Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS LESERS VRA . . .

Wie het God gemaak?

Wie het God gemaak?

Stel jou voor dat ’n pa met sy sewejarige seuntjie gesels. Hy sê: “Lank, lank gelede het God die aarde en alles daarop gemaak, en hy het die son, die maan en die sterre gemaak.” Die seuntjie dink ’n paar oomblikke hieroor en vra dan: “Pappa, wie het God gemaak?”

“Niemand het God gemaak nie”, antwoord die pa. “Hy het nog altyd bestaan.” Die kind is vir eers tevrede met hierdie eenvoudige verduideliking. Maar wanneer hy ouer word, wonder hy nog steeds oor die vraag. Dit is vir hom moeilik om te verstaan hoe iemand nie ’n begin kan hê nie. Selfs die heelal het dan ’n begin gehad. ‘Waar het God vandaan gekom?’ wonder hy.

Wat is die Bybel se antwoord? Dit is eintlik baie dieselfde as dié van die pa in ons voorbeeld. Moses het geskryf: “O Jehovah, . . . voordat die berge gebore is, of u die aarde en die vrugbare land voortgebring het . . . , ja, van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God” (Psalm 90:1, 2). Die profeet Jesaja het eweneens gesê: “Het jy dit nie te wete gekom of het jy dit nie gehoor nie? Jehovah, die Skepper van die eindes van die aarde, is ’n God tot onbepaalde tyd”! (Jesaja 40:28). Die brief van Judas sê ook dat God “in die ganse vergange ewigheid” al bestaan het.—Judas 25.

Hierdie tekste toon dat God “die Koning van die ewigheid” is, soos die apostel Paulus hom beskryf (1 Timoteus 1:17). Dit beteken dat God nog altyd bestaan het, ongeag hoe ver ons in die verlede terugkyk. En hy sal altyd in die toekoms bestaan (Openbaring 1:8). Sy ewige bestaan is dus ’n wesenlike kenmerk van die Almagtige.

Waarom is dit vir ons moeilik om hierdie idee te verstaan? Omdat ons weens ons beperkte lewensduur ’n heeltemal ander begrip van tyd het as Jehovah. Aangesien God ewig is, is duisend jaar vir hom soos ’n dag (2 Petrus 3:8). Ter toeligting: Kan ’n sprinkaan, wat nadat hy volgroeid is, net sowat 50 dae leef, ons lewensduur van 70 of 80 jaar begryp? Glad nie! Die Bybel verduidelik dat ons soos sprinkane in vergelyking met ons Grootse Skepper is. Ons redeneervermoë kan ook glad nie met syne vergelyk word nie (Jesaja 40:22; 55:8, 9). Dit behoort ons dus nie te verbaas dat daar aspekte van Jehovah se aard is wat die mens nie ten volle kan begryp nie.

Hoewel die begrip van ’n ewige God moeilik kan wees om te verstaan, is dit duidelik dat dit sin maak. As iemand anders God geskep het, sou daardie persoon die Skepper gewees het. Maar soos die Bybel verduidelik, is Jehovah die een wat “alles geskep” het (Openbaring 4:11). Wat meer is, ons weet dat daar ’n tyd was toe die heelal nie bestaan het nie (Genesis 1:1, 2). Waar het dit vandaan gekom? Die Skepper daarvan moes eers bestaan het. Hy het ook bestaan voordat daar enige ander intelligente wesens was, soos sy enigverwekte Seun en die engele (Job 38:4, 7; Kolossense 1:15). Dit is dus duidelik dat hy eers alleen bestaan het. Hy kon nie geskep gewees het nie; niks het bestaan wat hom kon skep nie.

Ons eie bestaan en dié van die ganse heelal getuig van die bestaan van ’n ewige God. Die Een wat ons ontsaglike heelal in werking gestel het, die Een wat die wette ingestel het wat dit beheer, moes nog altyd bestaan het. Slegs hy kon lewe in alles blaas.—Job 33:4.