VOLG HULLE GELOOF NA
Hy “het met die ware God gewandel”
NOAG het regop gesit en sy seer spiere gestrek. Stel jou voor hoe hy op ’n breë houtbalk gesit en ’n blaaskansie geneem het terwyl hy na die enorme raamwerk van die ark kyk. Die skerp reuk van warm teer het in die lug gehang; die geluide van houtwerkgereedskap het oral weergalm. Van waar Noag gesit het, kon hy sien hoe sy seuns hard werk aan verskeie dele van die groot netwerk van balke. Sy seuns, hulle vrouens en sy eie dierbare vrou het reeds dekades lank saam met hom aan hierdie projek gewerk. Hulle het al goed gevorder, maar baie werk het nog voorgelê!
Die mense in die omgewing het gedink dat hulle van hulle kop af is. Hoe meer die ark vorm gekry het, hoe meer het die mense gelag oor die idee dat ’n vloed die hele aarde sou verswelg. Die ramp waaroor Noag hulle bly waarsku het, het so vergesog, so belaglik geklink! Hulle kon skaars glo dat ’n man sy lewe—en die lewe van sy gesin—sou vermors deur so ’n dwase projek aan te pak. Maar Noag se God, Jehovah, het ’n heeltemal ander beskouing van hierdie man gehad.
God se Woord sê: “Noag het met die ware God gewandel” (Genesis 6:9). Wat beteken dit? Nie dat God op die aarde gewandel het of dat Noag op die een of ander manier hemel toe is nie. Dit het eerder beteken dat Noag sy God so nougeset gehoorsaam het en hom so innig liefgehad het dat dit was asof hy en Jehovah as vriende saam gewandel het. Duisende jare later het die Bybel van Noag gesê: “Deur [sy] geloof het hy die wêreld veroordeel” (Hebreërs 11:7). Hoe het Noag dit gedoen? Wat kan ons vandag uit sy geloof leer?
’N ONBERISPELIKE MAN IN ’N VERDORWE WÊRELD
Noag het grootgeword in ’n wêreld wat vinnig agteruitgegaan het. Dit was al erg in die dae van sy oupagrootjie Henog, nog ’n regverdige man wat met God gewandel het. Henog het voorspel dat ’n oordeelsdag op die goddelose mense van die wêreld wag. Nou, in Noag se dag, was die sedelike klimaat baie slegter. Trouens, vanuit Jehovah se standpunt was die aarde verdorwe, want dit was vol geweld (Genesis 5:22; 6:11; Judas 14, 15). Waarom het die situasie so vererger?
’n Verskriklike tragedie het hom onder God se geesseuns, die engele, afgespeel. Een van hulle het reeds teen Jehovah in opstand gekom en Satan die Duiwel geword deur God te belaster en Adam en Eva te verlok om te sondig. In Noag se dag het ander engele teen Jehovah se regverdige heerskappy in opstand begin kom. Hulle het hulle godgegewe woonplek in die hemel verlaat, na die aarde toe gekom, menseliggame aangeneem en vir hulle pragtige vrouens geneem. Hierdie trotse, selfsugtige opstandelinge het ’n verderflike invloed op mense gehad.—Genesis 3:1-5; 6:1, 2; Judas 6, 7.
Wat meer is, die onnatuurlike verbintenisse tussen gematerialiseerde engele en mensevroue het basterseuns tot gevolg gehad wat buitengewoon groot en sterk was. Die Bybel noem hulle Nefilim, wat letterlik “Neervellers”—dié wat ander laat val—beteken. Die Nefilim was wrede bullebakke wat die wêreld se gewelddadige, goddelose gees aangeblaas het. Geen wonder nie dat die Skepper gesien het dat “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was”. Jehovah het besluit dat hy daardie goddelose samelewing ná 120 jaar sou vernietig.—Genesis 6:3-5.
Stel jou voor hoe moeilik dit moes gewees het om ’n gesin in so ’n wêreld groot te maak! Maar Noag het dit reggekry. Hy het ’n goeie vrou gevind. Nadat Noag die ouderdom van 500 bereik het, het sy vrou vir hom drie seuns gebaar—Sem, Gam en Jafet. * Die ouers moes saam werk om hulle seuns te beskerm teen die slegte invloede om hulle. Klein seuntjies het gewoonlik groot ontsag en bewondering vir “sterkes” en “manne van naam”—en dit is juis wat die Nefilim was. Noag en sy vrou kon beslis nie voorkom dat hulle kinders berigte hoor oor die gewelddade van hierdie reuse nie, maar hulle kon hulle wel die aantreklike waarheid oor Jehovah God leer, die een wat alle goddeloosheid haat. Hulle moes hulle seuns help om te sien dat die geweld en opstandigheid in die wêreld Jehovah gekrenk laat voel.—Genesis 6:6.
