Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | STEL GOD BELANG IN JOU?

God waak oor jou

God waak oor jou

“[God se] oë is op die weë van die mens, en hy sien al sy voetstappe.”—JOB 34:21.

Hoe jonger ’n kind is, hoe nodiger het hy sy ouer se aandag

WAAROM PARTY TWYFEL: Volgens ’n onlangse studie is daar moontlik in ons sterrestelsel alleen ten minste 100 miljard planete. Aangesien die heelal so ontsaglik groot is, vra baie mense: ‘Waarom sou die almagtige Skepper let op wat nietige mense op ’n klein planeetjie doen?’

WAT GOD SE WOORD LEER: God het nie bloot vir ons die Bybel gegee en toe belangstelling in ons verloor nie. Jehovah gee ons eerder die versekering: “Ek sal raad gee met my oog op jou.”—Psalm 32:8.

Dink aan Hagar, ’n Egiptiese vrou van die 20ste eeu VHJ. Omdat Hagar oneerbiedig was teenoor haar werkgeefster, Sarai, het Sarai haar verneder, en Hagar het na die wildernis gevlug. Het God belangstelling in Hagar verloor noudat sy ’n fout begaan het? Volgens die Bybel het “Jehovah se engel haar . . . gevind”. Daardie engel het Hagar gerusgestel en gesê: “Jehovah het van jou ellende gehoor.” Hagar het toe vir Jehovah gesê: “U is ’n God wat sien.”—Genesis 16:4-13.

Die “God wat sien”, waak ook oor jou. Ter toeligting: ’n Liefdevolle ma hou veral oor haar klein kindertjies ’n wakende oog, want hoe jonger ’n kind is, hoe nodiger het hy sy ouer se aandag. Net so waak God veral oor ons wanneer ons nederig en kwesbaar is. “In die hoogte en in die heilige plek woon ek,” sê Jehovah, “asook by die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe.”—Jesaja 57:15.

Maar jy wonder dalk: ‘Hoe waak God oor my? Oordeel hy my volgens my voorkoms of kyk hy dieper as die oppervlak en verstaan hy werklik wie ek is?’