Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek het Jehovah se diens my loopbaan gemaak

Ek het Jehovah se diens my loopbaan gemaak

Nadat ek my hoërskoolloopbaan in Januarie 1937 voltooi het, het ek ingeskryf by die Universiteit van Iowa, nie ver van waar ons gewoon het in die Midde-Weste van die Verenigde State nie. Terwyl ek klas geloop het en gewerk het om vir my studies te betaal, het ek min tyd vir enigiets anders gehad. Van jongs af het ek baie belanggestel in hoë geboue en hangbrûe.

Vroeg in 1942, kort nadat die Verenigde State by die Tweede Wêreldoorlog betrokke geraak het, was ek in my vyfde universiteitsjaar en sou ek net ’n paar maande later my baccalaureusgraad in boukundige ingenieurswese ontvang. Ek het saam met twee kamermaats gewoon. Een het voorgestel dat ek gesels met die persoon wat “die ouens op die grondverdieping besoek”. Daar het ek John O. (Johnny) Brehmer, een van Jehovah se Getuies, ontmoet. Dit het my verbaas dat hy die Bybel se antwoord op feitlik enige vraag kon vind. Ek was beïndruk en het die Bybel gereeld saam met Johnny begin studeer, en ek het hom later, wanneer ek ook al kon, in sy predikingswerk vergesel.

Johnny se pa, Otto, het ’n Getuie geword terwyl hy die hoofbestuurder was van ’n bank in Walnut, Iowa. Otto het uit hierdie pos bedank om die voltydse bediening te betree. Sy goeie voorbeeld, sowel as dié van sy gesin, het my later aangespoor om ’n baie belangrike besluit te neem.

TYD OM TE BESLUIT

Eendag het die dekaan van die universiteit vir my gesê dat my punte versleg en dat ek nie op grond van my vorige prestasies my graad sal kry nie. Ek onthou dat ek vurig tot Jehovah God gebid en sy leiding gevra het. Kort daarna het my professor in ingenieurswese my ingeroep. Hy het vir my gesê dat hy in kennis gestel is van ’n beskikbare ingenieurspos en dat hy hom veroorloof het om die telegram te beantwoord en te sê dat ek die pos sal aanvaar. Ek het die professor bedank, maar het verduidelik waarom ek vasbeslote is om Jehovah se diens my loopbaan te maak. Ek is op 17 Junie 1942 gedoop en byna onmiddellik aangestel as ’n pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word.

Later in 1942 is ek vir militêre diens opgeroep en het ek voor die dienspligraad verskyn om te verduidelik waarom my gewete my nie toelaat om aan die oorlog deel te neem nie. Ek het beëdigde verklarings voorgelê waarin my universiteitsprofessors getuig het van my goeie karakter en my uitsonderlike vaardighede as ’n boukundige ingenieur. Maar ondanks hierdie goeie getuigskrifte is ek uiteindelik ’n boete van $10 000 (VSA) opgelê en tot vyf jaar tronkstraf in die Amerikaanse strafgevangenis in Leavenworth, Kansas, gevonnis.

MY LEWE IN DIE TRONK

Meer as 230 jong Getuies moes hulle vonnis uitdien op die Leavenworth-gevangenisplaas. Dit was ’n plaas waar ons werkstoewysings onder die toesig van ’n hele paar wagte ontvang het. Party van hulle het geweet van ons Christelike neutraliteit en was ons beskouings goedgesind.

’n Paar wagte het saamgewerk met ons pogings om gereeld Bybelvergaderinge te hou. Hulle het ons ook gehelp om Bybellektuur in die tronk in te kry. Die hooftronkbewaarder het selfs op die Vertroosting (nou Ontwaak!) ingeteken!

MY VRYLATING EN DIE SENDINGDIENS

Nadat ek drie jaar van my vonnis van vyf jaar uitgedien het, is ek vrygelaat op 16 Februarie 1946, ’n paar maande nadat die Tweede Wêreldoorlog geëindig het. Ek het die voltydse bediening onmiddellik weer as ’n pionier betree. My pioniertoewysing was in die stad Leavenworth, Kansas. Ek het vreeslik daarteen opgesien om terug te gaan, aangesien die mense daar baie bevooroordeeld teen Jehovah se Getuies was. Dit was moeilik om ’n werk te kry om my te onderhou, en nog moeiliker om blyplek te kry.

Ek onthou dat ’n wag wat ek in my bediening teëgekom het, geskreeu het: “Trap van my erf af!” Toe ek die bofbalkolf in sy hand sien, het ek geskrik en gou padgegee. By ’n ander huis het ’n vrou gesê: “Wag net ’n bietjie”, en die deur toegemaak. Terwyl ek gewag het, het ’n venster op die boonste verdieping skielik oopgegaan en is ’n klomp vuil skottelgoedwater oor my uitgegooi. Maar my bediening het ook seëninge meegebring. Later het ek gehoor dat van die mense wat Bybellektuur by my geneem het, Getuies geword het.

