Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreld sonder vooroordeel—Wanneer?

’n Wêreld sonder vooroordeel—Wanneer?

“EK HET ’n droom.” Vyftig jaar gelede, op 28 Augustus 1963, het Martin Luther King, jr., ’n Amerikaanse burgerregteleier, hierdie woorde in sy bekendste toespraak gesê. King het hierdie treffende woorde ’n paar keer herhaal toe hy vertel het van sy droom, of hoop, dat mense eendag ’n lewe sonder rassevooroordeel sal geniet. Hoewel hy destyds met ’n gehoor in die Verenigde State gepraat het, het mense in baie nasies die kern van sy droom aangeneem.

Martin Luther King, jr., hou sy toespraak oor burgerregte

Drie maande ná King se toespraak, op 20 November 1963, het meer as 100 lande die Verenigde State se Verklaring oor die Uitwissing van Alle Soorte Rassediskriminasie aangeneem. Gedurende die daaropvolgende dekades is ander verklarings regoor die wêreld aangeneem. Al hierdie prysenswaardige pogings laat die vraag ontstaan: Wat was die gevolg?

Op 21 Maart 2012 het die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon gesê: “Daar is talle nuttige ooreenkomste en hulpmiddele—asook ’n omvattende wêreldwye raamwerk—om rassisme, rassediskriminasie, vreemdelingehaat en verwante onverdraagsaamheid te voorkom en uit te roei. Tog veroorsaak rassisme nog steeds lyding vir miljoene mense regoor die wêreld.”

Selfs in lande waar daar ’n mate van vooruitgang gemaak is in die stryd teen rassevooroordeel en ander soorte vooroordeel, is die vraag nog steeds: Het die verbeteringe werklik die diepgewortelde gevoelens van mense uitgewis of het dit bloot gekeer dat mense aan hierdie gevoelens uiting gee? Party meen dat hierdie verbeteringe net help om diskriminasie te voorkom, maar moontlik niks kan doen om vooroordeel uit te wis nie. Waarom is dit die geval? Want diskriminasie is ’n daad wat gesien en volgens die wet gestraf kan word, terwyl vooroordeel verband hou met mense se gedagtes en emosies, wat nie maklik beheer kan word nie.

Daarom moet enige poging om vooroordeel uit te wis, nie net dade van diskriminasie voorkom nie, maar ook ’n persoon se gedagtes en gevoelens teenoor mense van ’n ander groep verander. Kan dit werklik gedoen word? Indien wel, hoe? Kom ons kyk na ’n paar werklike gevalle wat sal toon dat dit nie net vir mense moontlik is om hierdie verandering aan te bring nie, maar dat daar ook iets is wat hulle kan help om dit te doen.

DIE BYBEL HET HULLE GEHELP OM VOOROORDEEL TE OORKOM

‘Ek voel dat ek vry is van vooroordeel.’—Linda

Linda: Ek is in Suid-Afrika gebore. Ek het enige Suid-Afrikaners wat nie wit is nie, beskou as minderwaardig, onopgevoed, onbetroubaar en net as bediendes vir die witmense. Ek was baie bevooroordeeld en het dit nie eers besef nie. Maar hierdie gesindheid het geleidelik verander toe ek die Bybel begin studeer het. Ek het geleer dat “God nie partydig is nie” en dat die hart belangriker is as ons velkleur of die taal wat ons praat (Handelinge 10:34, 35; Spreuke 17:3). Die teks in Filippense 2:3 het my help besef dat ek vooroordeel sal kan oorkom as ek almal hoër as myself ag. Om volgens sulke Bybelbeginsels te lewe, het my gehelp om belangstelling in ander te toon ongeag hulle velkleur. Nou voel ek dat ek vry is van vooroordeel.

‘Ek het geleer hoe God mense beskou.’—Michael

 Michael: Ek het grootgeword in ’n gebied waar die meeste mense wit Australiërs was, en ek het baie bevooroordeeld geword teenoor Asiate, veral Chinese. Wanneer ek by iemand verbygery het wat Asiaties gelyk het, het ek my venster afgedraai en iets beledigends geskreeu soos: “Gaan huis toe, Asiaat!” Toe ek later die Bybel begin studeer het, het ek geleer hoe God mense beskou. Hy is lief vir hulle ongeag waar hulle vandaan kom of hoe hulle lyk. Hierdie liefde het my hart geraak, en my haat het in liefde verander. Om so ’n groot verandering te ondervind, is wonderlik. Ek geniet dit nou baie om met mense van alle lande en agtergronde te assosieer. Dit verruim my lewensuitkyk en verskaf my baie vreugde.

