Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wanneer julle bid, sê: ‘Vader’”

“Wanneer julle bid, sê: ‘Vader’”

“Wanneer julle bid, sê: ‘Vader’”

“Vader.” Waaraan laat hierdie woord jou dink? ’n Liefdevolle, goedhartige man wat diep besorg is oor die welsyn van sy gesin? Of ’n nalatige, moontlik selfs hardvogtige man? Dit hang baie af van die soort persoon wat jou vader was.

“VADER” was die woord wat Jesus dikwels gebruik het wanneer hy met en van God gepraat het. * Toe hy sy volgelinge leer bid het, het Jesus gesê: “Wanneer julle bid, sê: ‘Vader’” (Lukas 11:2). Maar watter soort vader is Jehovah? Die antwoord op hierdie vraag is uiters belangrik. Waarom? Hoe beter ons verstaan watter soort vader Jehovah is, hoe nader sal ons aan hom kom en hoe liewer sal ons vir hom wees.

Niemand is meer bevoeg om ons van ons hemelse Vader te vertel as Jesus self nie. Hy het ’n hegte verhouding met sy Vader geniet. Jesus het gesê: “Niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader, en ook ken niemand die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Matteus 11:27). Die beste manier om die Vader te leer ken, is dus deur middel van die Seun.

Wat kan ons by Jesus oor ons hemelse Vader leer? Dink aan hierdie verklaring wat Jesus gemaak het: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Jesus se woorde identifiseer ons hemelse Vader se hoofeienskap—liefde (1 Johannes 4:8). Jehovah openbaar sy liefde op verskillende maniere, soos deur sy goedkeuring, medelye, beskerming en dissipline, sowel as deur in ons behoeftes te voorsien.

Verseker van ons Vader se goedkeuring

Ouers se goedkeuring versterk en bemoedig kinders. Dink net hoe dit Jesus moes bemoedig het toe hy sy Vader hoor sê het: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Op sy beurt verseker Jesus ons dat die Vader ons liefhet en goedkeur. “Hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê”, het Jesus gesê (Johannes 14:21). Hoe vertroostend tog! Daar is egter iemand wat jou van daardie vertroosting wil beroof.

Satan probeer twyfelgedagtes in ons verstand saai oor ons hemelse Vader se goedkeuring. Hy wil ons daarvan oortuig dat ons dit nie waardig is nie. Hy doen dit dikwels wanneer ons op ons kwesbaarste is—siek, swak of bejaard of wanneer dit voel of ons deur mislukkings en teleurstellings oorweldig word. Kyk na die voorbeeld van ’n jong man genaamd Lucas, wat nie gedink het dat hy God se goedkeuring waardig is nie. Lucas vertel dat sy ouers drasties verander het toe hy nog jonk was en baie van die waardes verwerp het wat hulle hom geleer het. Dit is dalk waarom hy dit moeilik gevind het om ’n verhouding met sy hemelse Vader te hê. En omdat Lucas ’n impulsiewe geaardheid het, het hy dikwels in die moeilikheid beland, veral in sy verhoudings met ander. Maar sy geduldige en bemoedigende vrou—wat Lucas as “’n spesiale seën, ’n gawe van God” beskryf—het hom geleidelik gehelp om sy impulsiewe geaardheid te beteuel. Lucas het begin besef dat “Christus Jesus in die wêreld ingekom het om sondaars te red” (1 Timoteus 1:15). Lucas sê dat hy oor God se liefde en goedkeuring gepeins het, en dit het hom ’n gevoel van persoonlike geluk en tevredenheid gegee.

As jy soms twyfel of Jehovah jou kan liefhê of goedkeur, sal jy dit dalk bemoedigend vind om Romeine 8:31-39 te lees en daaroor te peins. Daar verseker die apostel Paulus ons dat niks ons “kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie”. *

’n Vader van tere medelye

Ons hemelse Vader is bewus van ons lyding. Hy is ’n God van “tere medelye” (Lukas 1:78). Jesus het sy Vader se medelye vir onvolmaakte mense weerspieël (Markus 1:40-42; 6:30-34). Ware Christene probeer ook om hulle hemelse Vader se medelye na te volg. Hulle slaan ag op die Bybel se vermaning om “goedhartig teenoor mekaar [te word], vol tere medelye”.—Efesiërs 4:32.

