Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Maak dit werklik vir God saak of ek tabak gebruik of nie?

Maak dit werklik vir God saak of ek tabak gebruik of nie?

▪ ’n Opregte persoon wonder dalk oor hierdie vraag, aangesien geen wet in die Bybel van tabakprodukte melding maak nie. Beteken dit dat dit moeilik is om vas te stel wat God se beskouing van die saak is? Nee, glad nie.

Die Bybel sê dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is (2 Timoteus 3:16). Die Skrif bevat duidelike beginsels en verklarings wat toon hoe God wil hê ons na ons gesondheid moet omsien. Kom ons bespreek eerstens wat navorsers uitgevind het oor die uitwerking van tabakgebruik op die mens se gesondheid. Daarna sal ons die verband bespreek tussen Bybelbeginsels en hierdie bevindings.

Tabak benadeel ’n gebruiker se gesondheid en is ’n vername oorsaak van voorkombare sterftes. In die Verenigde State is tabakgebruik verantwoordelik vir 1 uit elke 5 sterftes. In daardie land eis dit elke jaar meer lewens as “die gesamentlike sterftes as gevolg van alkohol, dwelmmisbruik, moord, selfmoord, motorongelukke en vigs”, sê ’n verslag van die Nasionale Instituut insake Dwelmmisbruik.

Diegene wat tabak rook benadeel ander. Daar is geen veilige vlak van blootstelling aan sigaretrook nie. Nierokers wat tweedehandse rook inasem, vergroot hulle risiko om longkanker en hartkwale op te doen met tot 30 persent. In onlangse jare het dokters ’n ander gevaar geïdentifiseer wat hulle “derdehandse rook” noem. Hierdie term verwys na die chemiese stowwe wat op klere, matte en ander oppervlakke agterbly lank nadat die sigbare rook verdwyn het. Hierdie giftige chemiese stowwe benadeel die gesondheid van veral kinders en kan hulle leervermoë belemmer.

Tabak is verslawend. Dit maak die gebruiker ’n slaaf van die skadelike gewoonte. Trouens, navorsers meen dat verslawing aan nikotien, ’n belangrike chemiese stof in tabak, een van die moeilikste verslawings is om te oorkom.

Hoe hou Bybelbeginsels verband met hierdie feite? Let op die volgende:

God wil hê dat ons lewe moet respekteer. In die Wet, wat God vir die nasie Israel gegee het, het hy aangedui dat diegene wat hom wil behaag menselewe moet respekteer (Deuteronomium 5:17). Israeliete moes ’n lae muurtjie om die rand van hulle huise se dakke bou. Waarom? Die dakke was plat en is as ’n leefruimte gebruik. Die muurtjie het verhoed dat gesinslede en ander van die dak afval en beseer word of sterf (Deuteronomium 22:8). Die Israeliete moes ook seker maak dat die diere wat hulle besit, ander nie beseer nie (Eksodus 21:28, 29). Iemand wat tabak gebruik, skend die beginsels waarop daardie wette gegrond is. Hy benadeel willens en wetens sy eie gesondheid. Wat meer is, sy rokery stel die gesondheid van diegene om hom in gevaar.

God verwag dat ons hom sowel as ons naaste moet liefhê. Jesus Christus het gesê dat sy volgelinge die twee grootste gebooie moet gehoorsaam. Hulle moet God liefhê met hulle hele hart, siel, verstand en krag en hulle naaste liefhê soos hulleself (Markus 12:28-31). Aangesien lewe ’n gawe van God is, toon ’n persoon wat tabak gebruik ’n ernstige gebrek aan respek vir daardie gawe en dus ’n gebrek aan liefde vir God (Handelinge 17:26-28). Daardie persoon se gewoonte kan ander ernstige skade berokken, dus weerspreek hy enige bewering dat hy sy naaste liefhet.

God vereis dat ons onrein gewoontes vermy. Die Bybel beveel Christene om hulle van “elke verontreiniging van die vlees en die gees” te reinig (2 Korintiërs 7:1). Daar bestaan geen twyfel dat tabakgebruik ’n mens verontreinig nie. Diegene wat wil ophou rook om God te behaag, kom voor ’n groot uitdaging te staan. Maar met God se hulp kan hulle hierdie verontreinigende verslawing oorkom.