Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan die Hoorder van gebed

Kom nader aan die Hoorder van gebed

Kom nader aan die Hoorder van gebed

BAIE mense wat sê dat hulle aan God glo, kan nie goeie redes vir hulle geloof gee nie. En hulle kan ook nie verduidelik waarom godsdiens dikwels sleg is of waarom God lyding toelaat nie. Op sy beste kan hulle alleenlik bid tot ’n God van wie hulle nie ’n begrip het nie.

Maar jy kan nader as dit aan God kom. Jy kan jou geloof op ’n begrip van God bou wat jou met liefde en waardering vir hom sal vervul. Ware geloof is op bewyse gegrond (Hebreërs 11:1). As jy die waarheid oor God leer, kan jy hom ken en met hom praat as ’n vriend. Beskou die ondervindinge van party wat gebid het, al het hulle aan God se bestaan getwyfel.

Patricia, wat in die eerste artikel genoem is. “Eendag was ek saam met omtrent tien vriende toe hulle godsdiens begin bespreek het. Ek het vir hulle gesê dat ek uit die huis uitgestap het om weg te kom van die bespreking tussen my pa, wat ’n ateïs was, en een van Jehovah se Getuies, wat by ons huis besoek afgelê het. ‘Miskien steek daar iets in wat Jehovah se Getuies leer’, het een van my vriende gesê.

“‘Hoekom gaan ons nie na een van hulle vergaderinge om uit te vind nie?’ het ’n ander gesê. En dit is presies wat ons gedoen het. Hoewel ons skepties was, het party van ons aangehou om die vergaderinge by te woon bloot omdat die Getuies so vriendelik was.

“Maar een Sondag het ek iets gehoor wat my beskouing laat verander het. Die spreker het verduidelik waarom mense ly. Ek het nooit geweet dat die mens oorspronklik volmaak gemaak is en dat sonde en die dood by een mens begin het en toe na die hele mensdom versprei het nie. Die spreker het ook verduidelik waarom Jesus moes sterf sodat die mensdom kon terugkry wat die eerste mens verloor het (Romeine 5:12, 18, 19). * Skielik het alles vir my sin gemaak. ‘Daar bestaan werklik ’n God wat vir ons omgee’, het ek gedink. Ek het voortgegaan om die Bybel te studeer en het kort voor lank, vir die eerste keer in my lewe, gevind dat ek tot ’n werklike persoon kon bid.”

Allan, wat ook in die eerste artikel genoem is. “Eendag het Jehovah se Getuies by ons huis besoek afgelê, en my vrou het hulle ingenooi omdat sy belanggestel het in wat hulle oor ewige lewe op die aarde gesê het. Ek was geïrriteerd. Ek het die besoekers dus in die voorhuis laat wag en my vrou in die kombuis ingeroep en vir haar gesê: ‘Moenie dom wees nie. Jy kan nie sulke goed glo nie!’

“‘Wel, gaan jy dan na hulle toe en bewys hulle verkeerd’, het sy geantwoord.

“Ek kon natuurlik niks bewys nie. Maar hulle was baie gaaf en het my ’n boek gegee wat bespreek het of lewe geskep is of geëvolueer het. Die logika daarin was so duidelik en goed gestaaf dat ek besluit het dat ek meer oor God moet leer. Ek het die Bybel met die Getuies begin studeer, en kort voor lank het ek besef dat wat dit sê, heeltemal verskil van al my veronderstellings oor godsdiens. Namate ek meer oor Jehovah geleer het, het my gebede tot hom meer spesifiek geword. Ek het ongepaste gesindhede gehad, en daarom het ek vir hulp gebid. Ek is daarvan oortuig dat Jehovah my gebede verhoor het.”

Andrew, wat in Engeland woon. “Hoewel ek sterk opinies gehad het en baie in die wetenskap belanggestel het, het ek in die evolusieteorie geglo bloot omdat ander mense gesê het dat dit waar is. Ek het geloof in God verwerp weens al die slegte dinge wat gebeur.

