Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uiteindelik het ek ware vryheid gevind!

Uiteindelik het ek ware vryheid gevind!

“Niemand vra na julle nie”, het ’n tronkbeampte laggend gesê. “Julle kan hier bly.” Hoe het ons, ’n hardwerkende, vredeliewende Russiese gesin, ongeveer vyf jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, in 1950, in ’n gevangenis in Noord-Korea beland?

VOLGENS my dokumente is ek in 1924 gebore. Ek is blykbaar in die dorpie Sjmakofka in die Verre Ooste van Rusland gebore, naby die Chinese grens.

Eendag is my pa en my ouer broers deur rowers weggeneem, en my ma het hulle nooit weer gesien nie. Sy moes toe vir ’n huis vol jong kinders sorg, iets wat sy skaars kon doen. ’n Buurman het aangebied om ons na die Russies-Ortodokse weeshuis te neem en te sê dat my ma ons verlaat het.

My ma het hiertoe ingestem omdat haar kinders, ek inkluis, waarskynlik van honger sou gesterf het as sy dit nie gedoen het nie. Noudat ek in my middeltagtigerjare is, is ek dankbaar dat my ma ons na die weeshuis gestuur het. Dit het waarskynlik ons lewe gered. Maar haar besluit maak my nou nog hartseer.

In 1941 het na Korea getrek, waar ek met ’n goedhartige Russiese man met die naam Iwan getrou het. Ons dogter, Olia, is in 1942 in Seoel, Korea, gebore. Ons seun, Kolia, is in 1945 daar gebore, en sy broer, Zjora, in 1948. My man het ons winkel bestuur, en ek het naaldwerk gedoen. Omdat Seoel deur die Japannese beset is, het ons kinders grootgeword met Japannees, hoewel ons Russies by die huis gepraat het. Tot 1950 was daar blykbaar vrede tussen die Sowjets, Amerikaners en Koreane in Seoel. Hulle het almal by ons winkel gekoop.

Gevange geneem deur die Noord-Koreane

In 1950 het alles oornag verander. Noord-Koreaanse troepe het Seoel oorgeneem. Ons kon nie vlug nie en is saam met ander buitelanders in hegtenis geneem. Ons is drie en ’n half jaar lank saam met Britse, Russiese, Amerikaanse en Franse krygsgevangenes gedwing om na verskillende plekke regoor Noord-Korea te stap. Ons het gebly waar daar ook al skuiling was en het terselfdertyd die bomme probeer vermy.

Soms het ons in huise met verwarming gebly en het ons genoeg kos gekry. Maar gewoonlik het ons net giers gehad om te eet en in koue, verlate geboue geslaap. Baie in ons groep het weens ondervoeding en verwaarlosing gesterf. Ek was rasend van ontsteltenis wanneer my kinders gely het. Een jaar het die winter vroeg gekom in Noord-Korea. Ek onthou nog hoe ek heelnag by die vuur gesit en klippe warm gemaak het om onder die kinders te sit.

Toe dit warmer geword het, het van die Koreaanse dorpenaars ons geleer watter wilde plante eetbaar is en het ons wilde uie, eetbare blare, frambose, druiwe en sampioene gesoek. Dit was duidelik dat die dorpenaars ons nie gehaat het nie, maar ons eerder jammer gekry het weens ons benarde situasie. Ek het paddas leer vang om ons karige dieet aan te vul. Dit het my hart gebreek om te hoor hoe my kinders voortdurend vir paddas vra om te eet.

Een Oktober is ons beveel om na Manp’o te stap. Daar is vir ons gesê dat oskarre vir die siekes en die klein kindertjies voorsien sou word. Olia en haar pa is gedwing om saam met die groep te gaan wat geloop het. Ek en haar boeties het dae lank angstig gewag vir die oskarre om te kom. Uiteindelik het die oskarre daar opgedaag.

