Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kampioene van die waarheid

Kampioene van die waarheid

132ste Gileadgraduering

Kampioene van die waarheid

DIE 10de Maart 2012 was ’n spesiale dag by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York. Duisende netjies geklede mense, insluitende besoekers van ander lande, het bymekaargekom om die graduering van die 132ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Baie het die geleentheid in die ouditorium by Patterson geniet; ander het bymekaargekom om na die program op videomonitors by nabygeleë plekke te kyk. Altesaam 9 042 was teenwoordig.

Daar was groot afwagting in die lug. Anders as diegene wat vorige klasse van die sendingskool bygewoon het, was al die studente wat gegradueer het reeds in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens—óf as Betheliete, spesiale pioniers, reisende opsieners óf sendelinge—hoewel hulle nie voorheen Gilead bygewoon het nie. Wat sou daar vir hierdie ervare studente gesê word?

Die gehoor het gou genoeg uitgevind. Gerrit Lösch, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, was voorsitter van die program en het die openingstoespraak gehou. Hy het ’n gedagteprikkelende vraag gevra: “Is jy ’n kampioen?” Hy het verduidelik dat Christene kampioene van die waarheid is en al die waarhede verdedig waaruit die Christelike leer bestaan. Om voorstanders van die waarheid te wees, behels nie net dat ons mense die waarheid leer nie, maar ook dat ons mense help om die waarheid lief te hê.

“Hoe weet ons dat ons die waarheid het?”, het broer Lösch gevra. Hy het gesê dat dit nie op grond is van hoeveel mense dit aanneem nie. Hoewel daar vandag miljoene is wat rein aanbidding aangeneem het, was daar by Pinkster 33 HJ net ’n paar wat dit gedoen het. Hy het vyf dinge genoem wat toon dat ons die waarheid het: (1) Ons bly by Jesus se leringe, (2) ons het mekaar lief, (3) ons lewe volgens God se hoë sedelike standaarde, (4) ons bly neutraal ten opsigte van die geskille van hierdie wêreld en (5) ons is God se naamvolk.

“Volg instruksies en wees gehoorsaam”

Almal in die gehoor het gewonder wat aan die kom is toe Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam met ’n reistas na die rostrum loop! Die tema van sy toespraak was: “Volg instruksies en wees gehoorsaam”, gebaseer op Jesaja 50:5. Hierdie vers praat profeties van Jesus Christus en sê: “Ek was nie opstandig nie. Ek het my nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie.”

Broer Jackson het die studente aangespoor om ontvanklik te wees vir die leiding wat Jehovah deur sy heilige gees, die Bybel en sy organisasie gee. In die gelykenis van die talente, wat in Matteus 25:14-30 opgeteken is, het elke slaaf in sekere opsig dieselfde bedrag ontvang, aangesien dit ooreenkomstig elkeen se vermoë gegee is. Daar is van hulle verwag om hulle bes te doen. Twee slawe is geprys en is “goeie en getroue” slawe genoem. Getrouheid hang nie soseer van resultate af nie, maar of ’n mens instruksies volg en gehoorsaam is.

Die derde slaaf is ’n “goddelose en trae” en ’n “nikswerd” slaaf genoem. Wat was die probleem? Hy het sy talent begrawe. ’n Talent was nie ’n muntstuk nie, maar ’n gewigseenheid gelyk aan 6 000 denarii, wat 20 kilogram geweeg het. Dit is omtrent hoe swaar iemand se tas mag wees wat per vliegtuig reis. Dit sou inspanning geverg het om iets so groot soos ’n reistas te begrawe. Die slaaf het wel iets gedoen—hy het die talent begrawe—maar dit was nie wat hy aangesê is om te doen nie. ’n Sendeling is dalk ook besig—maar besig met wat? Om nuusbriewe te skryf, op die Internet rond te snuffel, te kuier of sake te doen? So iemand is dalk aan die einde van die dag heeltemal pootuit ná al hierdie bedrywighede, maar hy het nie gedoen wat hy aangesê is om te doen nie. Broer Jackson het ten slotte gesê: “Volg altyd instruksies!”

“Raak ontslae van twyfelgedagtes”

Dit was die tema van die toespraak wat Anthony Morris van die Bestuursliggaam gehou het. “Die Bybel sê nooit dat geloof en twyfel hand aan hand gaan nie”, het hy gesê. “Geloof verdryf twyfel.” Net soos Satan dit reggekry het om twyfel in die verstand van ’n volmaakte vrou, Eva, te saai, kan hy ook twyfel in ons verstand saai. “Voed jou geloof, dan sal twyfelgedagtes wegkwyn”, het broer Morris gesê. Hy het verwys na die verslag van Petrus wat “oor die waters geloop” het, maar toe hy “na die windstorm kyk,” het hy bang geword en begin sink. Nadat Jesus hom gegryp het, het hy hom gevra: “Waarom het jy begin twyfel?” (Matteus 14:29-31). “Julle gaan baie besig wees in die voltydse diens, en ander sal dalk beïndruk wees deur alles wat julle doen, asof julle op water loop, maar wanneer storms oor julle kom, moet julle nie begin twyfel nie.”