Dink na oor die ondervinding van ’n man genaamd Felipe. Eendag, op pad werk toe, het hy skielik ’n skerp pyn gevoel, asof hy in die rug gesteek is. Hy is dadelik na ’n hospitaal geneem. Nadat die dokters hom agt uur lank ondersoek het, het hulle uiteindelik vasgestel dat die binneste lagie van sy aorta geskeur het. Hulle het gesê dat hy net 25 minute oorhet om te lewe en dat dit nie die moeite werd is om te opereer nie.

Sommige van Felipe se medeaanbidders was daar, en hulle medelye het hulle tot aksie beweeg. Hulle het dadelik gereël dat hy na ’n ander hospitaal oorgeplaas word, waar ’n noodoperasie uitgevoer is, en hulle het by hom gebly totdat die operasie klaar was. Gelukkig het Felipe die ondervinding oorleef. Wanneer hy terugdink aan wat met hom gebeur het, is hy dankbaar vir die medelye wat sy medeaanbidders geopenbaar het. Felipe is egter daarvan oortuig dat sy hemelse Vader hulle beweeg het om medelydend te wees. “Dit was asof God, soos ’n liefdevolle vader, langs my gestaan het om my te versterk”, sê Felipe. Ja, Jehovah openbaar dikwels sy medelye deur sy knegte op aarde te beweeg om hierdie eienskap te weerspieël.

Ons vader bied beskerming

Wanneer ’n klein kindjie besef dat daar gevaar is, sal hy dalk na sy vader hardloop vir beskerming. ’n Kind voel veilig wanneer sy vader hom liefdevol in sy arms hou. Jesus het ten volle op Jehovah as ’n beskermer vertrou (Matteus 26:53; Johannes 17:15). Ons kan ook veiligheid vind in die beskerming wat ons hemelse Vader bied. Die beskerming wat Jehovah nou bied, is hoofsaaklik geestelik van aard. Met ander woorde, hy beskerm ons teen geestelike skade deur ons toe te rus met wat ons nodig het om gevaar te vermy en ons vriendskap met hom te bewaar. Een manier waarop hy beskerming bied, is deur middel van Bybelse raad. Wanneer ons sulke raad ontvang, is dit asof Jehovah agter ons loop en sê: “Dit is die weg. Wandel daarop.”—Jesaja 30:21.

Beskou die voorbeeld van Tiago en sy broers Fernando en Rafael, wat lede van ’n ruk-en-rol-groep was. Hulle was baie opgewonde toe hulle gekies is om by een van die beroemdste konsertsale in São Paulo, Brasilië, te speel. Dit het gelyk of sukses vir hulle wink. Maar ’n medeaanbidder het hulle gewaarsku teen die gevare van noue omgang met diegene wie se lewenswyse minagting vir God se weë openbaar (Spreuke 13:20). Hy het hierdie Bybelse raad beklemtoon deur vir hulle sy ondervinding te vertel. Sy eie broer het hom aan goddelose gedrag skuldig gemaak omdat hy met die verkeerde mense geassosieer het. Tiago en sy broers het besluit om hulle musiekloopbaan prys te gee. Hulle al drie is nou in die voltydse Christelike bediening. Hulle is daarvan oortuig dat hulle teen geestelike skade beskerm is omdat hulle op die raad van God se Woord ag geslaan het.

Ons hemelse Vader dissiplineer ons

’n Liefdevolle vader dissiplineer sy kinders, want hy is besorg oor die soort mense wat hulle sal word (Efesiërs 6:4). So ’n vader is dalk ferm, maar hy is nooit hardvogtig wanneer hy sy kinders dissiplineer nie. So ook is dit dalk soms vir ons hemelse Vader nodig om ons te dissiplineer. Maar God se dissipline word altyd in liefde gegee en is nooit wreed nie. Soos sy Vader, was Jesus nooit hardvogtig nie, nie eers wanneer sy dissipels stadig op nodige teregwysing gereageer het nie.—Matteus 20:20-28; Lukas 22:24-30.

Let op hoe ’n man genaamd Ricardo tot die besef gekom het dat hy liefdevol deur Jehovah gedissiplineer is. Ricardo se vader het hom verlaat toe hy net sewe maande oud was. In sy tienerjare het Ricardo die afwesigheid van ’n vader sterk aangevoel. Hy het by slegte gebruike betrokke geraak, en sy gewete het hom baie begin pla. Hy het besef dat hy nie in ooreenstemming met die sedelike standaarde vir Christene lewe nie en het besluit om met die ouer manne in sy gemeente te praat. Die ouer manne het hom ferm maar liefdevolle Bybelse raad gegee. Ricardo het die dissipline waardeer, maar hy het kwaai gely as gevolg van wat hy gedoen het—slapelose nagte, trane en depressie. Uiteindelik het hy besef dat die dissipline wat hy ontvang het, ’n bewys is dat Jehovah hom nog steeds liefhet. Ricardo het gedink aan die woorde in Hebreërs 12:6, wat sê: “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet.”

