Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . . 

Waarom het God vereis dat sy aanbidders slegs met medegelowiges trou?

Waarom het God vereis dat sy aanbidders slegs met medegelowiges trou?

▪ God se Wet aan die nasie Israel het hierdie gebod ingesluit aangaande die mense van die omliggende nasies: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie” (Deuteronomium 7:3, 4). Wat was die rede vir hierdie verbod?

Oor die algemeen beskou, het Jehovah geweet dat Satan Sy volk wou verderf deur hulle tot die aanbidding van valse gode te keer. God het dus gewaarsku dat die ongelowiges “jou seun daarvan [sal] afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien”. Baie was hier op die spel. As die nasie Israel ander gode begin dien het, sou hulle God se guns en beskerming verloor en maklike prooi vir hulle vyande word. Hoe sou die nasie dan die beloofde Messias kon voortbring? Dit is duidelik dat Satan rede gehad het om die Israeliete te verlok om met ongelowiges te trou.

Op ’n meer persoonlike vlak moet ’n mens onthou dat God vir sy knegte as individue omgegee het. Hy het geweet dat elkeen se geluk en welsyn afgehang het van ’n hegte verhouding met hom as hulle God. Het Jehovah goeie rede gehad om besorg te wees oor die gevaarlike invloed wat ’n ongelowige huweliksmaat kon hê? Dink aan die voorbeeld van koning Salomo. Hy was vertroud met Jehovah se waarskuwing oor ongelowige vrouens: “Hulle sal julle hart laat afwyk om hulle gode te volg.” Omdat hy ’n buitengewoon wyse man was, het hy moontlik gedink dat hy nie God se raad nodig het nie en dat dit nie op hom van toepassing is nie. Hy het dit geïgnoreer. Wat was die gevolg? “Sy vrouens het sy hart geleidelik laat afwyk . . . om ander gode te volg.” Hoe tragies tog! Salomo het Jehovah se guns verloor, en ’n ernstige skeuring het weens sy ontrouheid in sy volk ontstaan.—1 Konings 11:2-4, 9-13.

Party redeneer dalk dat daar uitsonderings was. Byvoorbeeld, die Israeliet Maglon het met die Moabitiese vrou Rut getrou, en sy het ’n uitsonderlike gelowige geword. Dit het nietemin gevare ingehou om met Moabitiese vrouens te trou. Maglon word nie geprys omdat hy met ’n Moabitiese meisie getrou het nie; hy het op ’n jong ouderdom gesterf, waarskynlik selfs voordat Rut Jehovah as haar God aangeneem het. Maglon se broer, Giljon, het met die Moabitiese vrou Orpa getrou, wat “haar gode” bly aanhang het. Boas daarenteen het met Rut getrou ’n ruk nadat sy ’n gelowige geword het. Trouens, die Jode het haar later as ’n “volmaakte proseliet” beskou. Rut en Boas se huwelik was vir hulle albei ’n seën.—Rut 1:4, 5, 15-17; 4:13-17.

Is dit dan wys om te redeneer dat ’n voorbeeld soos dié van Maglon en Rut aandui dat Jehovah se raad om slegs met medegelowiges te trou nie altyd geldig is nie? Om so te redeneer, sou amper wees soos om te wys na ’n dobbelaar wat ’n boerpot gewen het en dan te sê dat dobbelary ’n aanvaarbare manier is om ’n bestaan te maak, nie waar nie?

Die Bybel spoor hedendaagse Christene aan om “net in die Here” te trou. Dit waarsku ons om nie “saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk [te] kom nie”. Hierdie raad is bedoel vir ware Christene wat tans ’n huweliksmaat soek. Vir diegene wat reeds met ’n ongelowige getroud is, gee die Bybel nuttige raad wat hulle kan help om die beste van ’n moeilike situasie te maak (1 Korintiërs 7:12-16, 39; 2 Korintiërs 6:14). Al hierdie raad toon dat Jehovah God, die Insteller van die huwelik, wil hê dat ons as sy aanbidders—hetsy ongetroud of getroud—gelukkig moet wees.