Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Europese hof handhaaf die reg op gewetensbeswaar

Die Europese hof handhaaf die reg op gewetensbeswaar

JEHOVAH SE GETUIES regoor die wêreld is welbekend vir hulle neutrale standpunt in verband met die politieke aangeleenthede en oorloë van enige nasie. Hulle glo vas dat hulle “van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse” en “nie meer [moet] leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Hulle verhinder ander nie om in die weermag te dien nie. Maar sê nou die gewete van ’n Getuie laat hom nie toe om in die weermag te dien nie, hoewel dit verpligtend is in die land waar hy woon? Dit is die situasie waarin ’n jong man, Vahan Bayatyan, hom bevind het.

Gebeure wat tot die Europese hofsaak gelei het

Vahan is in April 1983 in Armenië gebore. In 1996 het hy en ander lede van sy familie die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en toe hy 16 jaar oud was, is hy gedoop. Uit sy studie van die Bybel het Vahan diep respek vir die leringe van Jesus Christus opgebou, insluitende Jesus se opdrag aan sy volgelinge om nie letterlike oorlogswapens op te neem nie (Matteus 26:52). Gevolglik moes Vahan ’n kort rukkie ná sy doop ’n baie belangrike besluit neem.

Die wet in Armenië verplig alle jong mans om militêre diens te verrig wanneer hulle 18 jaar oud word. As hulle weier om dit te doen, kan hulle tot drie jaar tronkstraf opgelê word. Vahan wou sy medeburgers dien, maar hy wou nie sy Bybelopgeleide gewete skend nie. Wat het hy toe gedoen?

Onmiddellik nadat Vahan in 2001 in aanmerking gekom het vir militêre diens, het hy briewe aan die Armeense owerheid begin skryf. In sy briewe het hy gesê dat sulke diens sy gewete en godsdiensoortuigings sou skend. Hy het egter ook gesê dat hy bereid is om alternatiewe burgerlike diens te verrig.

Meer as ’n jaar het verloop, waartydens Vahan die owerheid herhaaldelik versoek het om sy gewetensbeswaar teen militêre diens te erken. Vahan is egter in September 2002 in hegtenis geneem, en later is ’n klag van dienspligontduiking teen hom gebring. Hy is tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Die aanklaer was egter nie tevrede met die straf nie. Net een maand nadat hy gevonnis is, het die aanklaer ’n mosie by die appèlhof ingedien en die hof versoek om ’n swaarder vonnis op te lê. Hy het aangevoer dat Vahan se godsdiensgemotiveerde gewetensbeswaar teen militêre diens “ongegrond en gevaarlik” is. Die appèlhof het die aanklaer se versoek toegestaan en Vahan se vonnis tot 30 maande tronkstraf verleng.

Vahan het by Armenië se hoogste hof appèl teen hierdie beslissing aangeteken. In Januarie 2003 het die Hof van Hersiening die appèlhof se beslissing gehandhaaf. Vahan is onmiddellik na ’n gevangenis oorgeplaas om sy straf saam met moordenaars, dwelmhandelaars en verkragters te begin uitdien.

Gebeure in die Europese Hof

Armenië is sedert 2001 ’n lid van die Europese Raad. Die burgers van die land het dus die reg om appèl aan te teken by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) nadat hulle van alle moontlike regsopsies in hulle land gebruik gemaak het. Dit is wat Vahan besluit het om te doen. In sy appèl het hy aangevoer dat Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte geskend is toe hy gevonnis is weens sy weiering om in die weermag te dien. Hy het versoek dat sy reg op gewetensbeswaar teen militêre diens beskerm word ingevolge hierdie artikel—iets wat nog nooit suksesvol voor hierdie hof bepleit is nie.

Op 27 Oktober 2009 het die EHMR sy uitspraak gelewer. Die hof het, in die lig van bestaande regsuitsprake, beslis dat gewetensvryheid, soos gedefinieer in Artikel 9 van die Europese Konvensie, nie die regte van gewetensbeswaardes beskerm wat weier om in die weermag te dien nie.

