Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glo jy dat jy voorheen gelewe het?

Glo jy dat jy voorheen gelewe het?

“Die terugkeer tot die lewe is ’n feit, en dit is ’n feit dat die lewendes uit die dood verwek word en dat die siele van die dooies voortbestaan.”—“SOKRATES” SE WOORDE, AANGEHAAL DEUR PLATO, ’N GRIEKSE FILOSOOF, 5DE EEU VHJ.

“Aangesien die siel nie sonder ’n liggaam kan bestaan nie en tog nie ’n liggaam is nie, lewe dit moontlik in verskillende liggame en gaan dit van die een ná die ander.”—GIORDANO BRUNO, ’N ITALIAANSE FILOSOOF, 16DE EEU HJ.

“Niks is dood nie: dit lyk net of mense dood is . . . en daar staan hulle dan by die venster en uitkyk, fris en gesond, in ’n nuwe en onherkenbare liggaam.”—RALPH WALDO EMERSON, ’N AMERIKAANSE ESSAYIS EN DIGTER, 19DE EEU HJ.

HET jy al ooit gewonder wie jy werklik is? Het jy al ooit gedink dat jy voorheen gelewe het? Indien wel, is jy nie die enigste een nie. Mense in Oosterse sowel as Westerse kulture wonder al sedert die vroegste tye oor hierdie vrae. In hulle soeke na antwoorde het party hulle gewend tot ’n opvatting wat reïnkarnasie genoem word. Dit is die idee dat ’n ontasbare “siel” die liggaam by die dood verlaat en een of meer kere in ’n ander liggaam—dié van ’n mens, ’n dier of selfs ’n plant—herbore word.

Hierdie opvatting stel party mense dalk tevrede, maar hoe kan ons uitvind of dit waar is of nie? Wat sê God se Woord, die Bybel, hieroor? Ons moet egter eers die vraag beantwoord: Waar kom die idee vandaan?

Wat is die oorsprong van reïnkarnasie?

Volgens geskiedskrywers en geleerdes het die gedagte van die onsterflikheid van die mensesiel onder die inwoners van eertydse Babilon, ’n stad wat teen die einde van die derde millennium VHJ gestig is, begin posvat. “Babiloniese teoloë het baie aandag geskenk aan” die probleem in verband met onsterflikheid, het Morris Jastrow jr. in sy boek The Religion of Babylonia and Assyria gesê. Vir die Babiloniërs was “die dood . . . ’n oorgang na ’n ander soort lewe”, het hy verduidelik. “Die feit dat die persoon hom nie kon voorstel dat hy vir ewig onbewus sou wees nie, het ongetwyfeld aanleiding gegee tot die primitiewe teorie van die ewige voortbestaan in die een of ander vorm.”

Nadat die opvatting in Babilon ontstaan het, het leringe oor die verhuising en hergeboorte van die siel ook in ander dele van die antieke wêreld posgevat. Indiese filosowe het ’n uitvoerige stelsel van opvattings geformuleer waarvolgens daar ’n kringloop van hergeboortes is wat gegrond is op die wet van oorsaak en gevolg, of Karma. Invloedryke Griekse filosowe het ook die idee van reïnkarnasie aangeneem, wat dit baie gewild gemaak het.

Vandag is daar ’n oplewing van belangstelling in reïnkarnasie in Westerse lande. Beroemdes en jongmense is gefassineerd met Oosterse godsdiensidees en -gebruike. Daar is deesdae ’n magdom boeke en Internetwebwerwe wat die betekenis van beweerde ondervindinge uit ’n vorige lewe bespreek. In baie lande word sogenaamde “vorige lewe”-terapie nou vinnig gewild. Dit bevorder die gebruik van hipnose om te ondersoek wat glo in mense se vorige lewens gebeur het in ’n poging om hulle huidige gesondheidstoestand en gedragspatrone te verstaan.

Is daar werklik so iets soos reïnkarnasie?

Hoewel die opvatting van reïnkarnasie al eeue lank bestaan, moet ons beslis ’n antwoord kry op die belangrikste vraag in verband hiermee—Is daar werklik so iets soos reïnkarnasie? En Christene sal wil weet of hierdie opvatting ooreenstem met wat die Bybel leer (Johannes 17:17). Aangesien ons Skepper, Jehovah God, die Bron van die lewe en “’n Openbaarder van geheime” is, onthul hy dinge oor die lewe en die dood wat mense andersins nie sou geweet het nie. Ons kan met vertroue na sy Woord, die Bybel, gaan vir antwoorde oor die onderwerp.—Daniël 2:28; Handelinge 17:28.

