Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Moet jy getroud wees om gelukkig te wees?

Moet jy getroud wees om gelukkig te wees?

Leer die Bybel dat jy getroud moet wees om vergenoeg en gelukkig te wees? Op die oog af lyk dit dalk of God se Woord so ’n idee ondersteun. Hoe so?

Volgens die Genesisverslag het God gesien dat dit “nie goed” is vir die eerste mens Adam om alleen te bly nie. God het Eva dus as ’n “komplement” vir Adam gemaak (Genesis 2:18). Die woord “komplement” beteken “iets wat volledig maak”. Uit hierdie verslag lei ons dalk af dat ’n persoon nie volkome is tensy hy of sy getroud is nie. Daarbenewens stel ’n aantal Bybelverslae die huwelik voor as ’n bron van seëninge en vreugde. Die verhaal van Rut is een voorbeeld.

Maar is hierdie soort verslae werklik bedoel om ons te leer dat Christene van vandag nie gelukkig, vergenoeg of volkome kan wees tensy hulle trou en kinders kry nie? Dit kan nie wees nie. Die mees volkome en vergenoegde mens wat nog geleef het, was Jesus Christus. En tog het hy tot sy dood ongetroud gebly. Jesus, die wysste mens wat nog geleef het, was ook die volmaakte weerspieëling van “die gelukkige God”, Jehovah (1 Timoteus 1:11; Johannes 14:9). Jesus het geopenbaar wat nodig is om in hierdie wêreld gelukkig te wees (Matteus 5:1-12). Hy het die huwelik nie in die lys ingesluit nie.

Weerspreek die Bybel homself dan wanneer dit by hierdie onderwerp kom? Glad nie. Ons moet die huwelik in die konteks van Jehovah se voorneme beskou. Hoewel hy die huwelik ingestel het om ’n bron van vreugde, intimiteit en vertroosting te wees, het hierdie instelling ook soms ’n belangrike rol in die vervulling van sekere aspekte van sy wil gespeel. Dit was byvoorbeeld God se voorneme dat Adam en Eva ‘vrugbaar moes wees en baie moes word en die aarde moes vul’ (Genesis 1:28). Nie Adam of Eva kon God se verklaarde voorneme op hulle eie vervul nie. Nee, albei het die ander een nodig gehad, en albei het die ander een in ’n spesiale sin volledig gemaak.

Net so het Jehovah spesiale voornemens met betrekking tot die huwelik en gesinslewe gehad terwyl hy met die aardse nasie Israel gehandel het. Hy wou hê dat sy volk talryk moes wees sodat hulle nie maklik deur hulle vyande oorweldig sou word nie. Dit was ook sy voorneme dat die stam Juda die Messias voortbring, wat getroue mense van die gevolge van sonde en die dood sou red (Genesis 49:10). Getroue vroue van Israel het dit dus as ’n spesiale voorreg beskou om te trou en kinders te hê en dit as ’n bron van skande en droefheid beskou as hulle nie kinders gehad het nie.

Maar wat van vandag? Is Christene wat vandag op hierdie digbevolkte planeet lewe, verplig om te trou en kinders te hê omdat God die mens destyds die opdrag gegee het om ‘die aarde te vul’? Nee (Matteus 19:10-12). Ook hoef God nie meer die nasie waarin die Messias gebore sou word, te beskerm nie of die Redder se geslagslyn te bewaar en te verseker nie. Hoe moet Christene dan die huwelik en die ongetroude lewe beskou?

Albei toestande kan in werklikheid as ’n gawe van God beskryf word. Soos jy weet, is ’n geskenk wat vir een persoon geskik is, moontlik nie vir ’n ander geskik nie. Die huwelik is ’n heilige reëling wat liefde, kameraadskap en ’n stabiele grondslag vir ’n gesin kan voorsien. Terselfdertyd is die Bybel realisties en sê dit dat diegene wat in hierdie onvolmaakte wêreld trou, ook probleme, of “verdrukking in hulle vlees”, sal ondervind. Wat die ongetroude lewe betref, Jehovah beskou dit nie as ’n oorsaak van skande of droefheid nie. Sy Woord sê eerder dat die ongetroude lewe sekere besliste voordele bo die huwelik het.—1 Korintiërs 7:28, 32-35.

Die Bybel bied dus ’n gebalanseerde beskouing van die huwelik en die ongetroude lewe. Jehovah, die Insteller van die huwelik en die gesinsreëling, wil hê dat al sy knegte gelukkig en vergenoeg moet wees, hetsy hulle ongetroud of getroud is.