Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gesprek met ’n buurman—Gaan alle goeie mense hemel toe?

’n Gesprek met ’n buurman—Gaan alle goeie mense hemel toe?

’n Gesprek met ’n buurman—Gaan alle goeie mense hemel toe?

JEHOVAH SE GETUIES geniet dit om die Bybel met mense te bespreek. Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy graag meer weet oor enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om daaroor te vra wanneer jy weer ’n Getuie teëkom nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Markus ’n man met die naam Robert by sy huis besoek.

Wat sal diegene wat hemel toe gaan daar doen?

Markus: Wanneer jy aan die toekoms dink, sal jy sê dat dinge waarskynlik sal verbeter, sal versleg of dieselfde sal bly?

Robert: Ek dink dinge sal verbeter. Ek sien daarna uit om hemel toe te gaan om by die Here te wees.

Markus: Dis ’n wonderlike hoop. Die Bybel sê baie oor watter soort plek die hemel is en die voorreg om soontoe te gaan. Het jy al goed nagedink oor wat diegene wat hemel toe gaan, daar sal doen?

Robert: Ons sal saam met God wees en hom vir ewig loof.

Markus: Dit is beslis ’n aanloklike vooruitsig. Dit is interessant dat die Bybel nie net praat oor die voorregte wat diegene sal ontvang wat hemel toe gaan nie, maar ook oor ’n belangrike verantwoordelikheid wat hulle sal hê.

Robert: Wat is dit?

Markus: Dit is die verantwoordelikheid wat hier in Openbaring 5:10 genoem word. Hierdie vers sê: “U [Jesus] het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers.” Het jy opgemerk, Robert, watter verantwoordelikheid diegene sal hê wat hemel toe gaan?

Robert: Die vers sê dat hulle as konings oor die aarde sal heers.

Markus: Dis ’n interessante gedagte, nè?

Oor wie sal hulle heers?

Markus: Maar as diegene wat hemel toe gaan as konings gaan heers, dan moet hulle tog sekerlik oor iemand heers, nie waar nie? Van watter nut sou dit immers wees om ’n regering te hê, maar geen onderdane nie?

Robert: Ek sien jou punt.

Markus: ’n Logiese vraag is dus: Oor wie sal hulle heers?

Robert: Ons sal seker oor die mense op die aarde heers wat nog nie gesterf en hemel toe gegaan het nie.

Markus: Dit sou redelik klink—as alle goeie mense hemel toe gaan. Maar hier is nog ’n moontlikheid om te oorweeg. Is dit moontlik dat party mense—party goeie mense—nie hemel toe sal gaan nie?

Robert: Ek het nog nooit van Christene gehoor wat so iets glo nie.

Markus: Ek het die vraag gevra na aanleiding van wat ons in Psalm 37:29 lees. Sal jy asseblief hierdie vers lees?

Robert: Oukei. Dit sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”

Markus: Dankie. Het jy opgelet waar talle goeie mense sal woon?

Robert: Die vers sê dat hulle vir ewig op die aarde sal woon.

Markus: Presies—en nie net vir ’n kort tydjie nie. Let op dat die vers sê: “Hulle sal vir ewig daarop woon.”

Robert: Miskien beteken dit net dat daar altyd goeie mense op die aarde sal wees. Wanneer ons sterf en hemel toe gaan, word ons vervang deur ander goeie mense wat gebore is.

Markus: Baie mense sal die vers waarskynlik so verstaan. Maar is dit moontlik dat die vers iets heeltemal anders beteken? Beteken dit dalk dat goeie mense vir ewig op die aarde sal lewe?

Robert: Ek verstaan nie presies wat jy bedoel nie.

’n Toekomstige aardse paradys

Markus: Wel, let op wat ’n ander deel van die Bybel sê hoe die lewe in die toekoms op die aarde sal wees. Kom ons lees Openbaring 21:4. Aangaande mense wat dan sal lewe, sê die vers: “Hy [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Is dit nie ’n aanloklike vooruitsig nie?

Robert: Ja. Maar ek dink dit praat van hoe die lewe in die hemel sal wees.

Markus: Wel, dit is waar dat diegene wat hemel toe gaan, soortgelyke seëninge sal ontvang. Maar kyk net weer na die vers. Wat sê dit sal met die dood gebeur?

Robert: Dit sê dat ‘die dood nie meer daar sal wees nie’.

Markus: Presies. Jy stem ongetwyfeld saam dat iets eers moes bestaan het voordat dit nie meer daar kan wees nie.

Robert: Natuurlik.

