Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

KOM NADER AAN GOD

“Die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”

“Die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”

Waardeer Jehovah sy aanbidders se pogings om hom te behaag? Party sê dalk nee en beweer dat God nie in ons belangstel nie. Maar hierdie bewering stel God heeltemal verkeerd voor. Sy Woord, die Bybel, verskaf die ware feite. Dit verseker ons dat Jehovah die pogings van sy getroue aanbidders waardeer. Kyk na die woorde van die apostel Paulus in Hebreërs 11:6.

Wat is nodig om Jehovah te behaag? “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees”, skryf Paulus. Let daarop dat Paulus nie sê dat dit moeilik is om God sonder geloof te behaag nie. Die apostel sê eerder dat dit onmoontlik is. Met ander woorde, geloof is noodsaaklik om God te behaag.

Watter soort geloof behaag Jehovah? Ons geloof in God moet twee aspekte insluit. Eerstens, ons “moet glo dat hy is”. Ander vertalings sê “glo dat hy ’n werklike persoon is” en “glo dat hy bestaan”. Hoe sal ons God ooit kan behaag as ons nie eers seker is dat hy bestaan nie? Maar ware geloof behels meer, want selfs die demone glo dat Jehovah bestaan (Jakobus 2:19). As ons glo dat God ’n werklike persoon is, sal dit ons beweeg om op te tree, dit wil sê om ons geloof te bewys deur op ’n manier te lewe wat hom behaag.—Jakobus 2:20, 26.

Tweedens, ons “moet glo dat” God “die beloner” is. Iemand wat ware geloof het, is ten volle oortuig dat sy pogings om op ’n manier te lewe wat God behaag, nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:58). Hoe kan ons Jehovah behaag as ons twyfel dat hy die vermoë of begeerte het om ons te beloon? (Jakobus 1:17; 1 Petrus 5:7). Iemand wat die gevolgtrekking maak dat God ongevoelig, sonder waardering en onvrygewig is, ken nie die God van die Bybel nie.

Wie word deur Jehovah beloon? “Dié wat hom ernstig soek”, sê Paulus. ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat die Griekse woord wat met “ernstig soek” weergegee word, nie “uitgaan om te vind” beteken nie, maar eerder daarop dui dat God “in aanbidding” genader word. ’n Ander naslaanwerk verduidelik dat die vorm van hierdie Griekse werkwoord op intensiteit en kragtige inspanning dui. Ja, Jehovah beloon diegene wie se geloof hulle beweeg om hom met hartgrondige liefde en ywer te aanbid.—Matteus 22:37.

Hoe kan ons Jehovah behaag as ons twyfel dat hy die vermoë of begeerte het om ons te beloon?

Hoe beloon Jehovah sy getroue aanbidders? Hy belowe ’n wonderlike toekomstige beloning wat toon hoe vrygewig en liefdevol hy is—die ewige lewe in die Paradys op aarde (Openbaring 21:3, 4). Diegene wat Jehovah ernstig soek, geniet nou reeds ryk seëninge. Met die hulp van sy heilige gees en die wysheid wat in sy Woord gevind word, geniet hulle ’n lonende en bevredigende lewenswyse.—Psalm 144:15; Matteus 5:3.

Jehovah is waarlik ’n waarderende God wat sy toegewyde aanbidders se getroue diens hoog op prys stel. Beweeg hierdie wete jou om nader aan hom te wil kom? Indien wel, kan jy gerus meer leer oor hoe jy die soort geloof wat Jehovah ryklik sal beloon, kan aankweek en openbaar.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir November

Titus 1-3; Filemon 1-25; Hebreërs 1-13Jakobus 1-5