Dit is goed om in gedagte te hou dat daar meer by dissipline betrokke is as om iemand te straf of vir ’n oortreding tereg te wys. Die Bybel verbind ook dissipline met opleiding. Soms sal ons liefdevolle hemelse Vader ons dus dissiplineer deur toe te laat dat ons ’n ruk lank die onaangename gevolge van ons foute dra. Tog sê die Bybel dat sy dissipline ons oplei en ons help om ’n regte weg te volg (Hebreërs 12:7, 11). Ja, ons Vader is werklik besorg oor ons welsyn en dit is vir ons eie beswil dat hy ons teregwys.

Ons Vader voorsien in ons fisiese behoeftes

’n Liefdevolle vader streef daarna om in die fisiese en materiële behoeftes van sy gesin te voorsien. Dieselfde kan van Jehovah gesê word. “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het”, het Jesus gesê (Matteus 6:25-34). Jehovah belowe: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Hebreërs 13:5.

’n Vrou genaamd Nice het besef hoe waar hierdie woorde is toe haar man sy werk verloor het. Sy het kort tevore uit haar goed besoldigde werk bedank sodat sy meer tyd aan haar twee dogters en haar diens aan God kan wy. Maar hoe sou hulle nou die pot aan die kook hou? Sy het tot Jehovah gebid. Net die volgende dag het haar man na sy werksplek gegaan om sy besittings te gaan haal. Tot sy verbasing het sy bestuurder vir hom gesê dat ’n ander pos oopgegaan het, en hy het dit vir hom aangebied! Nice se man het dus sy werk die een dag verloor en dit die volgende dag teruggekry. Nice en haar man het hulle hemelse Vader gedank dat sake so goed afgeloop het. Hulle ondervinding herinner ons daaraan dat Jehovah, as ons liefdevolle Voorsiener, nooit van sy getroue knegte vergeet nie.

Toon waardering vir ons Vader se liefde

Ja, woorde kan nie die wonderlike liefde van ons hemelse Vader beskryf nie! Wanneer ons dink aan die verskillende maniere waarop hy sy vaderlike liefde openbaar—deur sy goedkeuring, medelye, beskerming en dissipline sowel as deur in ons behoeftes te voorsien—besef ons ongetwyfeld dat hy die beste Vader denkbaar is!

Hoe kan ons ons waardering toon vir die liefde wat ons hemelse Vader teenoor ons betoon het? Ons kan ons inspan om meer oor hom en sy voorneme te leer (Johannes 17:3). Ons kan ons lewe in ooreenstemming met sy wil en weë bring (1 Johannes 5:3). Ons kan sy liefde weerspieël in die manier waarop ons ander behandel (1 Johannes 4:11). Sodoende kan ons toon dat ons Jehovah as ons Vader beskou en dat dit vir ons ’n eer is om sy kinders te wees.

[Voetnote]

^ par. 3 Jehovah se vaderskap is ’n vername tema in die Skrif. Byvoorbeeld, Jesus het die woord “Vader” ongeveer 65 keer in die eerste drie Evangelies en meer as 100 keer in Johannes se Evangelie gebruik. Ook Paulus noem God “Vader” meer as 40 keer in sy briewe. Jehovah is ons Vader in die sin dat hy die Bron van ons lewe is.

^ par. 9 Sien hoofstuk 24, “Niks kan ons ‘skei van God se liefde nie’”, van die boek Kom nader aan Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 19]

Hoe beter ons verstaan watter soort vader Jehovah is, hoe nader sal ons aan hom kom en hoe liewer sal ons vir hom wees

[Lokteks op bladsy 22]

Ons kan toon dat ons Jehovah as ons Vader beskou en dat dit vir ons ’n eer is om sy kinders te wees

[Venster/Prente op bladsy 21]

JEHOVAH OPENBAAR SY VADERLIKE LIEFDE OP VERSKILLENDE MANIERE

GOEDKEURING

MEDELYE

BESKERMING

DISSIPLINE

VOORSIEN IN FISIESE BEHOEFTES