Siek gevangenes is soos sakke koring op die karre opmekaargestapel. Dit was vreeslik! Met klein Zjora op my rug het ek Kolia op ’n hoek van die kar probeer sit, maar hy het huilend begin sê: “Mamma, Mamma, ek wil saam met Mamma loop! Moet my asseblief nie hier los nie!”

Kolia het agter my aangesukkel; hy het met sy een handjie aan my romp vasgeklou en moes draf om by te bly. Baie gevangenes is gedurende hierdie dae lange berugte marstog geskiet. Swerms kraaie het ons gevolg en gepik aan die lyke wat agtergelaat is. Uiteindelik is ons met my man en Olia herenig. Ons het gehuil en mekaar omhels. Daardie nag het ek wakker gebly en klippe langs die vuur warm gemaak. Noudat ek dit onder al my kinders kon sit, het ek kalm en rustig gevoel.

In 1953, naby die 38ste breedtelyn wat Noord- en Suid-Korea verdeel, het die lewe vir ons effens makliker geword. Ons het skoon uniforms, skoene, brood en selfs lekkers ontvang. Kort voor lank is die Britte vrygelaat, en toe die Franse. Maar ons was nie burgers van enige land nie. Toe die laaste gevangenes weg is, was net ons oor. Ons het uit wanhoop gehuil en kon nie eet nie. Dit is toe dat die Koreaanse beampte die kwetsende woorde gesê het wat in die inleiding van hierdie artikel aangehaal is.

’n Nuwe lewe in die Verenigde State

Tot ons verbasing is ons kort daarna oor die gedemilitariseerde sone na Suid-Korea geneem. Nadat ons deur Amerikaanse militêre beamptes ondervra is, is ons toegelaat om na die Verenigde State te immigreer. Ons is per skip na San Francisco, Kalifornië, waar ons deur ’n liefdadigheidsorganisasie gehelp is. Later het ons na Virginië getrek, en kennisse daar het ons goedgunstig gehelp om op die been te kom. Uiteindelik het ons na Maryland getrek om ’n nuwe lewe te begin.

Eenvoudige dinge, soos ’n stofsuier, het ons verstom. As immigrante in ’n nuwe land het ons lank en hard gewerk. Maar dit het my hartseer gemaak om te sien hoe mense wat goed gevaar het in hulle nuwe omgewing, nuwe aankomelinge uitbuit. Kort nadat ons daar aangekom het, het ons ’n Russies-Ortodokse priester ontmoet wat gesê het: “Julle is nou op geseënde grond. As julle vooruitgang wil maak, moet julle nie met mense van julle eie land assosieer nie.” Ek was geskok en verward. Moet ons mekaar dan nie help nie?

In 1970 het ’n man met die naam Bernie Battleman, een van Jehovah se Getuies, na ons huis toe gekom om iets uit die Bybel te bespreek. Hy was ’n sterk, uitgesproke persoon, net soos ons. Ons het ure lank gepraat. Omdat ek in ’n Ortodokse weeshuis grootgeword het, het ek die kerkliturgie uit my kop geken. Maar ek het nooit daaraan gedink om ’n Bybel te hê nie! Bernie het vir ons een gebring en gesê: “Ek gee vir julle hierdie Bybel, want ek is lief vir julle.” Hy het ons ook voorgestel aan Ben, ’n Russiessprekende Getuie uit Belarus.

Ben en sy vrou het my vrae vriendelik uit die Bybel beantwoord. Maar ek was seker dat die Getuies die Heilige Skrif verdraai het. Ek was veral ontsteld dat hulle publikasies, in teenstelling met die kerk, gesê het dat Maria ander kinders benewens Jesus gehad het.

Ek het ’n Poolse vriendin gebel en haar gevra om te kyk wat haar Poolse Bybel in Matteus 13:55, 56 sê. Toe sy vir my die vers lees, was ek geskok om uit te vind dat Jesus wel jonger broers gehad het! My vriendin het ook ’n kennis gebel wat by die Amerikaanse Kongresbiblioteek in Washington, DC, gewerk het om te kyk wat hierdie vers sê in al die Bybelvertalings wat daar beskikbaar was. Sy het bevestig dat hulle almal dieselfde ding sê: Jesus het broers en susters gehad!

