Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Was God se Wet aan Israel regverdig?

Was God se Wet aan Israel regverdig?

’N RUK gelede het strafhowe in ’n Westerse land foutiewe inligting as bewyse aanvaar teen twee mans wat van moord aangekla is en hulle die doodstraf opgelê. Toe die fout aan die lig kom, het regsgeleerdes hard gewerk, en een van die veroordeeldes is vrygespreek. Maar die beste regsgeleerdes kon niks vir die ander man doen nie—hy was reeds tereggestel.

Aangesien so ’n growwe onreg in enige regstelsel kan voorkom, sê die Bybel: “Geregtigheid—geregtigheid moet jy nastreef” (Deuteronomium 16:20). Wanneer regters hierdie raad volg, strek dit ’n land se inwoners tot voordeel. God se Wet het eertydse Israel van ’n regstelsel voorsien wat op onpartydigheid en regverdigheid gegrond was. Kom ons kyk na hierdie Wet om te sien of “al [God se] weë . . . geregtigheid” is.—Deuteronomium 32:4.

“WYSE EN VERSTANDIGE EN ERVARE” REGTERS

Wanneer regters bekwaam, regverdig en eerlik is, is dit tot mense se voordeel. God se Wet aan Israel het vereis dat regters hierdie eienskappe moet openbaar. Toe Moses vroeg tydens Israel se trek deur die wildernis beveel is om regters aan te stel, moes hy “bekwame manne kies, wat God vrees, betroubare manne, wat onregverdige wins haat” (Eksodus 18:21, 22). Veertig jaar later het hy weer beklemtoon dat “wyse en verstandige en ervare manne” nodig is om oor die volk reg te spreek.—Deuteronomium 1:13-17.

Eeue later het koning Josafat * van Juda die regters beveel: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir Jehovah; en hy is met julle in die regspraak. En laat die vrees vir Jehovah dan nou oor julle kom. Wees versigtig en tree op, want by Jehovah ons God is geen onregverdigheid of partydigheid of aanneming van ’n omkoopgeskenk nie” (2 Kronieke 19:6, 7). Die koning het die regters dus daaraan herinner dat God hulle aanspreeklik sal hou vir enige skadelike gevolge as vooroordeel of gierigheid hulle beslissings beïnvloed.

Wanneer Israel se regters aan hierdie verhewe standaarde voldoen het, het die nasie beskermd en veilig gevoel. Maar God se Wet het ook ’n stel beginsels voorsien wat regters gehelp het om regverdige beslissings te bereik, selfs in die moeilikste sake. Wat is party van hierdie beginsels?

BEGINSELS WAT TOT REGVERDIGE BESLISSINGS GELEI HET

Hoewel die regters wat gekies is, wyse en bekwame manne moes wees, moes hulle nie op hulle eie vermoëns of vindingrykheid staatmaak wanneer hulle uitspraak gelewer het nie. Jehovah God het hulle beginsels of riglyne gegee wat hulle gehelp het om tot die regte beslissing te kom. Hier is party van die riglyne wat aan Israel se regters gegee is.

Stel deeglik ondersoek in. God het Israel se regters deur middel van Moses beveel: “Wanneer julle ’n saak tussen julle broers verhoor, moet julle met regverdigheid oordeel” (Deuteronomium 1:16). Regters kan slegs ’n regverdige uitspraak lewer as hulle al die feite van ’n saak het. Daarom het God diegene wat regsake behartig het, beveel: “Jy [moet] soek en navors en deeglik navraag doen.” Regters  moes seker maak dat die aanklag in ’n kriminele saak “as die waarheid . . . bevestig is” voordat hulle met die saak voortgegaan het.—Deuteronomium 13:14; 17:4.

Luister na die verklarings van getuies. Die verklarings van getuies was baie belangrik wanneer ’n saak ondersoek is. God se Wet het bepaal: “’n Enkele getuie mag nie teen ’n man opstaan ten opsigte van enige oortreding of enige sonde, in die geval van enige sonde wat hy pleeg nie. Uit die mond van twee getuies of uit die mond van drie getuies moet die saak vasstaan” (Deuteronomium 19:15). God se Wet het die getuies beveel: “Jy mag geen leuenagtige berig versprei nie. Moenie met ’n goddelose saamwerk deur ’n getuie te word wat geweld beraam nie.”—Eksodus 23:1.

