Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N GESPREK OOR DIE BYBEL

Waarom moet ons Jesus se dood herdenk?

Waarom moet ons Jesus se dood herdenk?

Hier volg ’n tipiese gesprek wat een van Jehovah se Getuies moontlik met iemand sal voer. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Megan besoek aflê by die huis van ’n vrou met die naam Shirley.

“HOU AAN OM DIT TOT MY GEDAGTENIS TE DOEN”

Megan: Hallo Shirley. Dit was so lekker om jou verlede week by die Herdenking van Jesus Christus se dood te sien. * Wat het jy van die vergadering gedink?

Shirley: Ek het die vergadering geniet, maar ek moet erken dat ek nie alles wat gesê is, heeltemal verstaan het nie. Ek weet dat mense Jesus se geboorte tydens Kersfees en sy opstanding gedurende Paasfees vier, maar ek het nog nooit daarvan gehoor dat iemand sy dood herdenk nie.

Megan: Dis waar, Kersfees en Paasfees is regoor die wêreld gewilde vieringe. Maar Jehovah se Getuies voel dat dit belangrik is om Jesus se dood te herdenk. As jy ’n paar minute het, sal ek graag vir jou die redes hiervoor wil verduidelik.

Shirley: Ja, ek het ’n bietjie tyd.

Megan: Die basiese rede waarom Jehovah se Getuies Jesus se dood herdenk, is omdat hy sy volgelinge beveel het om dit te doen. Dink aan wat op die aand voor Jesus se dood gebeur het. Dalk het jy al gehoor van die spesiale maaltyd wat hy met sy getroue volgelinge gehad het.

Shirley: Bedoel jy die Nagmaal?

Megan: Ja. Dit word ook die Here se Aandmaal genoem. Gedurende daardie maaltyd het Jesus sy volgelinge duidelike instruksies gegee. Sal jy asseblief sy woorde hier in Lukas 22:19 lees?

Shirley: Oukei. “Ook het hy ’n brood geneem, gedank, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’”

Megan: Dankie. Let op Jesus se instruksies in die laaste sin van hierdie vers: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” En net voordat Jesus sy volgelinge beveel het om dit te doen, het hy uitdruklik gesê wat hulle omtrent hom moes onthou. Hy het gesê dat hy sy lewe ten behoewe van sy volgelinge sou gee. En hy het dieselfde gedagte uitgedruk, soos opgeteken in Matteus 20:28. Daardie vers sê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie.” Dit is waarom Jehovah se Getuies elke jaar op die herdenking van Jesus se dood bymekaarkom—om Jesus se losprysoffer te herdenk. Sy dood kan vir alle gehoorsame mense die lewe beteken.

WAAROM WAS ’N LOSPRYS NODIG?

Shirley: Ek het mense al hoor sê dat Jesus doodgegaan het sodat ons die lewe kan kry. Maar om die waarheid te sê, ek het nog nooit rêrig verstaan hoe dit werk nie.

Megan: Jy’s nie die enigste een nie, Shirley. Jesus se losprysoffer is ’n diep onderwerp. Maar dit is ook een van die mooiste waarhede in God se Woord. Terloops, het jy nog ’n paar minute vir my?

Shirley: Ja, ek het nog tyd.

Megan: Wonderlik. Ek het onlangs ’n bietjie meer oor die losprys gelees, en ek sal probeer om dit op ’n eenvoudige manier te verduidelik.

Shirley: Oukei.

Megan: Om die losprys te verstaan, moet ons eers die situasie begryp waarin Adam en Eva ons geplaas het toe hulle in die tuin van Eden gesondig het. Romeine 6:23 sal ons help om dit beter te verstaan. Sal jy asseblief daardie vers vir ons lees?

Shirley: Ja. Dit sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”

Megan: Dankie. Kom ons kyk mooi na hierdie woorde. Let eers op hoe die vers begin: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood.” Dit is ’n eenvoudige reël wat God aan die begin van die mensegeskiedenis uiteengesit het—die loon, of straf, vir die sonde is die dood. In die begin was daar natuurlik geen sondaars nie. Adam en Eva is volmaak geskep, en al hulle kinders sou volmaak gebore word. Daar sou dus geen rede gewees het vir enigiemand om dood te gaan nie. Adam en Eva en al hulle nakomelinge het die vooruitsig gehad om vir ewig te lewe en gelukkig te wees. Maar soos ons weet, is dit nie wat gebeur het nie.

Shirley: Nee, Adam en Eva het van die verbode vrug geëet.

Megan: Dis reg. En toe hulle dit gedoen het—toe Adam en Eva besluit het om aan God ongehoorsaam te wees—het hulle gesondig. Hulle het in werklikheid besluit om onvolmaak te wees, om sondaars te wees. Daardie besluit sou rampspoedige gevolge hê, nie net vir Adam en Eva nie, maar ook vir al hulle nakomelinge.

Shirley: Hoe bedoel jy?

Megan: Wel, miskien kan ek ’n illustrasie gebruik. Kom ek vra jou, hou jy daarvan om te bak?

Shirley: Ja! Ek geniet dit baie.

Megan: Sê nou jy het ’n nuwe pan gekoop om brood te bak. Maar voordat jy dit selfs een keer kon gebruik, val dit op die vloer en is dit geduik. Wat sal gebeur met elke brood wat jy in daardie pan bak? Sal daar nie ’n duik daarin wees nie?

