Is dit verkeerd om God te bevraagteken?
PARTY mense sê dat dit verkeerd is om vrae aan God te stel. Hulle dink dalk dat dit oneerbiedig is om te vra waarom God toelaat dat sekere dinge gebeur maar nie toelaat dat ander dinge gebeur nie. Is dit hoe jy daaroor voel?
Indien wel, sal jy dalk verbaas wees om te weet dat talle goeie mense al vrae aan God gestel het. Let op die volgende voorbeelde van vrae wat hulle hom gevra het:
Die getroue man Job: “Waarom bly die goddeloses lewe, het hulle oud geword, ja, verhewe geword in rykdom?”—Job 21:7.
Die lojale profeet Habakuk: “Waarom kyk u na dié wat verraderlik handel, bly u stil wanneer die goddelose iemand verswelg wat regverdiger is as hy?”—Habakuk 1:13.
Jesus Christus: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”—Matteus 27:46.
As jy die omliggende verse van hierdie aanhalings lees, sal jy geen aanduiding vind dat Jehovah * God aanstoot geneem het toe hy hierdie opregte vrae gevra is nie. Dit is nie werklik verbasend dat hy verdraagsaam is nie. Byvoorbeeld, God neem nie aanstoot wanneer ons hom vra om in ons basiese materiële behoeftes te voorsien sodat ons fisies gesond kan bly nie. Hy staan sulke versoeke graag toe (Matteus 6:11, 33). So ook voorsien hy gewilliglik inligting wat ons verstandelik en emosioneel gesond hou (Filippense 4:6, 7). Trouens, Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word” (Matteus 7:7). Die konteks van Jesus se belofte toon dat hy nie net bedoel het dat ons materiële dinge sal ontvang nie, maar ook antwoorde op belangrike vrae.
As jy die geleentheid gehad het, watter van die volgende vrae sal jy God graag wil vra?
Het my lewe ’n doel?
Wat sal gebeur wanneer ek sterf?
Waarom laat u toe dat ek ly?
Aangesien “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is, sal jy God se antwoorde in sy Woord, die Bybel, vind (2 Timoteus 3:16). Kyk na wat daartoe aanleiding gegee het dat sommige die vrae hierbo gevra het, asook die antwoorde wat die Bybel gee.
^ par. 7 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.