Moenie oneerlikheid tydens regsake duld nie. Die straf vir leuens tydens regsake het al die betrokkenes tot nadenke gestem: “Die regters moet deeglik ondersoek instel, en as die getuie ’n valse getuie is en ’n valse aanklag teen sy broer ingebring het, dan moet julle aan hom doen net soos hy beplan het om aan sy broer te doen, en jy moet die kwaad uit jou midde wegruim” (Deuteronomium 19:18, 19). ’n Man sou dus, as hy tydens ’n regsaak leuens vertel het om iemand anders se erfdeel te kry, ’n gelykstaande bedrag verloor. As hy leuens vertel het omdat hy wou hê dat iemand wat hy geweet het onskuldig is, tereggestel moet word, sou hy met sy eie lewe daarvoor boet. Hierdie riglyn sou mense beslis aanspoor om die waarheid te praat.

Wees onpartydig. Wanneer die regters al die beskikbare bewyse gehad het, het hulle beraadslaag om oor ’n uitspraak te besluit. Op dié tydstip was dit noodsaaklik om ag te slaan op ’n belangrike vereiste in God se Wet: “Jy mag die geringe nie partydig behandel nie, en jy mag ’n vername man nie bevoorreg nie. Met geregtigheid moet jy jou metgesel oordeel” (Levitikus 19:15). In alle regsake moes regters oor ’n saak beslis op grond van die feite, nie op  grond van die uiterlike voorkoms of sosiale stand van die betrokkenes nie.

Hierdie beginsels, wat eeue gelede duidelik uiteengesit is in God se Wet aan Israel, kan vandag nog nuttig wees wanneer regsake verhoor word. As dit toegepas word, kan verkeerde beslissings en regsdwalings vermy word.

Regsdwalings kan vermy word wanneer beginsels in God se Wet toegepas word

DIE VOLK WAT BAAT GEVIND HET BY WARE GEREGTIGHEID

Moses het hierdie vraag aan die Israeliete gestel: “Watter groot nasie het sulke regverdige voorskrifte en regterlike beslissings soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:8). Geen ander nasie het hierdie voordele geniet nie. Onder die heerskappy van koning Salomo, wat gedurende sy jeug daarna gestreef het om Jehovah se wette na te kom, het die volk “in veiligheid gewoon” en vrede en voorspoed geniet, en “hulle het geëet en gedrink en was bly”.—1 Konings 4:20, 25.

Ongelukkig het die Israeliete hulle met verloop van tyd van hulle God afgekeer. God het deur middel van die profeet Jeremia gesê: “Kyk! Hulle het die woord van Jehovah verwerp, en watter wysheid het hulle?” (Jeremia 8:9). Gevolglik het Jerusalem “die bloedskuldige stad” vol “verfoeilike dinge” geword. Dit is uiteindelik vernietig en het 70 jaar lank woes gelê.—Esegiël 22:2; Jeremia 25:11.

Die profeet Jesaja het moeilike tye in Israel se geskiedenis beleef. Toe hy daaraan teruggedink het, is hy beweeg om ’n belangrike waarheid omtrent Jehovah God en Sy Wet bekend te maak: “Wanneer daar oordele van u af kom vir die aarde, sal die bewoners van die vrugbare land beslis regverdigheid leer.”—Jesaja 26:9.

Jesaja is tot sy vreugde geïnspireer om oor die heerskappy van die Messiaanse Koning, Jesus Christus, te voorspel: “Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie. En met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, en met billikheid sal hy teregwysing gee ten behoewe van die sagmoediges van die aarde” (Jesaja 11:3, 4). Watter wonderlike vooruitsigte wag tog op almal wat onder God se Koninkryk onderdane van die Messiaanse Koning word!—Matteus 6:10.

^ par. 6 Die naam Josafat beteken “Jehovah is Regter”.