Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

‘Die Oue van Dae het gaan sit’

‘Die Oue van Dae het gaan sit’

“GEEN mens het God ooit gesien nie”, sê die Bybel (Johannes 1:18). God se voorkoms is so glorieryk dat dit onmoontlik is vir enige skepsel van vlees en bloed om hom te sien en te bly lewe (Eksodus 33:20). Maar in sommige opgetekende gevalle het Jehovah gekose manne ’n visioen van die hemel gegee. Een van hierdie manne was die profeet Daniël. Wat hy gesien het, het hom ongetwyfeld met ontsag vervul, en dit behoort dieselfde uitwerking op ons te hê. Let op hoe Daniël beskryf het wat hy bevoorreg was om in ’n visioen te sien. *Lees Daniël 7:9, 10.

“Die Oue van Dae.” Die titel, “Oue van Dae”, wat slegs Daniël gebruik, dui op “iemand wat gevorderd in dae (bejaard)” is (Daniël 7:9, 13, 22). Hoe gevorderd in jare is Jehovah? Aangesien hy die “Koning van die ewigheid” is, strek sy bestaan tot in die oneindige verlede—en tot in die ewige toekoms (1 Timoteus 1:17; Judas 25). God se ewige bestaan verseker ons dat hy oneindig is in wysheid, aangesien die Bybel die ouderdom met wysheid verbind (Job 12:12). Ja, dit is moeilik vir ons om die ewigheid met ons beperkte verstand te begryp. Maar moet ons werklik verwag om die onvergelyklik wyse God ten volle te verstaan?—Romeine 11:33, 34.

Let op dat die Oue van Dae “gaan sit” het. Waarom het hy dit gedoen? Die omliggende verse gee ons ’n paar leidrade wanneer dit woorde gebruik soos “die Hof” en “oordeel” (Daniël 7:10, 22, 26). In die visioen het Jehovah dus as Regter gaan sit. Wie sou hy oordeel? Die nasies van die aarde, wat vroeër in Daniël se visioen as diere uitgebeeld is (Daniël 7:1-8). * Watter soort Regter is Jehovah?

“Sy klere was wit soos sneeu, en die hare van sy kop was soos skoon wol.” Wit is ’n simbool van regverdigheid en reinheid. Wol is soms wit in sy natuurlike toestand. Hare wat soos wol is, is dus wit. Kan jy jou voorstel wat Daniël gesien het? Sien jy ’n Regter met wit hare wat moontlik ’n sneeuwit kleed aanhet? Hierdie beskrywings verseker ons dat Jehovah se oordele regverdig en wys is. Hy is die soort Regter wat ons grootste vertroue en respek verdien.

Hy is die soort Regter wat ons grootste vertroue en respek verdien

Duisend duisende het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het reg voor hom bly staan.” Wie is hierdie hemelse dienaars? Die Bybel noem die engele “sy [God se] dienaars” (Psalm 104:4). God se engele, waarvan daar moontlik honderdmiljoene is, ‘voer sy woord uit’ en ‘doen sy wil’ (Psalm 103:20, 21). Is dit nie ’n verdere bewys van God se eindelose wysheid nie? Wie behalwe Jehovah kan so ’n groot hemelse leër ontelbare eeue lank georganiseerd en besig hou?

Daniël se visioen boesem vertrou in Jehovah, die Oue van Dae, in. Sy oordele is regverdig en sy wysheid is betroubaar. Vind gerus meer uit oor hoe jy nader kan kom aan die alwyse God.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Oktober:

Daniël 4-12Hosea 1-14

^ par. 1 Daniël het God nie werklik gesien nie. God het eerder duidelike beelde op sy verstand geprent. Daniël het toe beeldspraak, onder andere antropomorfismes—die toeskrywing van menslike hoedanighede aan God—gebruik om te beskryf wat hy gesien het. Sulke beskrywings help om God verstaanbaar vir ons te maak en moenie letterlik opgeneem word nie.

^ par. 3 Vir ’n bespreking van Daniël se visioen van die diere, sien hoofstuk 9 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.