Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N GESPREK OOR DIE BYBEL

Waarom die Bybel ondersoek?

Waarom die Bybel ondersoek?

Hier volg ’n tipiese gesprek wat een van Jehovah se Getuies moontlik met iemand sal voer. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Brian ’n Bybelgesprek voer met ’n man met die naam Eric.

DIE BYBEL—AKKURATE GESKIEDENIS

Eric: Ek moet vir jou sê dat ek nie baie godsdienstig is nie. So ek dink nie ons het veel om oor te gesels nie.

Brian: Ek waardeer jou eerlikheid. My naam is Brian. Wat is jou naam?

Eric: Eric.

Brian: Ek is bly om jou te ontmoet, Eric. As ek mag vra, het jy in ’n godsdienstige huis grootgeword?

Eric: Ja, maar toe ek universiteit toe gegaan het, het ek opgehou om kerk toe te gaan.

Brian: Ek sien. Wat het jy op universiteit gestudeer?

Eric: Sosiale Studie en Geskiedenis. Ek het nog altyd van Geskiedenis gehou—jy weet, die mens se lewensreis hier op aarde.

Brian: Geskiedenis kan fassinerend wees. Ek is seker jy is daarvan bewus dat die Bybel ’n geskiedkundige boek is. Het jy die Bybel ooit in jou navorsing ingesluit?

Eric: Nee, nie eintlik nie. Ek weet dis ’n goeie boek, maar ek het nog nooit regtig aan die Bybel as ’n geskiedkundige boek gedink nie.

Brian: Jy klink soos ’n redelike persoon. As jy ’n paar minute het, sal ek jou graag ’n paar voorbeelde van akkurate geskiedenis in die Bybel wil wys.

Eric: Sekerlik, maar ek het nie ’n Bybel nie.

Brian: Dis oukei. Ons kan my Bybel gebruik. Die eerste voorbeeld is hier in 1 Kronieke hoofstuk 29, verse 26 en 27. Hier sê dit: “Wat Dawid, die seun van Isai, betref, hy het oor die hele Israel regeer; en die dae dat hy oor Israel regeer het, was veertig jaar. In Hebron het hy sewe jaar regeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar regeer.”

Eric: Hoe is dit ’n voorbeeld van akkurate geskiedenis?

Brian: Wel, daar is al beweer dat koning Dawid nooit bestaan het nie.

Eric: Regtig? Waarom sou mense daaraan twyfel?

Brian: Wel, behalwe in die Bybel was daar min bewyse dat hy ’n werklike persoon was. Maar in 1993 het ’n span argeoloë ’n baie ou klip ontdek met ’n woord daarop wat “Huis van Dawid” beteken.

Eric: Dis interessant.

Brian: Nog ’n persoon in die Bybel wie se bestaan bevraagteken is, is Pontius Pilatus, ’n goewerneur wat in Jesus se dag regeer het. Hy word hier in Lukas hoofstuk 3, vers 1, genoem tesame met talle ander regeringsamptenare van daardie tyd.

Eric: Ja, ek sien. Dit sê: “Toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea.”

Brian: Dis reg. Wel, party geleerdes het jare lank getwyfel of Pontius Pilatus ’n werklike persoon was. Toe, omtrent 50 jaar gelede, is ’n klip in die Midde-Ooste gevind waarop sy naam duidelik gegraveer is.

Eric: Hmm. Ek het nog nooit daarvan gehoor nie.

Brian: Ek is bly ek kon dit onder jou aandag bring.

Eric: Om eerlik te wees, ek het die Bybel nog altyd as ’n literêre werk gerespekteer, maar ek het nooit regtig gedink dat dit op ons tyd van toepassing is nie. Dit bevat dalk akkurate geskiedenis, maar ek dink nie dit het enige praktiese waarde nie.

DIE BYBEL—OUD EN TOG MODERN

Brian: Baie mense sal met jou saamstem. Maar dis nie wat ek glo nie. Ek sal jou sê waarom: Van die vroegste tye af het die mens se basiese behoeftes dieselfde gebly. Ons het byvoorbeeld nog altyd kos, klere en behuising nodig gehad. En ons het nog altyd die behoefte gehad om met mekaar te kommunikeer en ’n gelukkige gesinslewe te hê. Hierdie dinge is tog vir ons almal belangrik.

Eric: Dis waar.

Brian: Die Bybel kan ons met al hierdie dinge help. Dit is wel ’n ou boek, maar dit is ook modern.

Eric: Hoe bedoel jy?

Brian: Kom ek stel dit so: Die Bybel bevat basiese beginsels wat vandag net so van toepassing is soos toe dit eeue gelede geskryf is.