Broer Morris het verder gesê dat dit weliswaar moeilik kan wees om stormagtige tye deur te maak, maar dat die winde uiteindelik gaan lê. Met verwysing na moeilike tye het hy die studente vermaan om te dink aan wat Paulus en Silas gedoen het toe hulle in Filippi in die tronk was. Handelinge 16:25 sê: “Maar omstreeks middernag was Paulus en Silas besig om te bid en God met sang te loof; ja, die gevangenes het hulle gehoor.” Let op: Hulle het nie net gebid nie, hulle het ook gesing. Hulle het so hard gesing dat ander gevangenes hulle kon hoor. Die meeste van ons, het broer Morris gesê, het nie geoefende stemme nie, maar ons moenie daarvan wegskram om te sing nie, veral wanneer ons deur moeilike tye gaan. Broer Morris het sy toespraak afgesluit deur die woorde van Lied 135, “Volhard tot die einde toe”, uit die liedereboek Sing vir Jehovah voor te lees.

Ander aanmoedigende toesprake

“Sal jy genoeg dae liefhê?” was die tema van die toespraak deur Robert Luccioni, van die Aankope-afdeling. Die tema is gebaseer op koning Dawid se woorde in Psalm 34:12. Broer Luccioni se toespraak het verduidelik hoe om moeilike tye die hoof te bied en nog steeds ’n goeie verhouding met Jehovah te handhaaf. Ons kan baie leer uit die verslag in 1 Samuel hoofstuk 30. Terwyl Dawid, sy manne en hulle gesinne van koning Saul gevlug het, het hulle as bannelinge in Siklag gewoon. Toe hulle gesinne deur Amalekitiese invallers gevange geneem is, het die manne David daarvoor blameer en wou hulle hom stenig. Hoe het Dawid gereageer? Hy het nie mismoedig geword nie, maar het “hom begin versterk deur middel van Jehovah sy God” (1 Samuel 30:6). Hy het Jehovah geraadpleeg, in ooreenstemming met God se leiding opgetree en die gevangenes gered. Die spreker het die studente verseker dat hulle genoeg dae sal liefhê om die goeie te sien as hulle soortgelyke vertroue in Jehovah stel en sy instruksies volg. Hulle sal genot vind in die kosbare voorreg wat aan hulle gegee is.

“Hou julle oë voor die nagwake” was die tema van die toespraak deur Micheal Burnett, een van die Gileadskoolinstrukteurs. Die Israeliete het die nag van sononder tot sonsopkoms in drie nagwake van vier uur elk verdeel. Die laaste een, van 2:00 vm. tot 6:00 vm., was die donkerste en koudste, en dit was dan die moeilikste om wakker te bly. Die psalmis het sy gedagtes besig gehou met Jehovah se woorde sodat hy nie gedurende die laaste nagwaak aan die slaap sou raak nie (Psalm 119:148). “Julle sal waaksaam moet wees”, het broer Burnett vir die studente gesê. “Julle gaan donker, ontmoedigende dae ondervind en gaan die uitwerking van die koue, liefdelose wêreld sien. Julle het ’n plan van aksie nodig.” Hy het hulle toe herinner dat hulle ingewikkelde studieprojekte moet aanpak om geestelik waaksaam te bly. Broer Burnett het die punt soos volg toegelig: “Julle bid elke dag tot Jehovah omdat julle wil hê dat hy julle vriend moet wees. Laat Jehovah dus toe om elke dag, as julle vriend, deur middel van die Bybel met julle te praat. Die nag het ver gevorder; beplan dus hoe julle julle dae sal gebruik, en op dié wyse sal julle julle oë voor die nagwake hou.”

