Kom nader aan God
“Die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is”
HOE sou jy voel as jy beskuldig is van ’n misdaad wat jy nie gepleeg het nie? En sê nou daardie misdaad het baie lyding vir ander veroorsaak, insluitende talle onskuldige mense? Jy sou beslis jou naam van blaam wou suiwer! Het jy geweet dat Jehovah met ’n soortgelyke uitdaging te kampe het? Vandag blameer baie mense God verkeerdelik vir die ongeregtigheid en lyding in hierdie wêreld. Wil Jehovah graag sy naam van blaam suiwer? Beslis! Kyk na wat in die boek Esegiël hieroor gesê word.—Lees Esegiël 39:7.
“Ek sal my heilige naam nie meer laat ontheilig nie”, sê Jehovah. Wanneer mense hom vir ongeregtigheid blameer, ontheilig hulle sy naam. Hoe so? In die Bybel beteken “naam” dikwels reputasie. Een naslaanwerk sê dat God se naam verwys na “wat ons van hom weet—sy openbaring van homself; dit verteenwoordig ook sy roem en sy eer”. Jehovah se naam het ook betrekking op sy reputasie. Wat weet ons van Jehovah wanneer dit by ongeregtigheid kom? Hy haat dit! Hy het ook medelye met diegene wat as gevolg daarvan ly (Eksodus 22:22-24). * Wanneer mense beweer dat God verantwoordelik is vir die einste dinge wat hy verafsku, skaad hulle sy reputasie. Deur dit te doen, ‘bejeën hulle sy naam met minagting’.—Psalm 74:10.
Let op dat Jehovah twee keer die uitdrukking “my heilige naam” gebruik (vers 7). In die Bybel word Jehovah se naam talle kere verbind met die woorde “heilig” en “heiligheid”. Die woord “heilig” dra die gedagte oor van afgeskeidenheid; dit beteken ook reinheid en suiwerheid. Jehovah se naam is heilig omdat hy heilig is—heeltemal afgeskei van enigiets wat sondig en onrein is. Kan jy sien waarom diegene wat Jehovah vir goddeloosheid blameer, sy “heilige naam” die grootste denkbare oneer aandoen?
Jehovah se voorneme om sy naam deur middel van sy Koninkryk van blaam te suiwer, is die hooftema van die Bybel. Hierdie tema word beklemtoon in die boek Esegiël, wat herhaaldelik sê dat “die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 36:23; 37:28; 38:23; 39:7). Let op dat dit nie aan die nasies oorgelaat word om te kies of hulle wil weet dat hy Jehovah is nie. Nee, hulle “sal moet weet”. Met ander woorde, Jehovah het hom voorgeneem om stappe te doen wat die nasies op die aarde sal dwing om te erken dat hy is wie hy sê hy is—Jehovah, die Soewereine Heer, wie se naam alles verteenwoordig wat heilig, suiwer en rein is.
Die dikwels herhaalde belofte dat “die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is”, is goeie nuus vir diegene wat smag om die einde van ongeregtigheid en lyding te sien. Jehovah sal binnekort hierdie belofte nakom en sy naam van alle smaad suiwer. Hy sal goddeloosheid en diegene wat dit bevorder, verwyder, maar hy sal diegene bewaar wat sy naam en waarvoor dit staan, erken en respekteer (Spreuke 18:10). Beweeg dit jou om uit te vind hoe jy nader kan kom aan Jehovah, die heilige God, wat ‘geregtigheid liefhet’?—Psalm 37:9-11, 28.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir September: Esegiël 39–Daniël 3
^ par. 2 Sien die artikel “Kom nader aan God—’n Liefhebber van geregtigheid,” in Die Wagtoring van 1 November 2008.