Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe is slawe in die Romeinse wêreld behandel?

Nekband vir ’n Romeinse slaaf

In die Romeinse Ryk was daar baie slawe as gevolg van veroweringsoorloë of ontvoering. Dié wat gevange geneem is, is verkoop en het hulle huise of gesinne gewoonlik nooit weer gesien nie.

Baie slawe het weens hulle werk in die myne gesterf, terwyl die omstandighede van plaasarbeiders en huisslawe beter was. ’n Slaaf is soms gedwing om ’n ysternekband te dra met ’n inskripsie of ’n plaatjie waarop ’n beloning aangebied is vir iemand wat hom aan sy eienaar sou terugbesorg as hy sou wegloop. Slawe wat herhaaldelik probeer ontsnap het, kon op hulle voorkop gebrandmerk word, dikwels met die letter F vir fugitivus (voortvlugtige).

Die Bybelboek Filemon handel oor die wegloperslaaf Onesimus wat deur die apostel Paulus teruggestuur is na sy eienaar, Filemon. Hoewel Filemon die wetlike reg gehad het om Onesimus swaar te straf, het Paulus Filemon gevra om hom ‘vriendelik te ontvang’, op grond van liefde en vriendskap.Filemon 10, 11, 15-18.

Waarom was eertydse Fenisië beroemd vir sy purper kleurstof?

Fenisië, wat min of meer geleë was waar hedendaagse Libanon is, was bekend vir sy Tiriese purper kleurstof, wat na die stad Tirus vernoem is. Koning Salomo van eertydse Israel het sy tempel versier met “purperrooigekleurde wol” wat deur ’n vakman uit Tirus gemaak is.2 Kronieke 2:13, 14.

Tiriese purper was destyds die kosbaarste kleurstof wat bestaan het, grotendeels weens al die arbeid wat dit geverg het om dit te vervaardig. Eerstens het vissermanne groot hoeveelhede purperslakke * uit die see gehaal. Tot 12 000 is gebruik om die kleurstof vir ’n enkele kledingstuk te vervaardig. Daarna is hierdie seeslakke uit hulle skulp gehaal sodat hulle kleurkliere verwyder kon word. Kleurstofvervaardigers het sout hierby gevoeg en die mengsel drie dae lank aan die buitelug en die son blootgestel. Die mengsel is dan in ’n toe vat met seewater geplaas en ’n hele paar dae lank geprut.

Die Fenisiërs se handeldrywery en kolonisering het hulle in staat gestel om Tiriese purper honderde jare lank te vervaardig en in die aanvraag daarvoor te voorsien. Relieke van hulle kleurstofvervaardiging is in die omgewing van die Middellandse See en so ver wes as Cádiz, Spanje, gevind.

^ par. 8 Hulle skulpe is tussen vyf en agt sentimeter lank.