Moet ons tot Jesus bid?
’N NAVORSER het onlangs ’n opname gedoen onder meer as 800 jongmense uit meer as 12 godsdienste en gevra of hulle glo dat Jesus gebede verhoor. Meer as 60 persent het gesê dat hulle vas glo dat hy dit wel doen. Maar een jongmens het Jesus se naam doodgetrek en “God” in die plek daarvan geskryf.
Wat dink jy? Moet ons tot Jesus of tot God bid? * Om die antwoord te vind, kan ons eers kyk na hoe Jesus sy dissipels geleer het om te bid.
TOT WIE HET JESUS ONS GELEER OM TE BID?
Jesus het ons geleer en gewys tot wie ons moet bid.
SY LERING: Toe een van Jesus se dissipels hom gevra het: “Here, leer ons hoe om te bid”, het hy geantwoord: “Wanneer julle bid, sê: ‘Vader’” (Lukas 11:1, 2). In sy bekende Bergpredikasie het Jesus sy gehoor ook aangespoor om te bid. Hy het vir hulle gesê om tot hulle Vader te bid. Hy het hulle ook verseker deur te sê: “Julle Vader . . . weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra” (Matteus 6:6, 8). Op Jesus se laaste aand as ’n mens het hy vir sy dissipels gesê: “As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee” (Johannes 16:23). Jesus het ons dus geleer om te bid tot die een wat sy Vader en ons Vader is, Jehovah God.—Johannes 20:17.
SY VOORBEELD: Jesus het gebid soos hy ander geleer het om te bid: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde” (Lukas 10:21). By ’n ander geleentheid het “Jesus . . . sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: ‘Vader, ek dank u dat u my verhoor het’” (Johannes 11:41). En net voordat hy gesterf het, het Jesus gebid: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe” (Lukas 23:46). In die manier waarop Jesus tot sy hemelse Vader—die “Here van hemel en aarde”—gebid het, het hy vir almal ’n duidelike voorbeeld gestel.—Matteus 11:25; 26:41, 42; 1 Johannes 2:6.
TOT WIE HET DIE VROEË CHRISTENE GEBID?
Hoe het Jesus se vroeë dissipels sy instruksies verstaan? Net weke nadat Jesus na die hemel teruggekeer het, is sy dissipels deur hulle teenstanders vervolg en gedreig (Handelinge 4:18). Hulle het natuurlik om hulp gebid—maar tot wie het hulle gebid? “Hulle [het] eendragtig die stem tot God verhef” en gebid dat hy sal aanhou om hulle te help “deur die naam van [sy] heilige kneg Jesus” (Handelinge 4:24, 30). Die dissipels het Jesus se riglyne oor gebed dus gevolg. Hulle het tot God gebid, nie tot Jesus nie.
Jare later het die apostel Paulus die manier beskryf waarop hy en sy metgeselle gebid het. Hy het aan mede-Christene geskryf en gesê: “Ons dank God, die Vader van ons Here Jesus Christus, altyd wanneer ons vir julle bid” (Kolossense 1:3). Paulus het ook aan sy medegelowiges geskryf en gesê dat hulle “ons God en Vader altyd vir alles [moet] dank in die naam van ons Here Jesus Christus” (Efesiërs 5:20). Uit hierdie woorde sien ons dat Paulus ander aangespoor het om tot sy “God en Vader” te bid—maar natuurlik in Jesus se naam.—Kolossense 3:17.
Soos die vroeë Christene, kan ons ons liefde vir Jesus toon deur sy raad oor gebed te volg (Johannes 14:15). Wanneer ons tot ons hemelse Vader bid—en alleenlik tot hom—sal die woorde in Psalm 116:1, 2 vir ons al hoe meer betekenis hê: “Ek het lief, want Jehovah hoor my stem . . . al my dae sal ek [hom aanroep].” *
^ par. 3 Volgens die Skrif is God en Jesus nie aan mekaar gelyk nie. Vir meer inligting, sien hoofstuk 4 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
^ par. 11 As ons wil hê dat ons gebede vir God aanneemlik moet wees, moet ons hard probeer om aan sy vereistes te voldoen. Vir meer inligting, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik?