Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is die Hoorder van gebed?

Wie is die Hoorder van gebed?

Wie is die Hoorder van gebed?

AS DAAR ’n Hoorder van gebed is, moet hy logieserwys die Skepper wees. Wie anders as die Een wat die mensebrein ontwerp het, kan jou gedagtes lees? Wie anders kan gebede verhoor en die mensdom die hulp gee wat hulle nodig het? Maar jy wonder dalk: ‘Is dit redelik om aan ’n Skepper te glo?’

Baie mense dink dat ’n mens die bewyse van die moderne wetenskap moet ignoreer om aan ’n Skepper te glo. Maar die veronderstelling dat geloof in God onverenigbaar is met die wetenskap, is eenvoudig nie waar nie. Kyk na die volgende.

▪ In ’n onlangse studie onder 1 646 wetenskapprofessors aan 21 vooraanstaande universiteite in die Verenigde State het net ’n derde die stelling “Ek glo nie aan God nie” gekies om hulle beskouing te beskryf.

Ja, daar is wel wetenskaplikes wat in die bestaan van God glo.

Bewys van ’n Skepper

Moet ons, sonder om bewyse te hê, aanvaar dat die Hoorder van gebed bestaan? Glad nie. Die beskouing dat geloof beteken dat ’n mens glo sonder om bewyse te hê, is ’n wanopvatting. Die Bybel definieer geloof as “die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). ’n Ander vertaling sê geloof “maak ons seker van werklikhede wat ons nie sien nie” (The New English Bible). Jy kan byvoorbeeld nie radiogolwe sien nie, maar jou selfoon lewer duidelike bewys van die bestaan van hierdie onsigbare golwe wat stemme oorsein; daarom aanvaar jy dat sulke golwe bestaan. So ook kan ons nie die Hoorder van gebed sien nie, maar ons kan beskikbare bewyse ondersoek wat ons daarvan kan oortuig dat hy moet bestaan.

Waar kan ons bewyse vind dat God bestaan? Ons hoef maar net om ons te kyk. Die Bybel redeneer soos volg: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Stem jy saam met die logika van hierdie verklaring? Wanneer jy nadink oor die orde van die heelal, die oorsprong van lewe of die ontwerp van die mees komplekse struktuur op aarde, naamlik die mensebrein, kom jy dalk tot die gevolgtrekking dat iets hoërs as die mens moet bestaan. *

Ons kan egter nie alles omtrent God uit die skepping leer nie. Om bewyse van God in die skepping waar te neem, is soos om iemand se voetstappe agter ’n toe deur te hoor. Jy weet dat iemand daar is, maar wie is dit? Om uit te vind, moet jy die deur oopmaak. Ons moet iets soortgelyks doen om die Persoon te identifiseer wat vir die skepping verantwoordelik is.

Die Bybel is soos ’n deur wat tot kennis van God lei. Wanneer jy daardie deur oopmaak en van die gedetailleerde profesieë daarin en hulle vervullings ondersoek, sal jy bewyse vind dat God bestaan. * Maar selfs belangriker, die rekord van God se handelinge met mense openbaar die persoonlikheid van die Hoorder van gebed.

Watter soort persoon is die Hoorder van gebed?

Die Bybel openbaar dat die Hoorder van gebed ’n persoon is—iemand wat jy kan ken. Net ’n persoon kan tog sekerlik met begrip luister. Dit is gerusstellend om te lees: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom” (Psalm 65:2). Hy hoor diegene wat in geloof tot hom bid. En hy het ’n naam. Die Bybel sê: “Jehovah is ver van die goddeloses af, maar die gebed van die regverdiges hoor hy.”—Spreuke 15:29.

Jehovah het gevoelens. Hy is “die God van liefde” en word “die gelukkige God” genoem (2 Korintiërs 13:11; 1 Timoteus 1:11). Die Bybel beskryf sy gevoelens toe boosheid hoogty gevier het soos volg: “Hy het gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:5, 6). Die bewering dat God lyding veroorsaak om mense te toets, is nie waar nie. Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel” (Job 34:10). Nietemin wonder jy dalk: ‘As God die almagtige Skepper is, waarom laat hy toe dat lyding voortduur?’

Jehovah het die mensdom die vermoë gegee om wilsvryheid uit te oefen, en dit leer ons iets oor watter soort persoon God is. Beskou ons ons vryheid om te kies hoe ons wil lewe nie as iets kosbaars nie? Maar ongelukkig misbruik baie mense hulle vryheid en bring hulle lyding oor hulleself en ander. Hier is ’n vraag waaroor ’n mens regtig goed moet nadink: Hoe kan God lyding uit die weg ruim sonder om die mens sy vryheid te ontneem? Ons sal hierdie vraag in die volgende artikel bespreek.

[Voetnote]

^ par. 8 Vir ’n breedvoeriger bespreking van die bewyse van God se bestaan, sien die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, wat albei deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

^ par. 10 Die brosjure ’n Boek vir alle mense en die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? word deur Jehovah se Getuies uitgegee om jou te help om die bewyse te ondersoek dat die Bybel deur God geïnspireer is.

[Venster op bladsy 5]

Laat godsdiens twyfel by jou ontstaan?

Ongelukkig is dit godsdiens wat twyfel by mense laat ontstaan of daar wel ’n medelydende Hoorder van gebed is. Godsdiens se betrokkenheid by oorlog, terrorisme en die toelating van kindermishandeling het daartoe gelei dat selfs mense van gebed sê: “Ek glo nie aan God nie.”

Waarom is godsdiens dikwels ’n invloed ten kwade? Eenvoudig gestel: Slegte mense het slegte dinge in die naam van godsdiens gedoen. Die Bybel het voorspel dat sekere magte beheer sou oorneem oor die Christelike godsdiens en dit vir bose doeleindes sou gebruik. Die apostel Paulus het vir Christenopsieners gesê: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”—Handelinge 20:29, 30.

God verafsku valse godsdiens. Trouens, God se Woord die Bybel hou valse godsdiens verantwoordelik vir “die bloed van . . . almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 18:24). Omdat valse godsdiens mense nie geleer het oor die ware God nie, wie se hoofeienskap liefde is, is daardie godsdienste bloedskuldig in God se oë.—1 Johannes 4:8.

Die Hoorder van gebed het medelye met die slagoffers van onderdrukkende godsdienste. God se liefde vir die mensdom sal hom binnekort beweeg om alle godsdienshuigelaars deur middel van Jesus te oordeel. Jesus het gesê: “Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer . . . nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:22, 23.