Teen daardie tyd is Vahan lank reeds vrygelaat, was hy reeds getroud en het hy ’n seuntjie gehad. Vahan was teleurgesteld met die beslissing. Hy moes toe besluit of hy die saak sou terugtrek of by die Groot Kamer van die EHMR appèl sou aanteken. Hy het besluit om te appelleer. Die Groot Kamer hoor slegs uitsonderlike sake aan, en daarom was Vahan bly toe die hof besluit het om sy saak te hersien.

Op 7 Julie 2011, in Straatsburg, Frankryk, het die Groot Kamer van die EHMR uiteindelik sy beslissing gegee. Die hof het met ’n oorweldigende meerderheid van 16 stemme teen 1 beslis dat Armenië Vahan Bayatyan se reg op gewetensvryheid geskend het toe dit hom skuldig bevind en opgesluit het weens sy gewetensbeswaar teen militêre diens. Die enigste regter wat nie met die ander regters saamgestem het nie, was van Armenië.

Waarom is hierdie beslissing belangrik? Omdat dit die eerste keer in die geskiedenis van die EHMR was dat daar erken is dat Artikel 9 van die Konvensie die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens ten volle beskerm. En daarom beskou die hof dit as ’n skending van fundamentele regte in ’n demokratiese gemeenskap om ’n gewetensbeswaarde tronkstraf op te lê.

Die Hof het die volgende opmerking in verband met die standpunt van Jehovah se Getuies as gewetensbeswaardes gemaak: “Die hof het dus geen rede om daaraan te twyfel dat die aansoeker se beswaar teen militêre diens beweeg word deur sy godsdiensopvattings, wat opreg gehuldig word en reëlreg in stryd is met sy verpligting om militêre diens te verrig.”

Reaksie op die beslissing

Oor die afgelope twee dekades is meer as 450 gewetensbeswaardes wat Jehovah se Getuies is, in Armenië gevonnis. Terwyl hierdie artikel voorberei is, was daar 58 jong mans in hierdie land opgesluit omdat hulle weens godsdiensredes weier om militêre diens te verrig. Vyf van hulle is ná die mylpaalbeslissing van Bayatyan vs. Armenia opgesluit. * Toe ’n jong gewetensbeswaarde in een van hierdie gevalle ’n mosie ingedien het en versoek het dat die plaaslike aanklaer die strafsaak terugtrek wat teen hom gebring is omdat sy gewete hom nie toelaat om militêre diens te verrig nie, het die aanklaer dit van die hand gewys. In sy skriftelike antwoord het die aanklaer gesê: “Die uitspraak deur die Europese Hof in die saak Bayatyan vs. Armenia, op 7 Julie 2011, is nie op hierdie saak van toepassing nie, aangesien daar hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die twee sake is nie.”

Waarom het die aanklaer so gedink? Toe Vahan Bayatyan aangekla is, was daar nie ’n voorsiening vir alternatiewe burgerlike diens nie. Die Armeense owerheid beweer dat ’n wet sedertdien aangeneem is wat hiervoor voorsiening maak; dus kan diegene wat teen militêre diens gekant is burgerlike diens verrig. Maar die wet in verband met alternatiewe diens is onder beheer van die weermag, en daarom is dit nie van toepassing op baie van die gewetensbeswaardes wat tans vir militêre diens opgeroep word nie.

Vahan Bayatan is bly oor die mylpaalbeslissing wat in sy guns gegee is. Die uitspraak verplig Armenië nou om op te hou met die vervolging en opsluiting van diegene wie se vaste godsdiensoortuigings hulle verhinder om militêre diens te verrig.

Dit is nie die doel van Jehovah se Getuies om die regstelsel van enige land te hervorm nie. Maar net soos jong Vahan Bayatyan, probeer hulle hulle wetlike regte bevestig op grond van party van die bestaande wette in die lande waar hulle woon. Waarom? Sodat hulle kan aanhou om vreedsaam te lewe en al die opdragte van hulle leier, Jesus Christus, sonder teenstand kan gehoorsaam.

^ par. 17 Twee van hulle is op 7 Julie 2011 gevonnis, dieselfde dag as waarop die EHMR sy uitspraak gelewer het.