Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antwoorde op Bybelvrae

Antwoorde op Bybelvrae

Kan engele ons help?

Soos engele God se getroue kneg Daniël in die verlede gehelp het, help hulle mense vandag om by die goeie nuus baat te vind

Lank voordat Jehovah God mense geskep het, het hy miljoene engele geskep (Job 38:4, 7). Hierdie engele is magtige geesskepsele in God se diens, wat hy soms uitstuur om sy knegte op die aarde te rig en te beskerm (Psalm 91:10, 11). Vandag help engele mense om baat te vind by die goeie nuus wat Jesus se volgelinge verkondig.—Lees Openbaring 14:6, 7.

Moet ons tot die engele bid om ons te help? Nee. Gebed is ’n daad van aanbidding, wat slegs God toekom (Openbaring 19:10). Aangesien engele God se dienaars is, voer hulle sý opdragte uit, nie dié van mense nie. Daarom moet ons altyd ons gebede slegs tot God rig en in die naam van Jesus bid.—Lees Psalm 103:20, 21; Matteus 26:53.

Is daar slegte engele?

Soos mense is engele met wilsvryheid geskep en kan hulle kies om reg of verkeerd te doen. Ongelukkig het baie engele teen God in opstand gekom (2 Petrus 2:4). Satan was die eerste onder hulle; ander het later ook in opstand gekom en demone geword. In onlangse tye is Satan en sy demone uit die hemel gewerp en na die aarde neergeslinger.—Lees Openbaring 12:7-9.

Die dramatiese toename in goddeloosheid en geweld sedert 1914 dui daarop dat God Satan en die demone binnekort buite aksie sal stel. Dan sal God die aarde herstel tot die toestand waarin dit behoort te wees.—Lees Openbaring 12:12; 21:3, 4.