Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom die Hoorder van gebed lyding toelaat

Waarom die Hoorder van gebed lyding toelaat

Waarom die Hoorder van gebed lyding toelaat

HOEWEL party mense bid, twyfel hulle of God bestaan. Waarom twyfel hulle? Miskien is dit omdat hulle soveel lyding in hierdie wêreld sien. Het jy al ooit gewonder waarom God lyding toelaat?

Het God mense werklik gemaak soos hulle vandag is—onvolmaak en onderhewig aan lyding? Ons kan beswaarlik respek hê vir ’n god wie se voorneme dit is dat mense moet ly. Maar dink hieraan: As jy met bewondering om ’n nuwe motor stap en dan sien dat die eenkant beskadig is, sou jy veronderstel dat die vervaardiger dit so gemaak het? Natuurlik nie! Jy sou dink dat die vervaardiger dit “volmaak” gemaak het en dat iemand of iets anders die skade veroorsaak het.

Tot watter gevolgtrekking moet ons kom wanneer ons eweneens die merkwaardige orde en ontwerp in die sigbare wêreld bewonder en dan die chaos en korrupsie sien wat die mensegesin teister? Die Bybel leer dat God die eerste mensepaar volmaak gemaak het, maar dat hulle later deur hulle eie toedoen beskadig is (Deuteronomium 32:4, 5). Die goeie nuus is dat God belowe het om die skade ongedaan te maak—om gehoorsame mense tot volmaaktheid te herstel. Maar waarom het hy so lank gewag?

Waarom so lank?

Die rede hou verband met die vraag: Wie moet oor die mensdom regeer? Jehovah wou nooit hê dat mense oor hulleself moes regeer nie. Hy sou hulle Heerser wees. Die Bybel self sê: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Ongelukkig het die eerste mense besluit om teen God se heerskappy in opstand te kom. Hulle wettelose daad het hulle sondaars gemaak (1 Johannes 3:4). Gevolglik het hulle hulle volmaaktheid verloor en hulleself en hulle nakomelinge skade berokken.

Jehovah het mense duisende jare lank toegelaat om oor hulleself te regeer, en die geskiedenis het bewys dat mense nie die vermoë het om dit te doen nie. Dit toon dat alle menseregerings lyding veroorsaak. Nie een van hulle het al oorlog, misdaad, ongeregtigheid of siekte uit die weg geruim nie.

Hoe sal God die skade ongedaan maak?

Die Bybel belowe dat God binnekort ’n regverdige nuwe wêreld tot stand sal bring (2 Petrus 3:13). Slegs diegene wat uit vrye wil besluit om liefde aan mekaar en aan God te betoon, sal toegelaat word om daarin te woon.—Deuteronomium 30:15, 16, 19, 20.

Die Bybel sê ook dat God gedurende die vinnig naderende “dag van die oordeel” lyding en diegene wat dit veroorsaak, uit die weg sal ruim (2 Petrus 3:7). Daarna sal God se aangestelde Heerser, Jesus Christus, oor gehoorsame mense regeer (Daniël 7:13, 14). Wat sal Jesus se heerskappy bereik? Die Bybel sê: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11.

As hemelse Koning sal Jesus die skade—onder meer siekte, veroudering en die dood—wat deur die mens se opstand teen Jehovah, “die bron van die lewe”, veroorsaak is, ongedaan maak (Psalm 36:9). Jesus sal almal genees wat sy liefdevolle heerskappy aanvaar. Onder sy heerskappy sal die volgende Bybelprofesieë bewaarheid word:

▪ “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie. Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle oortreding ontvang het.”—Jesaja 33:24.

▪ “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

Is dit nie vertroostend om te weet dat God binnekort sy belofte sal vervul om ’n einde aan alle lyding te maak nie? Intussen hoef ons nie te twyfel dat hy na ons gebede luister net omdat hy tans lyding toelaat nie.

God bestaan. Hy kan jou hoor, selfs wanneer jy uiting gee aan jou pyn en smart. En hy wil baie graag hê dat jy die tyd moet beleef wanneer al jou twyfelgedagtes en pyn iets van die verlede sal wees.