Ek het baie ander vrae gehad. Waarom sterf kinders? Waarom veg nasies teen mekaar? Waarom verstaan mense mekaar nie, selfs wanneer hulle dieselfde taal praat? Ek was baie opgewonde oor die antwoorde wat ek uit die Bybel gekry het. Ek het geleer dat dit nie God se wil is dat mense moet ly nie. Ek was verheug om uit te vind dat ek weer geliefdes sou sien wat gedurende verskillende konflikte gesterf het. Jehovah het geleidelik vir my ’n werklike persoon geword.

Eendag het ek voor my ikone gestaan en God gesmeek om my seun te help wat kort tevore van die oorlog in Viëtnam teruggekeer het en ernstige emosionele probleme gehad het. Skielik het ek besef dat ek nie my gebede tot die ikone moet rig nie, maar tot die lewende God, Jehovah. Ek het die ikone uitmekaargetrek en gesien dat dit niks anders as kleurvolle tinfoelie is nie. Ek het dit by die kerk gekoop, maar ek het daardie aand daarvan ontslae geraak.

Dit was nie maklik om los te breek van die kerk waarin ek grootgeword het nie. Maar die Bybel se leringe was nou vir my belangriker as enigiets anders. ’n Jaar later het ek my dogter en my man gevra om saam met my na die Russies-Ortodokse priester te gaan. Ek het ’n skryfblok met bladsye vol Bybelvrae gehad, met tekste onder die vrae. Toe ek die Bybelverse hardop gelees het, het die priester sy kop geskud en gesê: “Jy is verlore.” Hy het vir ons gesê om nooit weer ’n voet oor sy drumpel te sit nie.

Hierdie voorval het ’n indruk op my vasberade, weetgierige dogter, Olia, gemaak. Sy het ook die Bybel noukeurig begin ondersoek en het kort voor lank vergaderinge van die Getuies saam met my bygewoon. Ek is in 1972 gedoop en Olia die jaar daarna.

Ons gesin se leuse

Ons leuse is: Konsentreer op die hede, los die verlede. Ons het dus nooit gehuiwer om iets nuuts te doen as ons oortuig was dat dit reg is nie. Toe ek en my dogter ’n verhouding met God begin opbou het, het ons ’n sterk begeerte gehad om na mense se huise te gaan en vir hulle te vertel wat ons leer. Ek moet erken dat my uitgesprokenheid en onsentimentele persoonlikheid dit soms nodig gemaak het dat iemand tussenbeide tree en dinge op ’n taktvoller wyse verduidelik. Maar met verloop van tyd het ek geleer om met mense van baie nasionaliteite en agtergronde te praat wat, soos ek, na ’n beter lewe gesoek het.

Gedurende die daaropvolgende jare het ek en my dogter dikwels gesê dat ons Rusland toe sou gaan om mense soos ons van God te leer as die Ystergordyn ooit sou val. Toe dit wel in die vroeë 1990’s geval het, het Olia hierdie droom vir ons albei bewaarheid. Sy het na Rusland getrek en 14 jaar lank daar as ’n voltydse bedienaar gedien. Sy het die Bybel met baie gestudeer en het by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rusland gehelp om Bybellektuur van Engels in Russies te vertaal.

Ek is nou bedlêend, en my kinders doen alles in hulle vermoë om my lewe so gerieflik moontlik te maak. Ek dank God dat ek ná my vroeë jare van lyding ’n waarlik beter lewe gevind het. Die Bybelpsalm van die herder Dawid is in my geval bewaarheid: “By waterryke rusplekke bring [God] my. My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam.”—Psalm 23:2, 3. *

^ par. 29 Maria Kilin het op 1 Maart 2010 gesterf terwyl hierdie lewensverhaal vir publikasie voorberei is.