In 1943 is ’n nuwe skool vir sendelinge in die noorde van die staat New York gestig. Ek is genooi om die tiende klas by te woon en het op 8 Februarie 1948 gegradueer. Die skool is later die Wagtoring-Bybelskool Gilead genoem. Nadat ek gegradueer het, is ek na die Goudkus gestuur, wat nou bekend staan as Ghana.

Toe ek in die Goudkus aankom, was my toewysing om vir regeringsamptenare en Europeërs te getuig. Ek het gedurende naweke saam met ’n gemeente van Jehovah se Getuies gewerk en gemeentelede in die huis-tot-huis-bediening gehelp. Ek het ook plekke besoek waar afgesonderde Getuies gewoon het en hulle in die bediening opgelei. Daarbenewens het ek as ’n reisende opsiener gedien in die nabygeleë Ivoorkus, oftewel Côte d’Ivoire.

Terwyl ek in hierdie gebiede gedien het, het ek geleer om soos die plaaslike bevolking in Afrika te lewe—ek het in ’n modderhut geslaap, met my vingers geëet en, soos die Israeliete in die wildernis, “buite” gehurk (Deuteronomium 23:12-14). Gevolglik het ander ’n positiewe beskouing van my en my medesendelinge gekry. Die vrouens van party plaaslike amptenare het die Bybel saam met ons begin studeer. Toe teenstanders die lewe vir ons moeilik gemaak het en daarin geslaag het om ons visums te laat terugtrek, het die vrouens van die amptenare dus druk op hulle mans uitgeoefen en is die besluit herroep!

Ek het later, soos baie ander sendelinge in Afrika, malaria gekry. Koue rillings en hoë koors het my laat yl. Soms moes ek selfs my onderkaak vashou sodat my tande nie op mekaar klap nie. Ek het nietemin vreugde en tevredenheid uit my diens geput.

Gedurende my eerste vier jaar in Afrika het ek en Eva Hallquist, wat ek ontmoet het voordat ek uit die Verenigde State weg is, vir mekaar geskryf. Sy is na die 21ste klas van die Gileadskool genooi, en ek het gehoor dat sy op 19 Julie 1953 by die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York se Yankee-stadion sou gradueer. Ek het met ’n skeepskaptein gereël om op sy skip te werk as betaling vir my seereis na die Verenigde State.

Ná 22 dae, waartydens die see soms onstuimig was, het ek daar aangekom en toe na die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn gegaan om Eva te ontmoet. Daar, op ’n dak met ’n pragtige uitsig oor die stad New York en sy hawe, het ek haar gevra om met my te trou. Later het ons saam in die Goudkus gedien.

ONS VERSORG MY OUERS

Nadat ek en Eva ’n hele paar jaar lank in Afrika gedien het, het ek ’n brief van my ma ontvang, waarin sy gesê het dat my pa kanker het en sterwend is. Ons het toestemming gekry om ons toewysing tydelik te verlaat en het na die Verenigde State teruggekeer. My pa se gesondheid het vinnig agteruitgegaan, en hy is kort daarna oorlede.

Nadat ons byna vier jaar lank weer in Ghana gedien het, het ons gehoor dat my ma se gesondheid baie agteruitgegaan het. Party vriende het voorgestel dat ek en Eva teruggaan om haar te versorg. Dit was die moeilikste besluit wat ons ooit moes neem. Ná 15 jaar in die sendingdiens, waarvan ons 11 jaar saam gedien het, het ons na die Verenigde State teruggekeer.

Deur die jare heen het ons beurte gemaak om na my ma te kyk en het ons haar gehelp om die vergaderinge by te woon wanneer sy kon. Op 17 Januarie 1976 is sy op die ouderdom van 86 oorlede. Maar ’n groter slag het ons nege jaar later getref. Daar is vasgestel dat Eva kanker het. Ons het die siekte op elke moontlike manier beveg, maar sy het die stryd uiteindelik verloor en is op 4 Junie 1985 op 70-jarige ouderdom oorlede.

NOG VERANDERINGE IN ’N BEVREDIGENDE LOOPBAAN

In 1988 is ek genooi na die toewyding van die pas uitgebreide takkantoor in Ghana. Wat ’n onvergeetlike geleentheid! Sowat 40 jaar vroeër, toe ek ná my graduering aan Gilead in Ghana aangekom het, was daar net ’n paar honderd Getuies. Teen 1988 was daar meer as 34 000, en nou is daar byna 114 000!

Twee jaar nadat ek Ghana besoek het, het ek op 6 Augustus 1990 met Eva se hegte vriendin Betty Miller getrou. Ons het saam voortgegaan om Jehovah se diens ons loopbaan te maak. Ons sien uit na die dag wanneer ons ons grootouers, ouers en Eva weer sal sien wanneer hulle op die Paradysaarde opgewek word.—Handelinge 24:15.

Ek kry trane in my oë wanneer ek dink aan die ontsagwekkende voorreg om meer as 70 jaar lank deur Jehovah in sy diens gebruik te word. Ek dank hom dikwels omdat hy my gehelp het om sy diens my loopbaan te maak. Hoewel ek nou diep in die 90 is, gee Jehovah, die grootste boukundige ingenieur in die heelal, my voortdurend die krag en moed om vol te hou met my loopbaan om hom te dien.