Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waar het die edelstene in die borsstuk van Israel se hoëpriester vandaan gekom?

Nadat die Israeliete Egipte verlaat en in die wildernis ingegaan het, het God hulle beveel om hierdie borsstuk te maak (Eksodus 28:15-21). Die stene in die borsstuk was robyn, topaas, smarag, turkoois, saffier, jaspis, lesjem, agaat, ametis, chrisoliet, oniks en niersteen. * Was dit werklik vir die Israeliete moontlik om daardie soort edelstene in die hande te kry?

In Bybeltye was edelstene gesog en het mense daarmee handel gedryf. Die eertydse Egiptenaars het byvoorbeeld edelstene van plekke so ver as die hedendaagse Iran, Afganistan en moontlik selfs Indië gekry. Egiptiese myne het ’n aantal verskillende edelstene ontgin. Die Egiptiese monarge het ’n monopolie gehad op die ontginning van delfstowwe in die gebiede onder hulle beheer. Die aartsvader Job het beskryf hoe sy tydgenote van skagte en ondergrondse gange gebruik gemaak het om na skatte te soek. Van die delfstowwe wat ontgin is, word saffier en topaas spesifiek deur Job genoem.—Job 28:1-11, 19.

Die Eksodus-verslag sê dat die Israeliete “die Egiptenaars gestroop” het van hulle kosbaarhede toe hulle die land verlaat het (Eksodus 12:35, 36). Dit is dus moontlik dat die Israeliete die stene wat hulle vir die hoëpriester se borsstuk gebruik het, in Egipte gekry het.

Waarom is wyn in Bybeltye as ’n geneesmiddel gebruik?

Jesus het in een van sy gelykenisse gepraat van ’n man wat deur rowers aangerand is. Jesus het gesê dat die man deur ’n Samaritaan gehelp is wat sy wonde verbind het en “olie en wyn daarop gegooi” het (Lukas 10:30-34). Toe die apostel Paulus aan sy vriend Timoteus geskryf het, het hy hom die volgende raad gegee: “Moenie langer water drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde gevalle van siekte” (1 Timoteus 5:23). Is die gebruik wat Jesus beskryf het sowel as die aanbeveling wat Paulus gemaak het, goeie mediese raad?

Die boek Ancient Wine beskryf wyn as “’n pynstiller, ’n ontsmettingsmiddel sowel as ’n algemene geneesmiddel”. In die ou tyd het wyn ’n belangrike rol gespeel in Egiptiese, Mesopotamiese en Siriese mediese behandeling. The Oxford Companion to Wine beskryf dit as “die mens se oudste gedokumenteerde geneesmiddel”. Wat Paulus se raad aan Timoteus betref, sê die boek The Origins and Ancient History of Wine: “In eksperimente is daar getoon dat lewende tifus en ander gevaarlike mikrobes vinnig sterf wanneer dit met wyn gemeng word.” Moderne navorsing bevestig dat party van die meer as 500 verbindings wat in wyn gevind word, hierdie en ’n aantal ander mediese voordele bied.

[Voetnoot]

^ par. 3 Dit is moeilik om vas te stel wat al daardie stene vandag genoem word.

[Prent op bladsy 26]

Kleinboere wat druiwe trap, van die graf van Nakht, Tebe, Egipte

[Erkenning]

Gianni Dagli Orti/The Art Archive at Art Resource, NY