“Ek het my denke aangepas en vrede gemaak.”—Sandra

Sandra: My ma het van Umunede in Delta-staat, Nigerië, gekom. Maar my pa se familie kom van Edo-staat en praat Esan. As gevolg van hierdie verskille was my ma die slagoffer van hewige vooroordeel deur my pa se familie tot die dag dat sy gesterf het. Daarom het ek gesweer dat ek niks te doen sou hê met enigiemand wat Esan praat en dat ek nooit met enigiemand van Edo-staat sou trou nie. Maar toe ek die Bybel begin studeer het, het my beskouing verander. Hoe kan ek mense weens hulle stam of taal haat as die Bybel sê dat God nie partydig is nie en dat enigiemand wat hom vrees, vir hom aanneemlik is? Ek het my denke aangepas en vrede gemaak met my pa se familie. Omdat ek Bybelbeginsels toepas, is ek gelukkig en het ek gemoedsrus. Dit het my ook gehelp om met ander oor die weg te kom ongeag hulle agtergrond, ras, taal of nasionaliteit. En wat van die man met wie ek getrou het? Hy is van Edo-staat en praat Esan!

Waarom kon die Bybel hierdie en baie ander mense help om diepgewortelde haat en vooroordeel te oorkom? Omdat die Bybel God se Woord is. Dit het die krag om te verander hoe ons oor ander mense voel en hoe ons hulle beskou. Wat meer is, die Bybel toon wat anders nodig is om ’n einde aan alle vooroordeel te maak.

 GOD SE KONINKRYK SAL ’N EINDE AAN ALLE VOOROORDEEL MAAK

Hoewel Bybelkennis kan help om sterk emosies te beheers en uit te roei, moet twee ander elemente uit die weg geruim word voordat vooroordeel heeltemal uitgewis kan word. Eerstens is daar sonde en menslike onvolmaaktheid. Die Bybel sê uitdruklik: “Daar is geen mens wat nie sondig nie” (1 Konings 8:46). Ongeag hoe hard ons probeer doen wat reg is, ons het dieselfde innerlike stryd as die apostel Paulus, wat geskryf het: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Romeine 7:21). Ons onvolmaakte hart sal dus nou en dan weer in “skadelike redenasies” verval wat tot vooroordeel kan lei.—Markus 7:21.

Tweedens is daar die invloed van Satan die Duiwel. Die Bybel beskryf hom as “’n mensemoordenaar” en sê dat hy “die hele bewoonde aarde mislei” (Johannes 8:44; Openbaring 12:9). Dít verduidelik waarom vooroordeel so algemeen is en waarom die mensdom net nie daarin kan slaag om verkramptheid, diskriminasie, volksmoord en ander soorte vooroordeel weens ras, godsdiens of maatskaplike stand uit die weg te ruim nie.

Voordat vooroordeel heeltemal uitgewis kan word, moet menslike sonde, onvolmaaktheid en die invloed van Satan die Duiwel dus verwyder word. Die Bybel toon dat God se Koninkryk juis dit sal doen.

Jesus Christus het sy volgelinge geleer om tot God te bid met hierdie woorde: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). God se Koninkryk is die middel waardeur alle onregte—insluitende alle soorte onverdraagsaamheid en vooroordeel—uit die weg geruim sal word.

Wanneer God se Koninkryk kom en beheer oor die aarde se aangeleenthede oorneem, sal Satan “gebind” word, of verhinder word om enigiets te doen, sodat “hy die nasies nie meer [sal] mislei” nie (Openbaring 20:2, 3). Dan sal daar ’n “nuwe aarde”, of mensegemeenskap, wees, “en daarin sal regverdigheid woon”. *2 Petrus 3:13.

Diegene wat sal deel uitmaak van hierdie regverdige mensegemeenskap, sal tot volmaaktheid gebring word en vry van sonde wees (Romeine 8:21). As onderdane van God se Koninkryk sal hulle “geen kwaad doen of enige verderf aanrig” nie. Waarom nie? “Want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jesaja 11:9). Dan sal alle mense Jehovah God se weë leer en sy liefdevolle persoonlikheid navolg. Dit sal beslis die einde van alle vooroordeel beteken, “want daar is geen partydigheid by God nie”.—Romeine 2:11.

^ par. 17 Vir meer inligting oor God se Koninkryk en wat dit binnekort sal doen, sien hoofstukke 3, 8 en 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.