Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEER JOU KINDERS

God kan seergemaak voel—Hoe ons hom bly kan maak

God kan seergemaak voel—Hoe ons hom bly kan maak

Is jy al ooit so seergemaak dat jy gehuil het? * Dit het seker al met ons almal gebeur. Maar soms is die pyn nie liggaamlik nie. Iemand sê dalk slegte dinge oor ons wat nie waar is nie. Dit kan seermaak, nie waar nie?— God kan ook seergemaak voel wanneer leuens oor hom vertel word. Kom ons praat hieroor en kyk hoe ons God eerder bly kan maak as hartseer.

Die Bybel sê dat party mense wat gesê het dat hulle God liefhet, hom “gekrenk” het, of hom seergemaak laat voel het. Ja, hulle het God “bedroef”! Kom ons kyk hoekom Jehovah seergemaak voel wanneer ons nie doen wat hy sê nie.

Die eerste twee mense wat Jehovah op die aarde geskep het, het hom baie pyn veroorsaak. Hulle is in die Paradys op die aarde geplaas, wat “die tuin van Eden” genoem is. Wie was hierdie twee mense?— Ja, eers Adam en toe, ’n ruk later, Eva. Kom ons kyk wat hulle gedoen het wat Jehovah seergemaak het.

Nadat Jehovah hulle in daardie tuin geplaas het, het hy vir hulle gesê om daarna om te sien. Hy het ook vir hulle gesê dat hulle kinders kan hê en saam in die tuin kan lewe sonder om dood te gaan. Maar voordat Adam en Eva kinders gehad het, het iets vreesliks gebeur. Weet jy wat dit was?— ’n Engel het vir Eva en toe vir Adam sover gekry om teen Jehovah in opstand te kom. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

Die engel het dit laat lyk asof ’n slang praat. Eva het gehou van wat sy gehoor het—die slang het gesê dat sy “soos God” sou word. Daarom het sy gedoen  wat die slang gesê het sy moet doen. Weet jy wat dit was?

Eva het geëet van die boom waarvan Jehovah vir Adam gesê het hulle nie mag eet nie. Voordat God Eva geskep het, het hy vir Adam gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf.”

Eva het hierdie wet geken. Maar sy het bly kyk na daardie boom en sy het gesien dat dit “goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is . . . Toe het sy van sy vrugte begin neem en dit geëet.” Later het sy van die vrugte vir Adam gegee, en “hy het dit begin eet”. Hoekom dink jy het hy dit gedoen?— Dit was omdat Adam liewer was vir Eva as vir Jehovah. Hy wou haar eerder bly maak as om God bly te maak. Maar om aan Jehovah gehoorsaam te wees, is belangriker as om aan enigiemand anders gehoorsaam te wees!

Onthou jy die slang wat met Eva gepraat het? Net soos ’n mens dit kan laat lyk asof ’n pop praat, het iemand dit laat lyk asof die slang praat. Wie se stem het van die slang af gekom?— Dit was die stem van “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word”.

Weet jy hoe jy Jehovah gelukkig kan maak?— Jy kan dit doen deur hom altyd te probeer behaag. Satan sê dat hy almal sover kan kry om te doen wat hy wil hê hulle moet doen. Jehovah spoor ons dus aan: “Wees wys, my seun [of dogter], en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Satan tart Jehovah uit, of bespot hom. Hy sê dat hy almal sover kan kry om op te hou om God te dien. Maak Jehovah dus gelukkig deur hom te gehoorsaam en te dien! Sal jy hard probeer om dit te doen?

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.