Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die uitdagings waarvoor vroue te staan kom

Die uitdagings waarvoor vroue te staan kom

“Wanneer ek sien hoe vroue behandel word, wil ek regtig nie grootword nie.”—ZAHRA, 15 JAAR OUD, aangehaal in die tydskrif GEO, Franse uitgawe.

DIE woorde van die jong meisie wat hierbo verskyn, vestig die aandag op ’n wrede werklikheid—wêreldwyd word meisies en vroue regdeur hulle lewe deur geweld en diskriminasie geraak. Kyk na die volgende feite.

  • Geslagsdiskriminasie. In Asië verkies die meeste ouers seuns bo meisies. Volgens ’n VN-verslag van 2011 is daar in daardie deel van die wêreld ’n bevolkingstekort van amper 134 miljoen vroue as gevolg van aborsie, kindermoord en verwaarlosing.

  • Opvoeding. Wêreldwyd maak vroue en meisies tweederdes van diegene uit wat minder as vier jaar skoolopleiding ontvang het.

  • Seksuele teistering. Meer as 2,6 miljard vroue woon in lande waar verkragting in die huwelik nog steeds nie as ’n misdaad beskou word nie.

  • Gesondheid. In ontwikkelende lande sterf ’n vrou omtrent elke twee minute weens komplikasies tydens swangerskap of bevalling as gevolg van ’n gebrek aan basiese mediese sorg.

  • Eiendomsregte. Hoewel vroue meer as die helfte van die wêreld se gewasse verbou, het hulle in baie lande geen wetlike reg om eiendom te besit of grond te erf nie.

Waarom word vroue van hierdie basiese regte ontneem? Sommige kulture volg godsdiensopvattings en -gebruike wat die mishandeling van en geweld teen vroue aanmoedig of selfs regverdig. ’n Franse dagblad het die Indiese regsgeleerde Chandra Rami Chopra aangehaal, wat gesê het: “Alle godsdienswette het iets in gemeen: Dit bevorder diskriminasie teen vroue.”

Stem jy saam met hierdie beskouing? Dink jy dat die Bybel, soos baie ander godsdiensboeke, vroue kleineer? Volgens party skep sekere Bybelverse daardie indruk. Maar hoe beskou die God van die Bybel vroue werklik? Hoewel dit ’n emosioneel gelaaide onderwerp kan wees, sal ’n noukeurige en eerlike ondersoek van wat die Bybel sê, ons help om die antwoord te vind.