VOORBLADONDERWERP | STEL GOD BELANG IN JOU?
God kan jou vertroos
“God, wat die terneergedruktes vertroos, [het] ons . . . vertroos.” —2 KORINTIËRS 7:6.
WAAROM PARTY TWYFEL: Selfs wanneer hulle vertroosting dringend nodig het, dink party mense dat dit selfsugtig is om God te vra om in te gryp en hulle te help om hulle probleme die hoof te bied. “Wanneer ek dink aan die ontsaglike aantal mense in die wêreld—en die ernstige probleme waarmee hulle te kampe het”, sê ’n vrou met die naam Raquel, “lyk my probleme so onbenullig dat ek huiwer om God se hulp te vra.”
WAT GOD SE WOORD LEER: God het reeds op ’n merkwaardige manier ingegryp om die mens te help en te vertroos. Almal wat vandag op die aarde is, het oorgeërfde sonde—wat beteken dat hulle nie in staat is om heeltemal aan God se vereistes te voldoen nie. Maar God het “ons liefgehad en sy Seun [Jesus Christus] uitgestuur . . . as ’n soenoffer vir ons sondes” (1 Johannes 4:10). Deur Jesus se offerdood maak God dit vir ons moontlik om vergifnis van sondes te kry, ’n rein gewete te hê en die hoop te hê om vir ewig in ’n vreedsame nuwe wêreld te lewe. * Maar is hierdie offerande bloot vir die mensdom as ’n geheel, of toon dit dat God in jou persoonlik belangstel?
Beskou die apostel Paulus. Die offerande van Jesus het hom so diep geraak dat hy geskryf het: “Ek [lewe] deur die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad het en homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Jesus het weliswaar gesterf voordat Paulus ’n Christen geword het. Maar Paulus het hierdie offerande beskou as God se persoonlike gawe aan hom.
Die offerdood van Jesus is ook God se persoonlike gawe aan jou. Hierdie gawe toon hoe kosbaar jy vir God is. Dit kan jou “ewige troos en goeie hoop” gee en jou sodoende “standvastig maak in elke goeie daad en woord”.—2 Tessalonisense 2:16, 17.
Maar Jesus het byna 2 000 jaar gelede sy lewe as ’n offerande gegee. Watter bewys is daar dat God vandag in jou belangstel?
^ par. 5 Om meer oor Jesus se offerande te leer, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.