidelik hoe die artikel in die nommer van 1 Februarie 2009 party gevangenes in ’n vrouegevangenis gehelp het.

▪ “Baie van die gevangenes kan identifiseer met die mense in die artikel”, sê sy. “Die foto’s van hoe hulle voorheen gelyk het en hoe hulle nou lyk en die profiele van elke persoon se verlede, was veral doeltreffend. Baie van die gevangenes het soortgelyke agtergronde. Nadat twee gevangenes hierdie verslae gelees het, het hulle die Bybel begin studeer.”—C. W.

Die ondervindinge in hierdie reeks het sommige diep geraak. Byvoorbeeld, in die nommer van 1 April 2011 het die ondervinding verskyn van Guadalupe Villarreal, wat ’n homoseksuele lewenswyse laat vaar het om Jehovah te dien. Hier is twee van die talle briewe wat lesers ingestuur het in reaksie op hierdie verslag.

▪ “Guadalupe se ondervinding het my diep getref. Dit is so wonderlik om te sien hoe liefde vir Jehovah en sy Woord ’n persoon heeltemal kan verander!”—L. F. 

▪ “In die verlede het ek met almal oor my geloof probeer praat, insluitende homoseksuele. Onlangs het ek egter opgelet dat ek geneig is om sulke persone oor te sien of selfs te vermy. Hierdie artikel was net wat ek nodig gehad het. Dit het my gehelp om sulke persone te beskou soos Jehovah hulle beskou—as sy potensiële aanbidders.”—M. K. 

’n Ander ondervinding wat by baie lesers byval gevind het, was dié van Victoria Tong, wie se verhaal in die nommer van 1 Augustus 2011 verskyn het. Victoria het haar tragiese agtergrond beskryf. Sy het erken dat dit vir haar moeilik was om te glo dat Jehovah haar liefhet, hoewel sy hom al jare lank dien. En sy het vertel wat haar geleidelik gehelp het om Jehovah se liefde te aanvaar. Kyk wat sommige lesers oor haar verhaal gesê het.

▪ “Victoria se ondervinding het tot die hart gespreek. Ek het al baie tragedies in my lewe ervaar. Ek worstel voortdurend met negatiewe denke—selfs al is ek al jare ’n gedoopte Getuie. Maar Victoria se ondervinding skep die begeerte by my om selfs harder te probeer om te verstaan wat Jehovah in my sien.”—M. M.

▪ “Toe ek jonger was, was ek verslaaf aan pornografie. Ek het onlangs ’n terugslag gehad. Ek het Christen- ouer manne om hulp gevra, en ek het vordering gemaak om my probleem te oorkom. Die ouer manne het my van God se liefde en barmhartigheid verseker. En tog voel ek soms nog waardeloos, asof dit vir Jehovah onmoontlik is om my lief te hê. Victoria se ondervinding het my werklik gehelp. Ek besef nou dat wanneer ek dink dat dit vir God onmoontlik is om my te vergewe, ek in werklikheid sê dat sy Seun se offerande nie voldoende is om my sonde te bedek nie. Ek het hierdie artikel uitgeknip sodat ek dit kan lees en daaroor kan peins wanneer gevoelens van waardeloosheid ook al by my opkom. Dankie vir hierdie wonderlike reeks!”—L. K.