Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N GESPREK MET ’N BUURMAN

Wanneer het God se Koninkryk begin heers? (Deel 2)

Wanneer het God se Koninkryk begin heers? (Deel 2)

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Chris weer ’n man met die naam Jaco besoek.

NEBUKADNESAR SE DROOM—’N KORT OORSIG

Chris: Dit is goed om jou weer te sien, Jaco. Ek geniet altyd ons weeklikse Bybelstudiesessies. * Hoe gaan dit met jou?

Jaco: Dit gaan goed, dankie.

Chris: Ek is bly. Ons het laas gepraat oor hoekom Jehovah se Getuies sê dat God se Koninkryk in 1914 begin heers het. * Soos ons bespreek het, vind ons ’n belangrike bewys in ’n profesie in hoofstuk 4 van die Bybelboek Daniël. Kan jy onthou wat dit daar sê?

Jaco: Dit was koning Nebukadnesar se droom van ’n groot boom.

Chris: Dis reg. In sy droom het Nebukadnesar ’n ontsaglike boom gesien wat tot aan die hemel gereik het. Hy het gehoor dat ’n boodskapper van God beveel dat die boom afgekap moet word, maar dat die stomp en wortels in die grond gelos moet word. Ná ’n tydperk van “sewe tye” sou die boom weer groei. * Ons het ook bespreek waarom die profesie twee vervullings het. Onthou jy wat die eerste vervulling was?

Jaco: Dit is iets wat met Nebukadnesar self gebeur het, nie waar nie? Hy het vir sewe jaar kranksinnig geword.

Chris: Presies. Nebukadnesar was tydelik kranksinnig en daarom is sy heerskappy onderbreek. Maar in die grotere vervulling van die profesie sou God se heerskappy in sekere sin vir ’n tydperk van sewe tye onderbreek word. Soos ons gesien het, het die sewe tye begin toe Jerusalem in 607 VHJ vernietig is. Van toe af was daar nie meer konings op die aarde wat Jehovah God verteenwoordig het as heersers van sy volk nie. Maar aan die einde van die sewe tye sou God ’n nuwe Heerser oor sy volk aanstel—iemand in die hemel. Met ander woorde, die einde van die sewe tye sou die begin van die heerskappy van God se hemelse Koninkryk aandui. Ons het reeds bespreek wanneer die sewe tye begin het. As ons dus kan vasstel hoe lank hierdie tye geduur het, sal ons weet wanneer God se Koninkryk begin heers het. Maak dit vir jou sin?

Jaco: Ja, en hierdie oorsig het nogal gehelp om my geheue te verfris.

Chris: Goed. Kom ons bespreek dan nou die lengte van die sewe tye. Ek het weer ’n bietjie navorsing gedoen oor die onderwerp om my aan die hoofgedagtes te herinner. Ek sal dit so goed moontlik probeer verduidelik.

Jaco: Oukei.

DIE SEWE TYE EINDIG—DIE LAASTE DAE BEGIN

Chris: In die profesie se eerste vervulling in verband met Nebukadnesar was die sewe tye klaarblyklik sewe letterlike jaar. Maar in die grotere vervulling in verband met God se Koninkryk moet die sewe tye baie langer as sewe letterlike jaar wees.

Jaco: Waarom sê jy so?

Chris: Wel, soos ons gesien het, het die sewe tye begin toe Jerusalem in 607 VHJ vernietig is. As ons van daardie jaar af begin tel, eindig die sewe letterlike jaar in 600 VHJ. Maar niks betekenisvols het in daardie jaar met betrekking tot God se heerskappy gebeur nie. En soos ons vroeër bespreek het, het Jesus, toe hy eeue later hier op die aarde was, aangedui dat die sewe tye nog nie geëindig het nie.

Jaco: O, ja. Ek onthou nou.

Chris: Die sewe tye kan dus nie letterlike jare wees nie, maar moet ’n langer tydperk wees.

Jaco: Hoe lank?

Chris: Die Bybelboek Openbaring, wat ten nouste verband hou met die boek Daniël, help ons om vas te stel presies hoe lank die sewe tye is. Dit toon dat ’n tydperk van drie en ’n half tye gelyk is aan 1 260 dae. * Sewe tye—drie en ’n half tye maal twee—sal dus gelyk wees aan 2 520 dae. Volg jy nog?