Shirley: Ja, natuurlik.

Megan: Net so het Adam en Eva, toe hulle besluit het om aan God ongehoorsaam te wees, ’n “duik” gekry—hulle het sondig en onvolmaak geword. En omdat hulle sondaars geword het voordat hulle kinders gehad het, is al hulle kinders met dieselfde “duik” gebore. Hulle is almal in ’n sondige toestand gebore. In die Bybel verwys die woord “sonde” nie net na ’n daad nie, maar ook na die toestand wat ons geërf het. Toe Adam en Eva dus gesondig het, het hulle ons en al hulle nakomelinge gedoem tot ’n lewe van onvolmaaktheid en sonde wat tot die dood lei, al het ons niks verkeerds gedoen nie, want ons was nog nie eers gebore nie. Soos ons in Romeine 6:23 gelees het, is die straf vir die sonde die dood.

Shirley: Dit klink nie vir my regverdig nie. Waarom moet alle mense vir ewig ly omdat Adam en Eva gesondig het?

Megan: Jy’s reg—dit is nie regverdig nie. Maar ons, as hulle nakomelinge, is nie sonder hoop gelaat nie. Hoewel God weens sy volmaakte geregtigheid besluit het dat Adam en Eva vir hulle sondes moet sterf, het hy ’n manier gevind om ons uit hierdie situasie te red. Dit is waar Jesus se losprysoffer inpas. Kyk weer na Romeine 6:23. Nadat die vers sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, sê dit: “Maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” Dit is dus Jesus se dood wat dit vir ons moontlik maak om van sonde en die dood bevry te word. *

DIE LOSPRYS—GOD SE GROOTSTE GAWE

Megan: Daar is nog iets in hierdie vers wat ek graag onder jou aandag wil bring.

Shirley: Wat is dit?

Megan: Let op dat die vers sê: “Die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” As Jesus die een is wat vir ons gely en gesterf het, sy lewe ten behoewe van ons gegee het, waarom praat die vers dan van die losprys as “die gawe wat God gee”? Waarom sê dit nie “die gawe wat Jesus gee” nie? *

Shirley: Hm. Ek weet nie.

Megan: Wel, Adam en Eva is deur God geskep. Dit was dus teen hom wat hulle gesondig het toe hulle in die tuin van Eden ongehoorsaam was. Dit moes hom baie seergemaak het toe sy eerste twee mensekinders teen hom in opstand gekom het. Maar Jehovah het onmiddellik met ’n oplossing vorendag gekom. * Een van sy geesskepsele sou na die aarde toe kom, as ’n volmaakte mens lewe en uiteindelik sy lewe as ’n losprysoffer gee. Daarom was die voorsiening van die losprys in werklikheid ’n gawe van God. Daar is nog ’n manier waarop die losprys ’n gawe van God is. Het jy al ooit gedink hoe God moes gevoel het toe Jesus tereggestel is?

Shirley: Nee, ek het nie.

Megan: Het jy kinders, want ek sien speelgoed hier in jou tuin?

Shirley: Ja, ek het twee—’n seun en ’n dogter.

Megan: As ’n ouer kan jy jou seker indink hoe Jesus se hemelse Vader, Jehovah God, moes gevoel het die dag toe Jesus gesterf het. Hoe dink jy het hy gevoel toe hy uit die hemel toegekyk het terwyl sy geliefde Seun in hegtenis geneem, bespot en met die vuis geslaan is? En dink net hoe God moes gevoel het toe sy Seun aan ’n houtpaal vasgenael is en daar gelaat is om ’n stadige, pynlike dood te sterf.

Shirley: Hy moes verskriklik gevoel het. Ek het nog nooit daaraan gedink nie!

Megan: Dit is natuurlik vir ons onmoontlik om te weet presies hoe God op daardie dag gevoel het. Maar ons weet dat hy wel gevoelens het, en ons weet ook waarom hy toegelaat het dat dit gebeur. Dit word mooi verduidelik in die bekende teks Johannes 3:16. Sal jy dit asseblief vir ons lees?

Shirley: Ja, dit sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”

Die losprysoffer is die grootste blyk van liefde wat iemand nog ooit betoon het

Megan: Dankie. Kyk weer na die begin van hierdie vers. Dit sê: “God het die wêreld . . . liefgehad.” Dis die sleutel—liefde. Liefde het God beweeg om sy Seun na die aarde te stuur om vir ons te sterf. Om die waarheid te sê, die losprysoffer is die grootste blyk van liefde wat iemand nog ooit betoon het. En dit is waarom Jehovah se Getuies elke jaar op die herdenking van Jesus se dood bymekaarkom. Verstaan jy dit nou ’n bietjie beter?

Shirley: Ja, dankie dat jy die tyd geneem het om dit met my te bespreek.

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet van enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

^ par. 5 Een keer per jaar kom Jehovah se Getuies bymekaar om Jesus se dood te herdenk en aan sy offerande te dink. Hierdie jaar val daardie herdenking op Vrydag 3 April.

^ par. 32 ’n Toekomstige artikel in hierdie reeks sal bespreek hoe Jesus se losprysoffer ons van sonde sal bevry en wat ons moet doen om by die losprys baat te vind.

^ par. 36 Volgens die Bybel is God en Jesus twee afsonderlike persone. Vir meer inligting, sien hoofstuk 4 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.