Moses—’n Man van nederigheid
WAT IS NEDERIGHEID?
Nederigheid behels die afwesigheid van verwaandheid of trots. ’n Nederige persoon sien nie op ander neer nie. Enige onvolmaakte mens wat nederig is, moet ook beskeie wees, dit wil sê bewus wees van sy beperkings.
HOE HET MOSES NEDERIGHEID GEOPENBAAR?
Moses het nie toegelaat dat gesag na sy kop toe gaan nie. Wanneer ’n man ’n bietjie gesag ontvang, gebeur dit dikwels dat sy nederigheid—of gebrek daaraan—gou na vore kom. Die negentiende-eeuse skrywer Robert G. Ingersoll het dit so gestel: “Die meeste mense kan teëspoed verwerk. Maar as jy wil weet wat ’n man werklik is, gee hom mag.” In hierdie opsig het Moses ’n skitterende voorbeeld van nederigheid gestel. Hoe so?
Moses het groot gesag ontvang, want Jehovah het hom aangestel om Israel te lei. Tog het hierdie gesag Moses nooit hoogmoedig laat word nie. Neem byvoorbeeld die beskeie manier waarop hy ’n moeilike saak in verband met erfregte hanteer het (Numeri 27:1-11). Dit was ’n gewigtige saak, aangesien die beslissing ’n regspresedent vir toekomstige geslagte sou stel.
Hoe sou Moses reageer? Sou hy redeneer dat hy as leier van Israel heeltemal bevoeg is om oor die saak te beslis? Sou hy staatmaak op sy natuurlike vermoëns, sy jarelange ondervinding of sy intieme kennis van Jehovah se denke?
’n Trotse man sou dit miskien gedoen het. Maar nie Moses nie. Die Bybelverslag sê vir ons: “Moses [het die] saak voor Jehovah gebring” (Numeri 27:5). Dink net! Selfs nadat Moses die nasie Israel 40 jaar lank gelei het, het hy nie op homself staatgemaak nie, maar op Jehovah. Hier sien ons ’n uitstekende voorbeeld van Moses se nederigheid.
Moses het nie jaloers vasgeklou aan sy gesag nie. Hy was verheug toe Jehovah toegelaat het dat ander Israeliete ook as profete optree (Numeri 11:24-29). Toe sy skoonpa voorgestel het dat hy ’n deel van sy werklas aan ander toevertrou, het Moses dit nederig gedoen (Eksodus 18:13-24). En teen die einde van sy lewe het Moses, hoewel hy nog fisies sterk was, Jehovah gevra om ’n opvolger vir hom aan te stel. Toe Jehovah Josua gekies het, het Moses die jonger man heelhartig ondersteun en die volk aangespoor om Josua te gehoorsaam as die leier wat hulle in die Beloofde Land sou inlei (Numeri 27:15-18; Deuteronomium 31:3-6; 34:7). Moses het dit ongetwyfeld as ’n voorreg beskou om die Israeliete in aanbidding te lei. Maar hy het nie sy gesag bo die welsyn van ander gestel nie.
WATTER LESSE LEER ONS?
Ons wil nooit toelaat dat mag, gesag of natuurlike vermoëns na ons kop toe gaan nie. Onthou: As ons vir Jehovah van nut wil wees, moet ons nederigheid altyd ons vermoëns oortref (1 Samuel 15:17). As ons werklik nederig is, sal ons daarna streef om die Bybel se wyse raad toe te pas: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.”—Spreuke 3:5, 6.
Moses se voorbeeld leer ons ook om nie te veel waarde te heg aan die status of gesag wat ons het nie.
Kan ons daarby baat vind as ons Moses se voorbeeld van nederigheid navolg? Ongetwyfeld! As ons ware nederigheid aankweek, maak ons die lewe makliker vir die mense om ons en maak ons ons geliefd by hulle. Bowenal sal ons ons geliefd maak by Jehovah God, wat ook hierdie pragtige eienskap openbaar (Psalm 18:35). “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Wat ’n dwingende rede is dit tog om Moses se nederigheid na te volg!