“Maar soms het ek gedink: ‘As daar ’n God daar bo is, dan wil ek weet wat dit alles beteken. Waarom is daar soveel misdaad en oorlog?’ Wanneer ek probleme gehad het, het ek soms vir hulp gebid, maar ek het nie geweet met wie ek praat nie.

“Toe het iemand vir my vrou die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? gegee, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Ek het dikwels oor daardie einste vraag gedink. Daardie traktaat het my laat wonder: ‘Is dit dalk die moeite werd om die Bybel se antwoorde te ondersoek?’ Later, terwyl ek op vakansie was, het iemand my die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? * gegee. Toe ek sien dat die Bybel met ware wetenskap ooreenstem, het ek besef dat ek meer oor die Bybel moet leer. Toe een van Jehovah se Getuies aangebied het om dit met my te studeer, het ek dus ingestem. Namate ek Jehovah se voorneme begin verstaan het, het ek gevoel dat ek hom as ’n werklike persoon ken, iemand met wie ek vryelik in gebed kan praat.”

Jan, wat as ’n Prostestant in Londen grootgemaak is. “Weens die huigelary in godsdiens en al die lyding in die wêreld het ek alle belangstelling in godsdiens verloor. Ek het ook my studies aan die universiteit opgeskop en vir geld begin sing en kitaar speel. Dit was toe dat ek vir Pat ontmoet het. Hy is as ’n Katoliek grootgemaak en het, soos ek, ’n ongelowige geword.

“Ons het in ’n verlate huis gewoon saam met ’n klompie ander wat nie hulle studies aan die universiteit klaargemaak het nie en in Oosterse godsdiens belanggestel het. Ons het ure lank tot laat in die nag geesdriftige besprekings oor die betekenis van die lewe gehad. Hoewel ek en Pat nie aan God geglo het nie, het ons gedink dat die een of ander ‘lewensonderhoudende krag’ tog moet bestaan.

“Nadat ons na die noorde van Engeland getrek het op soek na werk as musikante, is ons seun gebore. Een aand het hy siek geword, en dis toe dat ek gebid het tot die God waaraan ek nie geglo het nie. Kort daarna het die verhouding tussen my en Pat versuur, en ek het ons baba geneem en hom verlaat. Ek het weer vir hulp gebid, net ingeval iemand geluister het. Sonder dat ek daarvan bewus was, het Pat dieselfde gedoen.

“Later daardie dag het twee van Jehovah se Getuies aan Pat se deur geklop en vir hom praktiese raad uit die Bybel gewys. Pat het my geskakel en gevra of ek sou instem om die Bybel saam met hom en die Getuies te studeer. Kort voor lank het ons geleer dat ons ons huwelik sou moes registreer om God te behaag. Aangesien ons verhouding so onbestendig was, was dit amper te veel gevra.

“Ons wou meer weet oor die vervulling van Bybelprofesieë, waarom mense ly en die betekenis van God se Koninkryk. Ons het geleidelik besef dat God wel omgee, en ons wou aan hom gehoorsaam wees. Ons het getrou. Die wysheid van God se Woord het ons gehelp om ons drie kinders groot te maak. Ons is daarvan oortuig dat Jehovah na ons gebede geluister het.”

Ondersoek self die bewyse

Soos miljoene ander, het diegene wat in hierdie artikel aangehaal is, besef wat agter die bedrog van valse godsdiens skuil en geleer waarom God lyding toelaat. Het jy opgelet dat dit in elke geval ’n juiste begrip van die Bybel was wat hierdie persone daarvan oortuig het dat Jehovah wel na gebede luister?

Wil jy graag die bewyse ondersoek dat God bestaan? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die waarheid oor Jehovah te leer en om uit te vind hoe jy nader aan die “Hoorder van die gebed” kan kom.—Psalm 65:2.

[Voetnote]

^ par. 6 Vir meer inligting oor die loskoopwaarde van Jesus se dood, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 12 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 10]

“Namate ek Jehovah se voorneme begin verstaan het, het ek gevoel dat ek hom as ’n werklike persoon ken, iemand met wie ek vryelik in gebed kan praat”

[Prent op bladsy 9]

Ware geloof is gegrond op bewyse en ’n begeerte om die waarheid oor God te ken