Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het die eerste-eeuse Jode dooies vir die begrafnis voorberei?

Die Jode het hulle dooies begrawe kort nadat hulle gesterf het, gewoonlik op dieselfde dag. Daar was twee redes waarom hulle dit so gou gedoen het. Eerstens, lyke ontbind gou in die warm klimaat van die Midde-Ooste. Tweedens, mense het destyds gemeen dat dit ’n gebrek aan eerbied toon vir die oorledene en sy gesin as die dooie eers dae later begrawe word.

In die Evangelies en die boek Handelinge word ten minste vier begrafnisse gemeld wat plaasgevind het op die dag dat die persoon gesterf het (Matteus 27:57-60; Handelinge 5:5-10; 7:60–8:2). Eeue vroeër het Jakob se geliefde vrou Ragel gesterf terwyl Jakob en sy gesin op reis was. Jakob het haar liggaam nie na hulle familiegraf teruggeneem nie, maar haar eerder in ’n graf “op pad na . . . Betlehem” begrawe.—Genesis 35:19, 20, 27-29.

Bybelverslae van begrafnisreëlings openbaar dat die Jode baie moeite gedoen het wanneer hulle ’n lyk vir die begrafnis voorberei het. Familie en vriende het die liggaam van die oorledene gewas, dit met speserye en goeie olie ingevryf en in doeke toegedraai (Johannes 19:39, 40; Handelinge 9:36-41). Bure en ander kon kom om aan hulle droefheid uiting te gee en die familie te vertroos.—Markus 5:38, 39.

Is Jesus op die tradisionele Joodse manier begrawe?

Baie Joodse families het hulle dooies in grotte en grafkelders begrawe wat uitgekap is in die sagte rots wat in baie dele van Israel voorkom. Dit is ook wat die aartsvaders gedoen het. Abraham, Sara, Isak, Jakob en ander is begrawe in die grot van Magpela, naby Hebron.—Genesis 23:19; 25:8, 9; 49:29-31; 50:13.

Jesus is begrawe in ’n graf wat in ’n rots uitgekap is (Markus 15:46). So ’n grafkelder het gewoonlik ’n smal ingang gehad. In die graf is ’n aantal nisse, oftewel uithollings in die rots, gemaak, waar die liggame van afgestorwe familielede neergelê is. Nadat die vlees ontbind het, is die droë bene in ’n klipkissie geplaas wat ’n ossuarium genoem word, soos dit die gebruik in Jesus se tyd was. Sodoende kon die familie plek in die grafkelder maak vir toekomstige begrafnisse.

Weens die Sabbatsrus wat deur die Wet van Moses voorgeskryf is, kon die Jode nie op die Sabbat na begrafnisreëlings omsien nie. Aangesien Jesus omtrent drie uur voor die begin van die Sabbat gesterf het, het Josef van Arimatea en ander hom begrawe sonder om sy liggaam heeltemal vir die begrafnis voor te berei (Lukas 23:50-56). Om dié rede het party van Jesus se vriende ná die Sabbat na sy graf gegaan in die hoop om die proses te voltooi.—Markus 16:1; Lukas 24:1.