Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

Vergeet God wanneer hy vergewe?

Vergeet God wanneer hy vergewe?

DIE antwoord, in een woord, is ja. Aangaande diegene wat Jehovah se guns geniet, belowe hy: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jeremia 31:34). Jehovah verseker ons dus dat wanneer hy berouvolle sondaars vergewe, hy nie meer aan hulle sondes dink, oftewel in herinnering bring nie. Beteken dit dat die Skepper van die ontsaglike heelal nie in staat is om die sondes wat hy vergewe het, te onthou nie? Die woorde van Esegiël toon in watter opsig God vergewe en vergeet.—Lees Esegiël 18:19-22.

Jehovah het die profeet Esegiël as ’n woordvoerder gebruik om oordeel oor ontroue Juda en Jerusalem uit te spreek. Die nasie in sy geheel het Jehovah se aanbidding die rug toegekeer en die land met geweld gevul. Jehovah het voorspel dat Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig sou word. Maar saam met die oordeel wat Jehovah laat uitspreek het, het hy ook ’n boodskap van hoop voorsien. Elkeen het ’n keuse gehad; elkeen was verantwoordelik vir sy eie handelswyse.—Verse 19, 20.

Maar sê nou iemand wend hom af van wat sleg is en begin doen wat goed is? Jehovah het gesê: “Wat dan nou ’n goddelose betref, as hy hom afkeer van al sy sondes wat hy gepleeg het en hy al my insettinge onderhou en geregtigheid en regverdigheid beoefen, sal hy sekerlik bly lewe. Hy sal nie sterf nie” (vers 21). Ja, Jehovah was “vergewensgesind” teenoor ’n sondaar wat sy verkeerde weg laat vaar en ware berou geopenbaar het.—Psalm 86:5.

Wat van die sondes wat hy gepleeg het? “Al sy oortredings wat hy begaan het—dit sal nie teen hom in herinnering gebring word nie”, het Jehovah verduidelik (vers 22). Let op dat die berouvolle persoon se sondes ‘nie teen hom in herinnering gebring sou word nie’. Waarom is dit betekenisvol?

In die Bybel kan die Hebreeuse woord wat vertaal word as “in herinnering gebring word”, meer beteken as om bloot die verlede te herroep. Een naslaanwerk sê aangaande hierdie woord: “Trouens, [dit] impliseer heel dikwels ’n daad of dit verskyn saam met werkwoorde wat optrede aandui.” “Om in herinnering te bring” kan dus beteken “om op te tree”. Wanneer Jehovah sê dat ’n berouvolle sondaar se sondes “nie teen hom in herinnering gebring [sal] word nie”, sê Hy dus dat hy nie later weens daardie sondes teen die persoon sal optree deur hom byvoorbeeld te beskuldig of te straf nie. *

Die woorde in Esegiël 18:21, 22 skilder ’n hartroerende prentjie van die omvang van God se vergifnis. Wanneer Jehovah ons sondes vergewe, sal hy nooit in die toekoms daardie sondes teen ons hou nie. Hy werp as ’t ware die sondes van berouvolles agter sy rug (Jesaja 38:17). Dit is asof hy die rekord van daardie sondes uitwis.—Handelinge 3:19.

As onvolmaakte mense het ons God se barmhartigheid nodig. Ons sondig immers baie kere (Romeine 3:23). Maar Jehovah wil hê dat ons moet weet dat hy bereid is om ons te vergewe as ons opreg berouvol is. En wanneer hy vergewe, vergeet hy—met ander woorde, hy sal ons sondes nooit weer ophaal om ons te beskuldig of te straf nie. Wat ’n vertroostende gedagte tog! Beweeg God se barmhartigheid jou nie om nader aan hom te wil kom nie?

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Julie:

Esegiël 6-20

[Voetnoot]

^ par. 5 Om “sondes in herinnering te bring” kan eweneens beteken “om teen sondaars op te tree”.—Esegiël 21:23.