Ouers van vandag kan hulle dalk maklik vereenselwig met Noag en sy vrou. Ons wêreld word ook deur geweld en opstandigheid gekenmerk. Selfs kindervermaak kan deurtrek wees daarvan. Verstandige ouers doen alles in hulle vermoë om sulke invloede teë te werk deur hulle kinders te leer omtrent die God van vrede, Jehovah, wat eendag ’n einde sal maak aan alle geweld (Psalm 11:5; 37:10, 11). Sukses is moontlik! Noag en sy vrou het sukses behaal. Hulle seuns het goeie mans geword, en hulle het met vroue getrou wat ook bereid was om die ware God, Jehovah, eerste in hulle lewe te stel.
“MAAK VIR JOU ’N ARK”
Eendag het Noag se lewe vir ewig verander. Jehovah het met hierdie geliefde kneg gepraat en hom vertel van Sy voorneme om ’n einde te maak aan die wêreld van daardie tyd. God het Noag beveel: “Maak vir jou ’n ark van die hout van ’n harsagtige boom.”—Genesis 6:14.
Hierdie ark was nie ’n skip, soos party dink nie. Dit het nie ’n boeg, agterstewe, kiel of stuur gehad nie—geen geboë lyne nie. Dit was basies ’n groot langwerpige kis. Jehovah het Noag die presiese afmetings vir die ark gegee, asook besonderhede in verband met die ontwerp daarvan en die opdrag om dit binne en buite met teer te bedek. En hy het vir Noag gesê waarom dit nodig is: “Ek bring die sondvloed van waters op die aarde . . . Alles wat op die aarde is, sal sterf.” Jehovah het Noag egter die volgende opdrag gegee: “Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vrouens saam met jou.” Noag moes ook verteenwoordigers van al die soorte diere in die ark inbring. Slegs dié in die ark sou die komende Vloed oorleef!—Genesis 6:17-20.
Noag het ’n reusetaak gehad. Hierdie ark sou kolossaal wees—133 meter lank, 22 meter breed en 13 meter hoog. Dit was baie groter as enige van die grootste seevarende houtskepe wat al in moderne tye gebou is. Het Noag weggeskram van hierdie taak, gekla oor die uitdagings wat dit inhou of die besonderhede verander om dit vir hom makliker te maak? Die Bybel antwoord: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Genesis 6:22.
Die werk het dekades geneem, dalk 40 tot 50 jaar. Hulle moes bome afkap, die stompe na die bouterrein sleep, asook balke regkap, vorm en las. Die ark sou drie verdiepings, ’n aantal afdelings en ’n deur aan die sykant hê. Daar was klaarblyklik vensters al langs die bokant, en die dak was waarskynlik hoër in die middel sodat die water kon afloop.—Genesis 6:14-16.
Namate die jare verbygegaan het en die ark vorm aangeneem het, was Noag seker baie bly om die ondersteuning van sy gesin te hê! Daar was nog ’n aspek van die werk wat moontlik selfs moeiliker was as die bouwerk aan die ark. Die Bybel sê vir ons dat Noag “’n prediker van regverdigheid” was (2 Petrus 2:5). Hy het dus moedig die voortou daarin geneem om daardie bose, goddelose gemeenskap te probeer waarsku oor die vernietiging wat vir hulle voorgelê het. Hoe het hulle gereageer? Jesus Christus het later van daardie tyd gepraat en gesê dat die mense destyds “geen ag daarop geslaan” het nie. Hy het gesê dat hulle so verdiep was in hulle daaglikse bedrywighede—hulle het geëet, gedrink en getrou—dat hulle geen ag geslaan het op Noag se waarskuwing nie (Matteus 24:37-39). Daar was ongetwyfeld baie mense wat met hom en sy gesin die spot gedryf het; party het hom moontlik selfs gedreig en hom hewig teëgestaan.
Maar Noag en sy gesin het nooit tou opgegooi nie. Al het hulle gelewe in ’n wêreld wat daarop uit was om hulle hoofdoel in die lewe, naamlik om die ark te bou, onbelangrik, dwaas of belaglik te laat lyk, het hulle getrou daarmee volgehou. Christengesinne van vandag kan dus baie leer uit die geloof van Noag en sy gesin. Ons lewe immers in ’n tyd wat die Bybel “die laaste dae” van hierdie wêreldstelsel noem (2 Timoteus 3:1). Jesus het gesê dat ons dae sou wees net soos die dae waarin Noag die ark gebou het. As die wêreld met onverskilligheid, bespotting of selfs vervolging reageer op die boodskap oor God se Koninkryk, kan Christene gerus aan Noag dink. Hulle is nie die eerstes wat voor sulke uitdagings te staan kom nie.
“GAAN IN DIE ARK IN”
Dekades het verbygegaan, en die bouwerk aan die ark het geleidelik voltooiing genader. Toe Noag amper 600 jaar oud was, het hy tragiese gebeure ervaar. Sy vader, Lameg, het gesterf. * Vyf jaar later het Lameg se vader, Noag se grootvader Metusalag, op die ouderdom van 969 gesterf—dit was die einde van die langste menselewe in die Bybelverslag (Genesis 5:27). Metusalag sowel as Lameg was tydgenote van die eerste mens, Adam.
