’n Sinvolle lewe—Jesus wys hoe dit moontlik is
“Lewe soos Jesus gelewe het.”—1 Johannes 2:6, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
SOOS ons in die vorige artikel bespreek het, het Jesus ’n sinvolle lewe gelei. As ons ons lewe sinvol wil maak, moet ons dus sy voorbeeld volg en na sy raad luister.
Trouens, Jehovah spoor ons aan om juis dit te doen, soos die teks hierbo toon. Om te lewe soos Jesus gelewe het, behels dat ons hele lewenswyse met sy voorbeeld en leringe ooreenstem. As ons dit doen, sal dit ons help om God se goedkeuring te verkry en ’n sinvolle lewe te lei.
Jesus se leringe het beginsels ingesluit wat ons kan help om te lewe soos hy gelewe het. Ons vind ’n aantal van hierdie beginsels in sy beroemde Bergpredikasie. Kom ons bespreek ’n paar van die beginsels en hoe ons dit in ons lewe kan toepas.
BEGINSEL: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.
HOE DIE BEGINSEL TOT ’N SINVOLLE LEWE BYDRA:
Jesus het aangedui dat mense ’n ingebore geestelike behoefte het. Ons wil graag antwoorde hê op vrae soos: Waarom is ons hier? Waarom is daar soveel lyding op hierdie aarde? Gee God werklik vir ons om? Is daar lewe ná die dood? Ons het die antwoorde op sulke vrae nodig om ’n sinvolle lewe te kan lei. Jesus het geweet dat daar net een betroubare bron is wat antwoorde op hierdie vrae kan voorsien—God se Woord. Jesus het in gebed tot sy Vader gesê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Kan God se Woord ons werklik help om ons geestelike behoefte te bevredig?
WERKLIKE VOORBEELD:
Esa was die hoofsanger van ’n gewilde groep, en sy vooruitsigte om ’n rockster te word, het baie belowend gelyk. Esa het nogtans gevoel dat iets in sy lewe ontbreek. “Hoewel ek dit geniet het om deel van die rockgroep te wees, het ek na ’n sinvoller lewe gesmag”, sê hy. Later het Esa egter met een van Jehovah se Getuies gesels. “Ek het hom met vrae bestook”, vertel Esa. “Sy logiese, skriftuurlike antwoorde het my belangstelling gewek, en daarom het ek ingestem om die Bybel saam met hom te studeer.” Wat Esa uit sy studie van die Bybel geleer het, het sy hart geraak en hom beweeg om sy lewe aan Jehovah toe te wy. “In die verlede het ek die een probleem en krisis ná die ander gehad”, sê hy. “Nou het ek ’n ware doel in die lewe.” *
BEGINSEL: “Gelukkig is die barmhartiges.”—Matteus 5:7.
HOE DIE BEGINSEL TOT ’N SINVOLLE LEWE BYDRA:
Barmhartigheid behels dat ’n mens medelye aan ander betoon en goedhartig en bedagsaam teenoor hulle is. Jesus het barmhartigheid bewys aan persone wat hulp nodig gehad het. Diepe medelye het hom beweeg om die inisiatief te neem om ander se lyding te verlig (Matteus 14:14; 20:30-34). As ons Jesus navolg deur barmhartig te wees, maak dit ons lewe sinvoller, want diegene wat barmhartigheid aan ander bewys, sal gelukkig wees (Handelinge 20:35). Ons kan barmhartigheid aan ander bewys deur ons vriendelike woorde en dade en deur hulp te verleen aan diegene wat dit nodig het. Maar het dit werklik ’n goeie uitwerking op ons welsyn as ons barmhartigheid bewys?
WERKLIKE VOORBEELD:
Maria en haar man, Carlos, is ’n goeie voorbeeld wat barmhartigheid betref. Maria se vader is ’n wewenaar, en hy het in onlangse jare bedlêend geword. Maria en Carlos het hom in hulle huis ingeneem en hulle voorsien in al sy behoeftes. Hulle het al talle slapelose nagte gehad en het weens sy suikersiekte selfs al met hom na die hospitaal gejaag. Hulle erken dat hulle soms doodmoeg is. Maar hulle is gelukkig, net soos Jesus gesê het, want hulle put groot bevrediging uit die wete dat hulle Maria se vader die sorg gee wat hy nodig het.
BEGINSEL: “Gelukkig is die vredeliewendes.”—Matteus 5:9.
HOE DIE BEGINSEL TOT ’N SINVOLLE LEWE BYDRA:
Om vredeliewend te wees, beteken letterlik om ’n “vredemaker” te wees. Hoe maak dit ’n mens se lewe sinvoller as jy ’n vredemaker is? Om maar een ding te noem, ons geniet beter verhoudings met diegene om ons. Dit sal verstandig van ons wees om ag te slaan op die Bybel se raad: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). “Alle mense” sluit gesinslede en ander in wat dalk nie aan dieselfde geloof as ons behoort nie. Sal ons lewe werklik sinvoller wees as ons vreedsaam teenoor “alle mense” is?
WERKLIKE VOORBEELD:
Kyk na die ondervinding van ’n vrou met die naam Nair. Oor die jare heen het sy voor baie uitdagings te staan gekom wat haar vermoë beproef het om die vrede te bewaar, veral in haar gesin. Toe haar man haar omtrent 15 jaar gelede verlaat het, moes sy haar kinders alleen verder grootmaak. Een van haar seuns het ’n dwelmprobleem gehad en was dikwels onbeheerbaar en het haar en haar dogter gedreig. Nair glo dat wat sy uit die Bybel geleer het, haar die krag gegee het om die vrede te bewaar, selfs onder sulke moeilike omstandighede. Sy probeer om nie te stry of te baklei oor dinge nie. Sy doen haar bes om ander met goedhartigheid, simpatie en begrip te behandel (Efesiërs 4:31, 32). Sy is oortuig dat die vredeliewende gesindheid wat sy aangeleer het, haar in staat gestel het om die bes moontlike verhouding met haar gesinslede en ander te hê.
KENNIS VAN WAT DIE TOEKOMS INHOU
As ons Jesus se wyse raad volg, sal ons geluk en tevredenheid in die lewe vind. Maar ons moet ook weet wat die toekoms inhou as ons ’n waarlik sinvolle lewe wil hê. Hoe sinvol kan die lewe immers wees as ons verwag dat ons maar net uiteindelik sal oud word, siek word en sterf? Tog is dit deel van die lewe in hierdie wêreld.
Daar is egter goeie nuus! Jehovah gaan baie seëninge uitstort op almal wat daarna streef om te “lewe soos Jesus gelewe het”. Jehovah belowe dat hy binnekort ’n regverdige nuwe wêreld tot stand gaan bring, waar getroue mense sal lewe soos Jehovah wou gehad het hulle moet lewe—vir ewig in volmaakte gesondheid. Sy Woord sê: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
Maria, die 84-jarige vrou wat in die eerste artikel in hierdie reeks genoem is, is verheug oor die vooruitsig om te sien hoe hierdie woorde bewaarheid word. Wat van jou? Wil jy graag meer weet omtrent “die werklike lewe”—die lewe wat mense onder God se Koninkryk gaan geniet? (1 Timoteus 6:19). Indien wel, kan jy Jehovah se Getuies in jou omgewing vra of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. *
^ par. 8 Jy kan Esa se hele verhaal in die artikel “Die Bybel verander lewens—My gedrag was aanstootlik” lees.
^ par. 18 Die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, het baie mense al gehelp om die Bybel volgens onderwerp te bestudeer.