Jaco: Ja. Maar ek verstaan nie hoe dít toon dat God se Koninkryk in 1914 begin heers het nie.

Chris: Oukei, kom ons kyk hoe dit daarmee verband hou. In Bybelprofesieë stel ’n dag soms ’n jaar voor. * As ons die reël van ’n dag vir ’n jaar toepas, is die sewe tye gelyk aan 2 520 jaar. As ons van 607 VHJ af tel, neem 2 520 jaar ons tot by die jaar 1914. * Dit is hoe ons by 1914 uitkom as die jaar wanneer die sewe tye geëindig het en Jesus as Koning van God se Koninkryk begin heers het. En interessant genoeg, sedert 1914 het betekenisvolle wêreldgebeure plaasgevind—gebeure wat die Bybel vir die laaste dae voorspel het.

Jaco: Watter soort gebeure?

Chris: Kyk na wat Jesus gesê het, soos opgeteken hier in Matteus 24:7. Aangaande die tyd wanneer hy in die hemel sou begin heers, het Jesus gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.” Let op dat Jesus voorspel het dat daar gedurende daardie tydperk voedseltekorte en aardbewings sou wees. Ons wêreld het in die afgelope eeu beslis baie hiervan gesien, nie waar nie?

Jaco: Dit is so.

Chris: In hierdie vers het Jesus ook voorspel dat daar gedurende sy teenwoordigheid as Koning van God se Koninkryk oorloë sou wees. En die Bybelboek Openbaring het voorspel dat daar gedurende die tyd van die einde nie net plaaslike oorloë sou wees nie, maar oorloë wat die hele aarde sou raak. * Kan jy onthou wanneer die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het?

Jaco: Dit was in 1914, dieselfde jaar dat jy sê Jesus begin heers het! Ek het nog nooit daardie verband gesien nie.

Chris: As ons al hierdie stukkies bymekaarsit—die profesie oor die sewe tye sowel as ander Bybelprofesieë oor die tyd van die einde—maak dit regtig sin. Jehovah se Getuies is oortuig dat Jesus in 1914 as Koning van God se Koninkryk begin heers het en dat die laaste dae in daardie selfde jaar begin het. *

Jaco: Dit gaan my ’n rukkie neem om dit alles mooi te verstaan.

Chris: Dis heel natuurlik. Soos ek voorheen gesê het, het dit my ook ’n hele ruk geneem om dit ten volle te verstaan. Maar ek hoop dat ons bespreking jou ten minste gehelp het om te sien dat, al word die jaar 1914 nie spesifiek in die Bybel gemeld nie, Jehovah se Getuies wel hulle oortuigings in verband met daardie jaar op die Bybel baseer.

Jaco: Ja, dis iets wat my nog altyd omtrent julle beïndruk het—dit maak nie saak wat julle sê nie, julle bevestig dit met ’n teks. Dis nooit net julle opinie nie. Ek wonder maar net hoekom dit alles so ingewikkeld is. Hoekom het God nie net vir ons in die Bybel gesê dat Jesus in 1914 in die hemel sou begin heers nie?

Chris: Dis ’n uitstekende vraag, Jaco. Om die waarheid te sê, daar is baie dinge in die Bybel wat nie presies uitgespel word nie. Die vraag ontstaan dan: Waarom het God die Bybel op so ’n manier laat skryf dat dit inspanning verg om dit te verstaan? Miskien kan ons volgende keer hieroor praat.

Jaco: Ek sal daarvan hou.

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet van enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

^ par. 5 Deur middel van hulle gratis Bybelstudieprogram bespreek Jehovah se Getuies die Bybel onderwerp vir onderwerp met hulle bure.

^ par. 7 Sien die artikel “’n Gesprek met ’n buurman—Wanneer het God se Koninkryk begin heers?—Deel 1” in hierdie tydskrif se nommer van 1 Oktober 2014.

^ par. 22 Sien Openbaring 12:6, 14; voetnoot in NW.

^ par. 24 Sien die tabel “Nebukadnesar se droom van ’n boom”.

^ par. 30 Sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.