In daardie selfde jaar het die aartsvader Noag ’n nuwe boodskap van Jehovah God ontvang: “Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin.” Terselfdertyd het God vir Noag gesê om al die soorte diere in die ark in te neem—sewe van elke rein dier, wat vir offerandes gebruik kon word, en twee elk van die res.—Genesis 7:1-3.
Dit moes ’n onvergeetlike toneel gewees het. Van sover as wat die oog kon sien, het hulle by die honderde aangestroom gekom—party het geloop, ander het gevlieg, gekruip, gewaggel of geskuifel. Daar was ’n verstommende verskeidenheid groottes, vorme en geaardhede. Ons moenie dink dat die arme Noag al hierdie wilde diere met ’n groot gesukkel moes aankeer en op ’n manier in die ark moes probeer inlok nie. Die verslag sê dat hulle “na Noag in die ark ingegaan” het.—Genesis 7:9.
Party skeptici vra dalk: ‘Hoe kon so iets gebeur? En hoe kon al hierdie diere in vrede saamlewe in ’n beknopte ruimte?’ Dink hieraan: Is dit werklik te moeilik vir die Skepper van die heelal om sy diereskepping te beheer en hulle selfs mak en gedwee te maak indien nodig? Onthou, Jehovah is die God wat die Rooisee verdeel het en die son laat stilstaan het. Kon hy dan nie alles wat in Noag se verslag beskryf word, laat plaasvind nie? Natuurlik kon hy, en hy het!
God kon sy diereskepping weliswaar op ’n ander manier gered het. Maar hy het wyslik besluit op ’n manier wat ons herinner aan die vertroue wat hy oorspronklik in die mens gestel het om na alle lewende dinge op die aarde om te sien (Genesis 1:28). Vandag gebruik baie ouers dus Noag se verhaal om hulle kinders te leer dat Jehovah omgee vir die mense en die diere wat hy geskep het.
Jehovah het vir Noag gesê dat die Vloed oor ’n week sou kom. Dit moes ’n baie besige tyd vir sy gesin gewees het. Stel jou voor hoeveel werk dit was om al die diere en hulle kos in die ark te organiseer en die gesin se besittings aan boord te kry. Noag se vrou en die vrouens van Sem, Gam en Jafet was dalk baie besig om die ark in ’n leefbare tuiste te omskep.
Wat van die gemeenskap? Hulle het nog steeds “geen ag daarop geslaan” nie—ten spyte van al die bewyse dat Jehovah Noag en sy werk geseën het. Hulle kon nie anders as om te sien hoe al die diere die ark binnegaan nie. Hulle onverskilligheid moet ons egter nie verbaas nie. Vandag slaan mense geen ag op die oorweldigende getuienis dat ons nou in die laaste dae van hierdie wêreldstelsel van dinge lewe nie. En soos die apostel Petrus voorspel het, het spotters gekom met hulle spotterny, en hulle bespot diegene wat op God se waarskuwing ag slaan (2 Petrus 3:3-6). Mense het sekerlik ook die spot gedryf met Noag en sy gesin.
Wanneer het die bespotting tot ’n einde gekom? Die verslag laat ons nie in die duister nie. Nadat Noag sy gesin en die diere in die ark ingebring het, “het Jehovah die deur agter hom toegesluit”. As daar enige spotters naby was, het hierdie daad van God hulle ongetwyfeld stilgemaak. Indien nie, het die reën dit sekerlik gedoen—dit het skielik begin neerstort! En dit het gereën en gereën en gereën—sodat die wêreld oorstroom was, net soos Jehovah gesê het.—Genesis 7:16-21.
Het Jehovah behae geskep in die dood van hierdie goddelose mense? Nee! (Esegiël 33:11). Inteendeel, hy het hulle baie geleenthede gegee om hulle weë te verander en te doen wat reg is. Kon hulle dit gedoen het? Noag se lewe voorsien die antwoord. Noag het getoon dat oorlewing moontlik is as ’n mens met Jehovah wandel en God in alles gehoorsaam. Sodoende het hy die wêreld van sy dag deur sy geloof veroordeel; dit het die goddeloosheid van sy geslag blootgelê. Sy geloof het hom en sy gesin gered. As jy die geloof van Noag navolg, sal dit jou en diegene vir wie jy lief is, grootliks tot voordeel strek. Soos Noag, kan jy wandel met Jehovah God as jou vriend. En hierdie vriendskap kan vir ewig duur!
^ par. 10 Destyds het mense baie langer gelewe as wat ons vandag lewe. Dit was klaarblyklik omdat hulle baie nader was aan die volmaaktheid en lewenskragtigheid wat Adam en Eva eens gehad het, maar verloor het.
^ par. 20 Lameg het sy seun die naam Noag gegee—wat waarskynlik “Rus; Vertroosting” beteken—en het voorspel dat Noag sy naam gestand sou doen deur die mensdom rus te gee van hulle geswoeg om die vervloekte grond te bewerk (Genesis 5:28, 29). Lameg het gesterf voordat hierdie profesie vervul is.