Die Bybel bevat basiese beginsels wat vandag net so van toepassing is soos toe dit eeue gelede geskryf is

Eric: Oukei. Beginsels in verband waarmee?

Brian: Wel, wanneer dit byvoorbeeld kom by dinge soos ’n gebalanseerde beskouing van geld of ’n gelukkige gesinslewe of hoe om ’n goeie vriend te wees, kan Bybelbeginsels ons rig. Die Bybel is soos ’n padkaart wat tot sukses lei. Sou jy byvoorbeeld nie saamstem dat dit vandag ’n uitdaging is om ’n suksesvolle eggenoot en gesinshoof te wees nie?

Eric: Wel, ja, daar moet ek met jou saamstem. Ek en my vrou is om en by ’n jaar getroud, en dis nie altyd maklik om goed oor die weg te kom nie.

Brian: Dis waar. Maar die Bybel bevat eenvoudige beginsels wat werk. Neem byvoorbeeld Efesiërs hoofstuk 5. Kom ons lees verse 22, 23 en 28. Wil jy dit vir ons lees?

Eric: Sekerlik. Dit sê: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is, hy as redder van hierdie liggaam.” Dan sê vers 28: “Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief.”

Brian: Dankie. Sal die gesinslewe nie beter wees as albei huweliksmaats probeer om hierdie eenvoudige raad toe te pas nie?

Eric: Ja, ek dink so. Maar dis makliker gesê as gedaan.

Brian: Dis waar; niemand is volmaak nie. Om die waarheid te sê, in daardie selfde hoofstuk van die Bybel is daar ’n vers wat ons aanspoor om redelik te wees. * In enige verhouding moet daar ’n balans wees—albei maats moet bereid wees om soms toe te gee. Ek en my vrou het gevind dat die Bybel ons kan help om daardie balans te vind.

Eric: Dit maak sin.

Brian: Jehovah se Getuies het ’n webwerf waarop daar goeie inligting is in verband met die huwelik en die gesinslewe. As jy ’n paar minute het, kan ek jou wys.

Eric: Ja, ek het nog ’n paar minute.

Brian: Goed so. Die webwerf se adres is www.pr418.com/af. Hier is die tuisblad.

Eric: Ek hou van die foto’s.

Brian: Dis tonele van die predikingswerk wat ons regoor die wêreld doen. Aa, hier is die deel met die titel “Hulp vir egpare en ouers”. Dit bevat ’n hele paar kort artikels wat verskillende situasies bespreek. Is daar een waarin jy belangstel?

Eric: Ja, hierdie een: “Hoe om probleme in jou huwelik op te los”. Ek dink ek sal dit kan gebruik!

Brian: Hierdie artikel bespreek vier stappe wat ’n mens moet volg om probleme op te los. Kyk na hierdie paragraaf. Wil jy dit asseblief vir ons lees, Eric?

Eric: Ja, dit sê: “As kommunikasie die lewensbloed van ’n huwelik is, dan is liefde en respek die hart en longe van die verhouding.” Hmm, ek hou van die manier waarop hulle dit verduidelik.

Brian: Ja, en daar word ’n Bybelvers hier aangehaal. Jy kan dit lees deur daarop te klik.

Eric: Ja, ek sien. Efesiërs 5:33. Dit sê: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.”

Brian: Het jy opgelet dat elkeen moet gee wat die ander wil ontvang?

Eric: Ek is nie seker wat jy bedoel nie.

Brian: Wel, is dit nie waar dat ’n man wil voel dat sy vrou hom respekteer en dat ’n vrou weer dikwels verseker wil word dat haar man haar werklik liefhet nie?

Eric: Ja, ek stem saam.

Brian: As die man dikwels na maniere soek om vir sy vrou te wys dat hy vir haar lief is, sal dit tog sekerlik vir haar makliker wees om hom te respekteer.

Eric: Dit klink asof dit sal werk.

Brian: Ja, en dan sal die “hart en longe” van die huwelik, liefde en respek, gesond bly. So hierdie een vers in die Bybel, al is dit amper 2 000 jaar gelede geskryf, spreek die behoeftes van albei huweliksmaats aan en voorsien nuttige raad wat regtig werk as dit toegepas word.

Eric: Ek sien nou dat die Bybel wel praktiese waarde het.

Brian: Ek is bly om dit te hoor, Eric. Ek sal jou graag weer hier wil ontmoet om jou mening te kry oor die onderhofie “Vier stappe om probleme op te los” wat in hierdie selfde artikel op ons webwerf verskyn. *

Eric: Sekerlik. Ek en my vrou sal saam daarna kyk.

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet omtrent enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

^ par. 61 Vir meer inligting, sien hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.