Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAAROM het ’n man wat in ’n streng Katolieke gesin grootgemaak is en ’n suksesvolle loopbaan in wetstoepassing gehad het, een van Jehovah se Getuies geword? Wat het ’n terroris beweeg om nie meer gewelddadig te wees nie en ’n godsdiensbedienaar te word? Lees wat hierdie persone te sê het.

‘Ek het ’n dieper begrip verkry van wat reg en verkeerd is.’—SEBASTIÃO ALVES JUNQUEIRA

GEBORE: 1946

GEBOORTELAND: BRASILIË

GESKIEDENIS: REGTER

MY VERLEDE: My gesin het op die platteland gewoon, sowat ses kilometer van die dorp Piquete af. My ouers het ’n klein plaas gehad, en dit het in ons basiese behoeftes voorsien. Omdat ek in Piquete skoolgegaan het, het ek uiteindelik ’n ou fiets gekoop, wat dit makliker gemaak het om in die dorp te kom. Hoewel die mense in ons gebied arm was, was die dorp skoon en het dit ’n redelik lae misdaadsyfer gehad. Die meeste van die mans in die dorp het in ’n fabriek gewerk wat wapens vir die weermag gemaak het.

Ek was leergierig en het by die Militêre Skool vir Lugvaartkunde in ’n nabygeleë stad ingeskryf, waar ek in 1966 as ’n sersant gegradueer het. Daarna het ek in die regte gestudeer en my regsgraad verwerf. Later het ek vir die pos van polisiehoof aansoek gedoen. In 1976 het ek ’n staatstoets geslaag en is ek vir die pos gekies. Soms het ek ook as ’n administrateur by die tronk gewerk. Gedurende hierdie tyd het Jehovah se Getuies dikwels toestemming kom vra om vir die gevangenes te getuig. Hulle het ook altyd met my oor ’n Bybelboodskap gepraat. Ek het groot respek vir God gehad. Dit het ’n indruk op my gemaak toe ek leer dat God ’n naam, Jehovah, het en dat ons ’n vriendskap met hom kan opbou.

Ek het geleidelik vooruitgang in my regsloopbaan gemaak. In 1981 het ek nog ’n staatseksamen geslaag en is ek as ’n regter in die staat aangestel. En in 2005 is ek as ’n appèlregter in die hof van São Paulo aangestel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Kort nadat ek as ’n regstudent gegradueer het, het ek die Bybel begin lees—iets wat my denke grootliks verander het. Ek was streng Katoliek. Ons het priesters en ’n biskop in ons familie gehad, en ek het die priester gedurende die mis gehelp. Voor hy ’n preek gehou het, het ek toegewese dele uit die gebedeboek gelees. Dit was nie algemeen in Katolieke huisgesinne om die Bybel te lees nie. My ma was baie ontsteld toe sy uitvind dat ek die Bybel lees. Sy het my probeer ontmoedig om dit te doen en gesê dat ek van my kop af sou raak. Nietemin het ek aanhou lees; ek kon nie sien hoe dit my kon benadeel nie.

Ek dink ek het aangehou om die Bybel te lees omdat ek nuuskierig was. Ek wou meer weet oor priesters en hulle rol in die kerk. Ek het ook oor die bevrydingsteologie begin lees, maar die redenasies en logika van hierdie beweging se voorstanders was so swak dat ek dit glad nie kon verstaan nie.

Terselfdertyd het my tandarts, ’n Boeddhis, my ’n boek aangebied wat iemand vir hom gegee het. Die titel van die boek was Did Man Get Here by Evolution or by Creation? * Ek het die boek geneem en gedink dat dit interessant sou wees om dit saam met The Origin of Species, deur Charles Darwin, te lees. Die redenasies in Did Man Get Here by Evolution or by Creation? was kragtig, logies en oortuigend. Daar het geen twyfel by my bestaan dat die evolusieteorie ongegrond is nie.

Die boek oor die skepping het my selfs nuuskieriger gemaak. Ek wou nog boeke in die hande kry wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Ek het uitgevind dat ’n werktuigkundige by die lugvaartskool een van Jehovah se Getuies is. Ek het met hom gesels, en hy het vir my ’n paar boeke gegee om te lees. Op daardie stadium het ek nie die aanbod aanvaar om die Bybel met die Getuies te studeer nie. Ek het gedink dat ek dit op my eie kon doen.

Aangesien ek reeds getroud was toe ek die Bybel begin lees het, het ek gedink dat dit goed sou wees om dit saam met my gesin te lees. Ons het elke week ’n gesinstudie gehad en die Bybel saam gelees. As Katolieke het my familie se lewens om die priesters en biskoppe gedraai. Wat ek in Johannes 14:6 gelees het, het my dus opgeval: “Jesus het vir hom [die dissipel Tomas] gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.’” Nadat ek die onderwerp deeglik ondersoek het, was ek oortuig dat ons redding van Jehovah deur Jesus kom. Ons is wysgemaak dat ons redding van die priesters kom.

Twee ander Skrifgedeeltes het my gesindheid teenoor die Katolieke Kerk en sy leringe verander. Een daarvan is Spreuke 1:7, wat sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van kennis. Net dwase verag wysheid en dissipline.” En die ander een is Jakobus 1:5, wat sê: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word.” Ek het ’n onlesbare dors na kennis en wysheid gehad, en dit is nie bevredig wanneer ek kerkdienste bygewoon het nie. Ek het dus opgehou om kerk toe te gaan.

In 1980 het my vrou die Bybel met die Getuies begin studeer. Wanneer ek ook al by die huis was, het ek die studie bygewoon. Mettertyd het ek ’n Bybelstudie aanvaar. Maar dit het lank geneem voordat ons besluit het om as Jehovah se Getuies gedoop te word. My vrou is in 1994 gedoop en ek in 1998.

HOE EK BAAT GEVIND HET: My vier kinders het daarby baat gevind omdat hulle van kleins af geleer is om volgens Jehovah se standaarde te lewe (Efesiërs 6:4). Ek het twee seuns, en hulle albei werk hard om na die geestelike behoeftes van ander Getuies om te sien in die gemeentes waaraan hulle behoort. My twee dogters preek baie ywerig vir ander. My vrou bestee elke maand baie ure daaraan om mense te help om oor die Bybel te leer, en ek geniet dit om as ’n ouer man in die plaaslike gemeente te dien.

Toe ek een van Jehovah se Getuies geword het, het ek ’n dieper begrip verkry van wat reg en verkeerd is. As ’n regter probeer ek die manier waarop Jehovah verskillende sake hanteer, in die hof toepas—ek probeer om al die omstandighede in ag te neem, redelikheid aan die dag te lê en medelydend te wees wanneer daar versagtende omstandighede is.

Ek het al met baie gevalle van geweld, misdaad en kindermishandeling sowel as ander ernstige oortredings te doen gehad. Nogtans het dit my nie ongevoelig gemaak nie. Wanneer ek na die nuus kyk, word ek gewalg deur die wydverspreide sedelike verval en verdorwenheid van hierdie wêreld. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat ek nou verstaan waarom misdaad so toeneem en dat ek ’n begrip het van ons hoop op ’n beter toekoms.

‘Die tronk het my nie gerehabiliteer nie.’—KEITH WOODS

GEBORE: 1961

GEBOORTELAND: NOORD-IERLAND

GESKIEDENIS: TERRORIS

MY VERLEDE: Ek is in 1961 in Portadown, ’n besige dorp in Noord-Ierland, gebore. Ek kom uit ’n Protestantse agtergrond, en ek het grootgeword in ’n behuisingskompleks met Katolieke sowel as Protestantse bure. Die meeste van die gesinne was betreklik arm. Geld was skaars, en ons almal het mekaar bygestaan.

Ek is nie trots op die manier waarop ek destyds my lewe gelei het nie. In 1974 het ek betrokke geraak by “The Troubles” (Die Moeilikheid) wat destyds in Noord-Ierland bestaan het. Omstreeks daardie tyd het die situasie in ons gemeenskappe vererger. Byvoorbeeld, een aand was my pa, ’n bestuurder van die Ulster-tapytfabriek, by die werk terwyl hy twee jong Katolieke seuns wat langs ons in ons behuisingskompleks gewoon het, opgelei het. Intussen het iemand ’n bom deur die sitkamervenster van die Katolieke seuns se woning gegooi, en hulle pa, ma en broer het gesterf.

Probleme het toegeneem en openlike oorlog het uitgebreek. Protestante wat in Katolieke gebiede gewoon het, moes trek omdat hulle huise aan die brand gesteek is, en Katolieke in Protestantse gemeenskappe is geteister. Ons kompleks het meestal Protestants geword. Dit was nie lank voordat ek gearresteer en tot drie jaar tronkstraf gevonnis is weens my betrokkenheid by bomaanvalle nie.

Terwyl ek in die tronk was, het ek goeie vriende geword met ’n gevangene wat welbekend was in die lojalistegemeenskap. Ons was soos broers, en later was ek die stooijonker by sy troue. Die tronk het nie een van ons gerehabiliteer nie. Toe ons vrygelaat is, het ons onmiddellik ons politieke bedrywighede voortgesit, maar dié keer op ’n groter skaal. Gevolglik het my vriend weer in die tronk beland. Terwyl hy in die tronk was, is hy vermoor.

Ek het ook ’n teiken geword, en my motor is eenkeer opgeblaas. Maar hierdie gebeure het my net meer vasbeslote gemaak om die kampanje vir “God en Ulster” te ondersteun.

Gedurende hierdie tyd was ek betrokke by ’n dokumentêre program oor “The Troubles”, wat op Britse televisie uitgesaai is. Die program het verdere probleme vir my geskep. Byvoorbeeld, ek het een aand huis toe gegaan en ontdek dat my vrou my verlaat het. Kort daarna is my seun van my af weggeneem as gevolg van die TV-program. Ek onthou nog hoe ek in ’n spieël gekyk en gesê het: “As daar iewers ’n God is, help my.”

Die volgende Saterdag het ek Paul, ’n kennis wat een van Jehovah se Getuies geword het, raakgeloop. Hy het met my oor die Bybel begin praat. Twee dae later het Paul vir my ’n eksemplaar van Die Wagtoring gestuur. ’n Artikel in daardie tydskrif het Jesus se woorde in Johannes 18:36 aangehaal. Hy het gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.” Hierdie woorde het my diep getref. Dit was die dag dat my lewe begin verander het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Paul het die Bybel met my begin studeer. Later het Bill, ’n ander Getuie, die studie voortgesit. Ek weet dat ek ’n moeilike student was; ek het so baie vrae gehad! Ek het ook talle godsdiensbedienaars na my huis genooi om Bill verkeerd te bewys. Maar die waarheid van God se Woord het geseëvier.

Ek onthou dat ek eenkeer vir Bill gesê het om nie vir die studie na my huis te kom nie omdat daar padblokkades om die kompleks was en sy motor beslis gekonfiskeer en verbrand sou word. Maar Bill het soos gewoonlik vir die studie gekom. Hy het sy motor by die huis gelos en met sy fiets gery. Wie sou dít nou wou konfiskeer? ’n Ander keer het ek en Bill die Bybel in my huis gesit en studeer toe die polisie en die weermag gekom het om my te arresteer. Terwyl hulle my weggeneem het, het Bill uitgeroep dat ek op Jehovah moet vertrou. Hierdie gebeure het ’n groot indruk op my gemaak.

Toe ek die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal bywoon, was my voorkoms vir party van die mense daar seker baie skokkend. Ek het lang hare gehad, en ek het ’n oorring gedra, sowel as ’n kenmerkende leerbaadjie wat my as ’n politieke aktivis geïdentifiseer het. Ek kon egter nie glo hoe goed die Getuies my behandel het nie. Hulle vriendelikheid het my werklik beïndruk.

Hoewel ek die Bybel studeer het, het ek nog steeds met my ou vriende omgegaan. Maar uiteindelik het die waarhede wat ek uit die Bybel geleer het, dieper in my hart ingesink. Ek het besef dat ek my politieke beskouings en omgang moet verander as ek Jehovah wil dien. Dit was nie maklik nie. Maar namate ek meer oor die Bybel geleer en krag van Jehovah ontvang het, was ek in staat om veranderinge te maak. Ek het my hare gesny, van my oorring ontslae geraak en ’n pak klere gekoop. Wat ek geleer het, het ook my gesindheid teenoor ander mense begin verbeter.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek was ’n misdadiger en ’n terroris. Die wetstoepassingsgroepe in die gemeenskap het my goed geken. Dinge het nou verander. Byvoorbeeld, toe ek my eerste streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het, wat in die dorp Navan gehou is, het die wetstoepassingsowerheid my heen en weer, van Noord-Ierland na Ierland, begelei. Maar nou reis ek sonder begeleiding na streekbyeenkomste. Ek neem ook nou vryelik saam met my mede-Getuies Paul en Bill sowel as die res van die gemeente aan die predikingswerk deel.

Namate my lewe ten goede verander het, het ek my plek in die gemeente gevind. Daar het ek ’n Getuie met die naam Louise ontmoet, en ons is later getroud. Wat meer is, ek en my seun is herenig.

Wanneer ek op my lewe terugkyk, is ek spyt dat ek ander skade berokken het. Maar ek kan bevestig dat die Bybel werklik mense soos ek in staat stel om ’n dwaalweg te verlaat en ’n lewe te lei wat gekenmerk word deur doelgerigtheid en hoop.

[Voetnoot]

^ par. 12 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Lokteks op bladsy 12]

My ma was baie ontsteld toe sy uitvind dat ek die Bybel lees