Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan versoeking weerstaan!

Jy kan versoeking weerstaan!

“Ek was nie van plan om na pornografie te kyk nie. Maar ek het op die Internet gegaan, en ’n advertensie het skielik verskyn. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het daarop geklik.”—CODY. *

“’n Aantreklike meisie by die werk het met my begin flankeer. Eendag het sy voorgestel dat ons na ’n hotel toe gaan om ‘’n bietjie pret te hê’. Ek het presies geweet wat sy bedoel.”—DYLAN.

“EK KAN enigiets weerstaan, behalwe versoeking.” Hierdie bekende woorde beskryf goed hoe party mense versoeking beskou—in hulle diepste wese hou hulle daarvan. Maar ander beskou versoeking as ’n hardnekkige vyand wat hulle baie graag sal wil oorwin. Wat dink jy moet ’n mens doen wanneer jy voor versoeking te staan kom? Moet jy daarvoor swig of dit weerstaan?

Nie alle versoekings lei natuurlik tot groot probleme nie. As jy byvoorbeeld in die geheim nog ’n koekie eet, sal dit nouliks jou lewe verwoes. Maar as jy voor ander versoekings swig—veral dié wat tot seksuele onsedelikheid lei—kan dit tragiese gevolge hê. Die Bybel waarsku: “Iemand wat . . . egbreuk pleeg, het nie ’n verstandige hart nie; hy wat dit doen, stort sy eie siel in die verderf.”Spreuke 6:32, 33.

Hoe moet jy reageer as jy te staan kom voor ’n versoeking om onsedelik te wees? Die Bybel antwoord: “Dít is die wil van God: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry” (1 Tessalonisense 4:3, 4). Hoe kan jy hierdie wilskrag aankweek? Kyk na drie stappe wat kan help.

Stap 1: Bewaak jou oë

As ons na sensuele beelde kyk, sal dit verkeerde begeertes aanwakker. Jesus het bevestig dat daar ’n verband is tussen wat ons sien en wat ons begeer, en hy het gewaarsku: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Hy het ons met behulp van treffende beeldspraak aangespoor: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matteus 5:28, 29). Wat is die punt? As ons versoeking wil weerstaan,  moet ons daadwerklik optree en glad nie na prikkelende beelde kyk nie.

Kyk weg wanneer jy iets eroties sien

Ter toeligting: Stel jou voor dat jy die verblindende flits van ’n sweismasjien sien. Sal jy daarna bly kyk? Natuurlik nie! Jy sal wegdraai of iets voor jou oë hou om jou sig te beskerm. As jy iets eroties sien—in gedrukte vorm, op die skerm of in lewende lywe—moet jy eweneens dadelik wegkyk. Beskerm jou verstand teen besmetting. ’n Voormalige pornografieverslaafde, Juan, sê: “Wanneer ek ’n mooi vrou sien, wil ek dikwels ’n tweede en ’n derde keer kyk. Daarom dwing ek my oë om weg te kyk en sê ek vir myself: ‘Bid tot Jehovah! Jy moet eenvoudig nou bid!’ Nadat ek gebid het, gaan die begeerte gou weg.”Matteus 6:9, 13; 1 Korintiërs 10:13.

Dink ook aan die getroue man Job, wat gesê het: “’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:1). Jy kan gerus ’n soortgelyke besluit neem.

Probeer die volgende: Kyk dadelik weg as jy iets eroties sien. Volg die Bybelskrywer na wat gebid het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.”Psalm 119:37.

Stap 2: Bewaak jou gedagtes

Omdat ons almal onvolmaak is, worstel ons soms met verkeerde begeertes. Die Bybel sê: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde” (Jakobus 1:14, 15). Hoe kan jy voorkom dat jy in so ’n draaikolk vasgevang word?

Bid wanneer verkeerde gedagtes by jou opkom

Wanneer verkeerde begeertes by jou ontstaan, moet jy onthou dat jy kan kies hoe jy daarop sal reageer. Stry teen hierdie begeertes. Ruk dit uit jou verstand uit. Weier om oor onsedelikheid te fantaseer. ’n Man met die naam Troy, wat aan Internetpornografie verslaaf was, sê: “Ek het hard gestry om verkeerde gedagtes uit my verstand te verwyder deur op positiewe gedagtes te konsentreer. Dit was nie maklik nie. Ek het baie terugslae gehad. Maar ek het uiteindelik geleer om my denke te beheers.” ’n Vrou met die naam Elsa, wat as tiener geworstel het met die versoeking om onsedelik te wees, vertel: “Deur  besig te bly en tot Jehovah te bid, kon ek verkeerde gedagtes onderdruk.”

Probeer die volgende: Bid dadelik wanneer jy deur onsedelike gedagtes geteister word. Stry teen verkeerde gedagtes deur jou verstand te vul met “alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is”.Filippense 4:8.

Stap 3: Bewaak jou voetstappe

Wanneer die begeerte, die versoeking en die geleentheid gelyktydig daar is, kan probleme maklik ontstaan (Spreuke 7:6-23). Hoe kan jy voorkom dat jy ’n slagoffer word?

“Ek gaan net aanlyn wanneer daar ander mense om my is”

Die Bybel gee hierdie wyse raad: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). Bewaak dus jou voetstappe. Dink vooraf aan situasies wat tot probleme kan lei, en vermy dit (Spreuke 7:25). ’n Man met die naam Filipe, wat sy pornografieverslawing oorkom het, sê: “Ek het ons gesin se rekenaar op ’n plek gesit waar almal dit kan sien en het sagteware geïnstalleer wat die Internet filter. En ek gaan net aanlyn wanneer daar ander mense om my is.” Troy, wat vroeër genoem is, sê eweneens: “Ek kyk nie na prikkelende rolprente nie en assosieer nie met mense wat op vulgêre wyse oor seks praat nie. Ek wil my nie aan gevaar blootstel nie.”

Probeer die volgende: Dink eerlik aan wat jou swakhede is, en beplan vooruit om situasies te vermy wat jou aan versoeking kan blootstel.Matteus 6:13.

MOENIE TOU OPGOOI NIE!

Sê nou jy probeer jou bes, maar jy word nogtans swak en swig vir versoeking? Moenie moed opgee en ophou probeer nie. Die Bybel sê: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan” (Spreuke 24:16). Ja, ons hemelse Vader spoor ons aan om ‘op te staan’. Sal jy sy liefdevolle hulp aanvaar? Moet dan nooit moeg word om jou in gebed tot hom te wend nie. Bou jou geloof op deur sy Woord te bestudeer. Versterk jou voorneme deur Christelike vergaderinge by te woon. Skep moed uit God se belofte: “Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help.”Jesaja 41:10.

Cody, wat aan die begin genoem is, sê: “Ek moes my werklik inspan om my pornografieverslawing te oorkom. Ek het baie terugslae gehad, maar met God se hulp het ek uiteindelik daarin geslaag.” Dylan, wat ook vroeër genoem is, sê: “Ek kon maklik met my werksmaat seks gehad het. Maar ek het standvastig gebly en vir haar ‘Nee!’ gesê. Dit is wonderlik om ’n skoon gewete te hê. Nog belangriker, ek weet dat Jehovah trots is op my.”

Wanneer jy standvastig bly en versoeking weerstaan, kan jy seker wees dat God op jou ook trots sal wees!Spreuke 27:11.

^ par. 2 Name in hierdie artikel is verander.