Markus: Maar daar was nog nooit dood in die hemel nie, nè? Dis net hier op die aarde waar mense sterf.

Robert: Hmm. Ek sal daaroor moet dink.

Markus: Wel, Robert, die Bybel leer dat sommige goeie mense hemel toe sal gaan, maar dat baie ander vir ewig hier op die aarde sal lewe. Trouens, ek is seker jy het al hierdie bekende woorde gehoor: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Matteus 5:5, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Robert: Ja, ek het daardie vers al dikwels in die kerk gehoor.

Markus: As die sagmoediges die aarde beërf, beteken dit dan nie dat mense op die aarde sal lewe nie? Diegene wat op die aarde lewe, sal die seëninge geniet wat in Openbaring voorspel word. Hulle sal sien hoe ons wêreld heeltemal verander word omdat God alle slegte dinge uit die weg sal ruim—selfs die dood.

Robert: Ek verstaan wat jy bedoel, maar ek is nie seker of net een of twee Bybelverse jou punt bewys nie.

Markus: Natuurlik nie. Daar is eintlik ’n aantal tekste wat beskryf hoe die lewe in die toekoms hier op die aarde sal wees. Miskien kan ek vir jou een van my gunstelingtekste wys as jy nog tyd het?

Robert: Ja, ek het ’n paar minute.

“Die goddelose sal daar nie meer wees nie”

Markus: Ons het vroeër vers 29 van Psalm 37 gelees. Kom ons gaan terug na daardie psalm. Hierdie keer sal ons verse 10 en 11 lees. Sal jy dit asseblief lees?

Robert: Sekerlik. “En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”

Markus: Dankie. Kyk na vers 11, waar sal “die sagmoediges”, of goeie mense, woon?

Robert: Dit sê hulle “sal die aarde besit”. Maar ek dink dat hierdie vers op ons tyd van toepassing is; goeie mense woon immers vandag op die aarde.

Markus: Dis waar. Maar let op dat die vers ook sê dat goeie mense ’n “oorvloed van vrede” sal geniet. Daar is nie vandag baie vrede in die wêreld nie, is daar?

Robert: Nee, daar is nie.

Markus: Hoe sal die belofte dan vervul word? Miskien kan ek hierdie vergelyking gebruik: Stel jou voor dat jy ’n woonstelgebou besit. Party van die huurders is goeie mense—hulle kyk na hulle woonstel en probeer om goeie bure te wees. Jy is bly om hulle as huurders te hê. Maar ander is slegte huurders; hulle beskadig die eiendom en maak die lewe onaangenaam vir hulle bure. Wat sal jy doen as daardie slegte huurders weier om te verander?

Robert: Ek sal hulle laat uitsit.

Markus: Dit is presies wat God met die slegte mense gaan doen wat vandag lewe. Kyk weer na vers 10. Dit sê: “Die goddelose sal daar nie meer wees nie.” Met ander woorde, God sal diegene “uitsit” wat die lewe vir ander moeilik maak. Dan sal goeie mense die lewe op die aarde in vrede kan geniet. Ek besef dat hierdie gedagte van goeie mense wat op die aarde woon dalk ietwat verskil van wat jy in die verlede geleer is.

Robert: Ja, ek het dié gedagte nog nooit in my kerk gehoor nie.

Markus: En soos jy vroeër gesê het, is dit nie genoeg om een of twee verse oor die onderwerp te ondersoek nie. Ons moet eintlik ondersoek wat die Bybel in sy geheel oor die toekoms van goeie mense sê. Maar dink jy, na aanleiding van die tekste wat ons vandag gelees het, dat dit moontlik is dat sommige goeie mense hemel toe sal gaan terwyl baie ander goeie mense vir ewig hier op die aarde sal woon?

Robert: Ek is nie seker nie. Maar ek moet erken dat dit wel so klink volgens die tekste wat jy so pas vir my gelees het. Ek sal nog ’n bietjie daaroor moet dink.

Markus: Terwyl jy verder oor die onderwerp dink, sal ander vrae dalk by jou opkom. Byvoorbeeld, wat van goeie mense wat in die verlede gelewe het? Het hulle almal hemel toe gegaan? Indien nie, waar is hulle nou?

Robert: Dis interessante vrae.

Markus: Miskien kan ek twee dinge vir jou doen. Eerstens, laat ek ’n paar tekste neerskryf wat met die onderwerp verband hou. * Tweedens, ek sal graag wil terugkom en daardie tekste met jou bespreek nadat jy ’n kans gehad het om dit te lees en daaroor na te dink. Sal dit reg wees?

Robert: Ja, dit klink goed. Dankie.

[Voetnoot]