“Opgelei vir die werk wat voorlê”, gebaseer op 1 Petrus 5:10, was die tema wat deur Mark Noumair, ’n ander Gileadinstrukteur, gekies is. Hy het die studente hierdie vraag gevra: “Waarom is julle na die Wagtoring-onderrigsentrum genooi, julle is dan reeds ervare bedienaars?” Die antwoord: “Julle is professionele bedienaars. Talle professionele mense neem verlof om klasse by te woon om hulle vaardighede te slyp. Gedurende die afgelope vyf maande het Jehovah julle ‘standvastig’ en ‘sterk’ gemaak deur julle die geleentheid te gee om sy Woord en sy organisasie deeglik te bestudeer sodat julle die groot verantwoordelikhede kan nakom wat op julle wag. Sterk houtbalke trek nie krom of skeef nie en sal ook nie onder druk oopbars nie. Die resultate van julle opleiding sal aan die lig kom terwyl julle saam met julle medebroers en -susters werk. Sal die druk julle laat skeeftrek, weg van goddelike beginsels af, of sal julle standvastig bly, heeltemal in lyn met wat julle uit God se Woord geleer het? Iets wat sterk is, kan ’n vrag dra. Hout se sterkte lê in die digte grein daarvan. Julle krag word bepaal deur die diepste vesels van julle karakter. Jehovah het julle hierheen laat kom om julle sterk en betroubaar te maak sodat julle die werk wat voorlê, kan doen. God het sy deel gedoen, en dit is ons bede dat julle julle deel sal doen en sal toelaat dat die ‘Grootse Onderrigter’ julle opleiding voltooi.”

Ondervindinge en onderhoude

Dit is altyd verkwikkend om by Gileadgraduerings te luister na wat die studente te sê het, en hierdie keer was geen uitsondering nie. Tydens een deel van die program het die studente ’n paar van hulle onlangse ondervindinge in die bediening gedemonstreer. Byvoorbeeld, ’n Franse egpaar moes op pad na die Gileadskool ses uur lank by ’n lughawe wag. By ’n restaurant in die lughawe het hulle ’n gesprek met twee mans aangeknoop wat ook vir vlugte gewag het. Toe een van die mans sê dat hy van Malawi is, het hulle in Chichewa met hom begin praat. Hy het verbaas gevra waar hulle sy taal leer praat het. Hulle het verduidelik dat hulle sendelinge in Malawi was. Toe die ander man sê dat hy van Kameroen is, het hulle tot sy verbasing na Frans oorgeslaan. Albei mans het ’n hoë dunk van Jehovah se Getuies, en die sendelinge het vir hulle getuig.

Nicholas Ahladis van die Vertaaldiensteafdeling het ’n onderhoud met twee van die studente-egpare gevoer. Een egpaar het uit Australië getrek om ’n sendingtoewysing in die oorloggeteisterde Oos-Timor te aanvaar. Die ander egpaar het Korea verlaat om in Hongkong te gaan dien. Albei egpare was gretig om terug te keer na hulle buitelandse toewysings en om toe te pas wat hulle by die skool geleer het.

Nadat diplomas aan die gegradueerdes oorhandig is, het ’n student wat die klas verteenwoordig het, ’n brief van waardering gelees vir die onderrigting wat hulle ontvang het. Daarna het broer Lösch as deel van sy slotopmerkings ’n paar pragtige spreuke genoem en gesê dat waarheid soos ’n pragtige reënboog, soos ’n oase in die woestyn en soos ’n anker in ’n stormagtige see is. “Wat ’n seën is dit tog om die waarheid te ken”, het hy gesê. “Wees ’n kampioen van die waarheid en help ander om ook kampioene te wees.”

[Tabel/Kaart op bladsy 31]

KLASSTATISTIEK

12 lande verteenwoordig

36 gemiddelde ouderdom

20 gemiddelde jare gedoop

15 gemiddelde jare in die voltydse bediening

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die klas is na die lande hieronder gestuur:

KLASTOEWYSINGS

BELIZE

BENIN

KAMBODJA

KAMEROEN

KAAP VERDE

IVOORKUS

DOMINIKAANSE REPUBLIEK

OOS-TIMOR

ECUADOR

GABOEN

GEORGIË

GUINEE

HONGKONG

LIBERIË

MADAGASKAR

MALAWI

PERU

SAMOA

SÃO TOMÉ EN PRÍNCIPE

VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

ZIMBABWE

[Prent op bladsy 31]

132ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Iap, R.; Iap, J.; Ng, T.; Ng, P.; Laurino, F.; Laurino, B.; Won, S.; Won, S.

(2) Morales, N.; Morales, M.; Zanutto, J.; Zanutto, M.; Rumph, I.; Rumph, J.; Germain, D.; Germain, N.

(3) Atchadé, Y.; Atchadé, Y.; Thomas, C.; Thomas, E.; Estigène, C.; Estigène, P.

(4) Ehrman, D.; Ehrman, A.; Bray, J.; Bray, A.; Amorim, M.; Amorim, D.; Seo, Y.; Seo, Y.

(5) Simon, J.; Simon, C.; Seale, C.; Seale, D.; Erickson, J.; Erickson, R.

(6) McCluskey, D.; McCluskey, T.; Brown, A.; Brown, V.; Mariano, D.; Mariano, C.; Loyola, Y.; Loyola, C.

(7) Rutgers, P.; Rutgers, N.; Foucault, P.; Foucault, C.; Wunjah, J.; Wunjah, E.