Thomas Emlyn —Godslasteraar of voorstander van waarheid?
WIE was Thomas Emlyn, en wat het hom beweeg om sy standpunt vir waarheid in te neem? Wat kan ons by hom leer wat ons vandag kan help?
Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons teruggaan na die laat 17de en die vroeë 18de eeu in Engeland en Ierland. Die Anglikaanse Kerk het toe aansienlike gesag uitgeoefen. Verskeie Protestantse groepe en individue het nie met die kerk saamgestem nie.
WIE WAS THOMAS EMLYN?
Thomas Emlyn is op 27 Mei 1663 in Stamford, in die graafskap Lincoln, Engeland, gebore. Op 19-jarige ouderdom het hy sy eerste preek gelewer. Later het hy as kapelaan gedien vir ’n gravin wat in Londen gewoon het; en nog later het hy na Belfast, Ierland, getrek.
In Belfast was hy die predikant van ’n plaaslike kerk. Met verloop van tyd het Emlyn op verskeie plekke, insluitende Dublin, as predikant gedien.
WAAROM IS HY VAN GODSLASTERING BESKULDIG?
Emlyn het die Bybel noukeurig bestudeer. Sy studie het by hom twyfel oor die Drie-eenheid laat ontstaan, hoewel hy aanvanklik daaraan geglo het. Toe hy die Evangelies ondersoek het, het hy daarvan oortuig geraak dat dit sy nuwe begrip steun.
Emlyn het nie onmiddellik vir ander vertel wat hy geleer het nie. Maar party mense in sy kerk in Dublin het agtergekom dat hy nie in sy preke na die Drie-eenheid verwys nie. Met die wete dat ander nie van sy bevindings sou hou nie, het hy geskryf: “Ek kan nie hoop om in my huidige amp te bly dien nadat ek bely het nie.” In Junie 1702 het twee kennisse hom gevra waarom hy nie meer in sy preke na die Drie-eenheid verwys nie. Emlyn het erken dat hy nie meer daaraan glo nie en het aangebied om te bedank.
Binne ’n paar dae het hy uit Dublin, Ierland, vertrek na Engeland. Ná tien weke het hy egter na Dublin teruggekeer om ’n paar sake af te handel, waarna hy hom vir goed in Londen wou vestig. Terwyl hy in Dublin was, het hy An Humble Inquiry Into the Scripture-Account of Jesus Christ uitgegee, in die hoop dat hy sy beskouing sou kon verdedig. In hierdie publikasie het hy duidelike skriftuurlike bewyse voorsien oor waarom Jesus nie God die Almagtige kan wees nie. Dit het lidmate van Emlyn se voormalige gemeente in Dublin woedend gemaak. ’n Formele klag is ingedien.
Emlyn is in hegtenis geneem en op 14 Junie 1703 voor die Koninklike Regbank in Dublin gebring. In sy True Narrative of the Proceedings sê Emlyn dat hy aangekla is “omdat hy ’n boek geskryf en uitgegee het waarin [hy glo] godslasterlik en kwaadwillig beweer het, ens., dat Jesus Christus nie gelyk is aan God die Vader nie”. Die verhoor was ’n klug. Sewe biskoppe van die Kerk van Ierland was saam met die regters op die regbank. Emlyn is nie toegelaat om sy saak te stel nie. Richard Levins, ’n vooraanstaande regsgeleerde, het vir Emlyn gesê dat daar op hom jag gemaak sal word “soos op ’n wolf, sonder wet of genade”. Teen die einde van die verhoor het Richard Pyne, Ierland se hoofregter, vir die jurie gesê dat hulle nie moet nalaat om die verwagte uitspraak te lewer nie, aangesien sy mederegters “die biskoppe daar is”, wat moontlik beteken het dat die jurie gestraf sou word as hulle ’n ander uitspraak sou lewer.
“Ek ly vir wat ek beskou as sy [God se] waarheid en heerlikheid.”
Toe Emlyn skuldig bevind is, het die prokureur-generaal voorgestel dat hy sy bewerings herroep. Emlyn het geweier. Hy is beboet en tot een jaar tronkstraf gevonnis. Omdat hy nie die boete kon betaal nie, het hy twee jaar lank in die tronk gebly totdat ’n vriend die owerheid oortuig het om die boete te verminder. Emlyn is op 21 Julie 1705 vrygelaat. Die smaad wat hy verduur het, het hom beweeg om die woorde te sê wat vroeër aangehaal is: “Ek ly vir wat ek beskou as sy [God se] waarheid en heerlikheid.”
Emlyn het na Londen verhuis, waar hy later aangesluit het by William Whiston, nog ’n Bybelgeleerde wat verstoot is omdat hy inligting gepubliseer het wat hy gemeen het Bybelwaarheid is. Whiston het Emlyn gerespekteer en hom “‘die eerste en vernaamste aanhanger’ van ‘die ou Christelike godsdiens’” genoem.
WAAROM HET HY DIE DRIE-EENHEID VERWERP?
Soos William Whiston en ’n ander gerespekteerde geleerde, Isaac Newton, het Emlyn gesien dat die Bybel die Drie-eenheidsleer, wat in die Athanasiaanse Geloofsbelydenis uiteengesit is, nie steun nie. Hy het verduidelik: “Nadat ek die saak lank en ernstig oordink het en die heilige Skrif bestudeer het, . . . het ek goeie rede gevind om . . . my mening te verander en nie meer te glo wat ek vroeër oor die Drie-eenheid geleer is nie.” Hy het tot die slotsom gekom dat “die God en Vader van Jesus Christus alleen die Opperwese is”.
Wat het Emlyn tot hierdie slotsom laat kom? Hy het baie tekste gevind wat wys op verskille tussen Jesus en Sy Vader. Hier volg net ’n paar voorbeelde (Emlyn se kommentaar oor die tekste is in skuinsdruk):
Johannes 17:3: “Daar word nooit gesê dat Christus die een God of . . . die enigste God is nie.” Net die Vader word “die enigste ware God” genoem.
Johannes 5:30: “Die Seun doen nie sy eie wil nie, maar die wil van die Vader.”
Johannes 5:26: “Sy Lewe is deur die Vader aan hom gegee.”
Efesiërs 1:3: “Hoewel Jesus Christus dikwels die Seun van God genoem word, word die Vader nooit die Vader van God genoem nie, hoewel hy dikwels die Vader van ons Here Jesus genoem word.”
Nadat Emlyn al die bewyse in aanmerking geneem het, het hy nadruklik gesê: “Daar is nie ’n enkele teks in die heilige Skrif waarvan selfs die bewering gemaak kan word dat dit uitdruklik sê dat die Vader, Seun en Heilige Gees een en dieselfde wese is nie.”
WAT KAN ONS LEER?
Vandag deins baie mense daarvan terug om hulle standpunt in te neem vir wat die Skrif leer. Maar Emlyn was bereid om Bybelwaarheid te verdedig. Hy het die vraag geopper: “As ’n mens die belangrikste waarhede, wat duidelik in die heilige Skrif staan, nie mag bely nie, waarom moet jy dit dan lees en bestudeer?” Emlyn het geweier om die waarheid te verloën.
Die voorbeeld wat Emlyn en ander gestel het, kan ons beweeg om te ondersoek of ons bereid is om ons standpunt vir die waarheid in te neem, al word ons daarvoor gesmaad. Ons kan ons ook afvra: ‘Wat is die belangrikste—om die eer en seën van die gemeenskap te ontvang of om die waarheid van God se Woord te verdedig?’