Die antwoorde wat God gee, kan maklik gevind word as ons toelaat dat die Bybel homself verklaar. Byvoorbeeld, in Genesis 3:19 vind ons God se woorde aan Adam nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan hom. God het gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” Adam is uit die stof geskep. Met sy dood het hy na die stof teruggekeer. Wat God oor die saak sê, is dus baie duidelik. Wanneer ’n persoon sterf, word hy nie as iemand anders herbore nie, maar hou hy op om te bestaan. * Net soos warm en koud, droog en nat, lig en donker teenoorgesteldes is, is die dood die teenoorgestelde van die lewe. Die dooies is werklik dood! Is dit nie eenvoudig en logies nie?

Herinneringe aan ’n vorige lewe moet dus ’n ander verklaring hê. Die werking van die menseverstand, insluitende die onderbewussyn, en die gevolge van medikasie of traumatiese ondervindinge word nog nie ten volle verstaan nie. Drome en denkbeeldige gebeure op grond van die ontsaglike hoeveelheid inligting wat in die geheue geberg word, kan so helder wees dat dit lyk of dit werklik is. In party gevalle is bose geesmagte verantwoordelik vir bonatuurlike ondervindinge wat onwerklike dinge na die werklikheid kan laat lyk.—1 Samuel 28:7-19.

Vir die mens is dit heeltemal natuurlik om te wil lewe en om te wil weet wat die toekoms inhou. Maar waar kom hierdie begeerte vandaan? Dit is interessant dat die Bybel oor die Skepper sê: “Hy het ook die ewigheid in die hart van mense geplaas” (Prediker 3:11, New International Version). Daarom is dit mense se hartsbegeerte om vir ewig te lewe.

As ons Skepper, Jehovah God, die begeerte om vir ewig te lewe in die hart van mense geplaas het, is dit net logies dat hy ook sal verduidelik hoe hierdie begeerte bevredig kan word. Die Bybel openbaar die Skepper se verhewe voorneme om gehoorsame mense met ewige lewe op ’n paradysaarde te seën. “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon”, het die geïnspireerde psalmis, koning Dawid, gesê (Psalm 37:29). ’n Vername Bybelleerstelling wat nie van God se ewige voorneme geskei kan word nie, is die opstanding van die dooies.—Handelinge 24:15; 1 Korintiërs 15:16-19.

Die opstanding—Die grondige hoop vir die dooies

Die Bybel bevat agt ooggetuieverslae van mense wat uit die dood tot lewe op die aarde opgewek is. * Hierdie mense is opgewek, hulle is nie gereïnkarneer nie. Dié wat opgewek is, is onmiddellik deur hulle familie en vriende herken. Dit was nie in een van hierdie gevalle vir die familie nodig om oral onder pasgebore babas te soek om te probeer uitvind of een van die babas die gereïnkarneerde siel van hulle afgestorwe geliefde is nie.—Johannes 11:43-45.

Dit is vertroostend om te weet dat God se Woord aandui dat die oorgrote meerderheid van dié wat gesterf het, opgewek sal word tydens die opstanding van die dooies in God se nuwe wêreld, wat binnekort hierdie goddelose wêreld hier op die aarde sal vervang (2 Petrus 3:13, 14). Die lewenspatroon van miljarde mense word nou bewaar in die onbeperkte, volmaakte geheue van Jehovah, die God wat selfs die name van al die sterre onthou! (Psalm 147:4; Openbaring 20:13). Wanneer hy mense van opeenvolgende geslagte in sy nuwe wêreld opwek, sal hulle hulle stamboom kan terugvoer en hulle voorouers persoonlik kan leer ken. Wat ’n fassinerende, opwindende vooruitsig!

^ par. 13 Vir meer inligting, sien hoofstuk 6, “Waar is die dooies?” in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 18 Die agt opgetekende gevalle is in 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Johannes 11:38-44; Handelinge 9:36-42; 20:7-12. Wanneer jy die verslae lees, sal jy sien dat hierdie opstandings voor baie ooggetuies plaasgevind het. ’n Negende verslag beskryf die opstanding van Jesus Christus.—Johannes 20:1-18.