Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom duur korrupsie voort?

Waarom duur korrupsie voort?

‘Die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel.’—PREDIKER 8:9.

HIERDIE verklaring is ’n akkurate beskrywing van die geskiedenis van menseheerskappy. Dit is verantwoordelik vir eindelose lyding en ellende. Deur die geskiedenis heen is welmenende mense wat ’n regverdiger samelewing probeer skep het, se pogings keer op keer deur gierigheid en korrupsie verydel. Waarom is dit die geval? Waarom duur korrupsie voort? Basies as gevolg van die volgende drie skadelike invloede.

1. Die invloed van sonde.

Die Bybel sê uitdruklik dat ons “almal onder die sonde is” (Romeine 3:9). Sonde is soos ’n ongeneeslike oorerflike siekte wat in ons “woon”. Sonde ‘heers’ al duisende jare soos ’n koning oor die mensdom. Die “wet” daarvan is voortdurend in ons aan die werk. Sondige neigings veroorsaak dat baie mense hulle eie belange eerste stel of dat hulle die verkryging van materiële besittings of gesag die middelpunt van hulle lewe maak, al is dit ten koste van ander.—Romeine 5:21; 7:17, 20, 23, 25.

2. Die invloed van die goddelose wêreld waarin ons lewe.

Gierigheid en selfsug is kenmerkende eienskappe van ons wêreld. In so ’n omgewing vind party mense dit moeilik om anders te wees. Hulle word aangedryf deur selfsugtige ambisie en word dus magsugtig. Hulle ontwikkel ook ’n sterk begeerte na meer geld en besittings—meer as wat hulle eintlik nodig het. Ongelukkig is hulle bereid om oneerlik te wees om daardie doelwitte te bereik. Eerder as om onheilsame invloede te weerstaan, ‘volg hulle die menigte met bose oogmerke’.—Eksodus 23:2.

3. Die invloed van Satan die Duiwel.

Satan, ’n opstandige geesskepsel, ‘mislei die hele bewoonde aarde’ (Openbaring 12:9). Hy put groot genot daaruit om mense te manipuleer. Hy sal ’n persoon se natuurlike begeerte na materiële gerief en finansiële welvaart soms op slinkse wyse uitbuit en die persoon kry om bedrieglik te handel.

Beteken dit dat ons blote marionette in Satan se hande is—dat ons verplig is om hom te gehoorsaam wanneer hy die toutjies trek? Ons sal die antwoord daarop in die volgende artikel bespreek.