HET JY GEWEET?
Waarom is eertydse Nineve “die stad van bloedvergieting” genoem?
Nineve was die hoofstad van die Assiriese Ryk. Dit was ’n magtige stad met luisterryke paleise en tempels, breë strate en massiewe mure. Die Hebreeuse profeet Nahum het daarna verwys as “die stad van bloedvergieting”.—Nahum 3:1.
Dit was ’n gepaste beskrywing, want die reliëfs uit Sanherib se paleis in Nineve getuig van die wreedheid van die Assiriërs. Een beeld ’n pyniger uit wat die tong uitruk van ’n gevangene wat teen die grond vasgedruk word. Inskripsies sê dat gevangenes met koorde gelei is wat vas was aan hake wat deur hulle neus of lip gesteek is. Gevange amptenare is gedwing om die afgekapte kop van hulle koning om hulle nek te dra, soos ’n afgryslike halssnoer.
Die Assirioloog Archibald Henry Sayce beskryf die wreedhede wat plaasgevind het nadat ’n stad ingeneem is: “Piramides van mensekoppe kon gesien word oral waar die veroweraar deurgetrek het; seuns en meisies is lewendig verbrand of vir ’n erger lot bestem; mans is met skerp pale deurboor, lewend afgeslag, hulle oë is uitgesteek of hulle hande en voete, ore en neuse is afgesny.”
Waarom is ’n muurtjie om die dak van Joodse huise gebou?
Die Jode is deur God beveel: “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ook ’n muurtjie om jou dak bou, sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring nie, want iemand . . . kan daarvan afval” (Deuteronomium 22:8). Die muurtjie was ’n noodsaaklike veiligheidsmaatreël, aangesien Joodse gesinne in Bybeltye goed gebruik gemaak het van hulle dak.
Die meeste Israelitiese huise het ’n plat dak gehad. Die dak was ’n ideale plek waar mense die hitte van die son en vars lug kon geniet of huistake kon verrig. In die somer was dit ’n gerieflike plek om te slaap (1 Samuel 9:26). ’n Boer het gewoonlik die dak gebruik om graan te droog voordat dit gemaal word of om gedroogde vye asook rosyne te maak.—Josua 2:6.
Die dak is ook vir ware sowel as valse aanbidding gebruik (Nehemia 8:16-18; Jeremia 19:13). Die apostel Petrus het omstreeks twaalfuur die middag na die dak opgegaan om te bid (Handelinge 10:9-16). As palmblare of iets soortgelyks gebruik is om skadu te voorsien, was die dak ongetwyfeld ’n aangename plek om te rus.
Die werk The Land and the Book sê dat Israelitiese huise ’n trap of leer na die dak toe gehad het, “aan die buitekant van die huis, maar in die buitehof”. ’n Persoon kon dus die dak verlaat sonder om die huis binne te gaan. Dit verduidelik moontlik Jesus se waarskuwing oor die dringendheid daarvan om uit ’n gedoemde stad te vlug: “Laat die man wat op die dak is, nie afkom om die goed uit sy huis te neem nie.”—Matteus 24:17.