Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek het my glanslewe vir iets beters verruil

Ek het my glanslewe vir iets beters verruil

Een aand in 1984 het my lewe heeltemal verander—ek was ’n doodgewone tiener wat oornag beroemd geword het. Ek is as mej. Hongkong gekroon. My foto het op die voorblad van tydskrifte en koerante verskyn. Ek het gesing, gedans, mense toegespreek, TV-programme aangebied, pragtige klere gedra en in die openbaar verskyn met belangrike persone, soos die goewerneur van Hongkong.

Die volgende jaar het ek in rolprente begin optree, en ek het dikwels die hoofrol gespeel. Joernaliste wou my verhaal vertel, fotograwe wou my foto neem en ander mense wou hê dat ek premières en glansgeleenthede moet bywoon en dat ek by inwydingseremonies die lint moet knip. Ek was altyd die middelpunt van belangstelling.

In ’n aksierolprent

Maar ek het geleidelik besef dat dit alles nie so aantreklik is as wat ek my voorgestel het nie. Ek het hoofsaaklik in aksierolprente gespeel, en dit was gevaarlik. In Hongkong het akteurs nie so dikwels instaanspelers gebruik soos akteurs in Hollywood nie, en daarom het ek my eie toertjies gedoen, soos om ’n motorfiets oor ’n motor te ry. Baie van die rolprente waarin ek gespeel het, was onsedelik en gewelddadig. Sommige het demonisme bevat.

In 1995 het ek met ’n rolprentvervaardiger getrou. Hoewel dit gelyk het asof ek alles het om my gelukkig te maak—’n glanslewe, rykdom en ’n liefdevolle man—was ek depressief en hartseer. Ek het besluit om die rolprentbedryf te verlaat.

EK HET DIE GELOOF VAN MY KINDERDAE ONTHOU

Ek het begin terugdink aan die godsdiens waaraan ek as ’n dogtertjie behoort het. Destyds het ek en my suster elke Saterdag ’n gesin gaan besoek wat Jehovah se Getuies was. Die pa, Joe McGrath, het die Bybel met ons en sy drie dogters gestudeer. Hulle was ’n hegte en liefdevolle gesin, en “oom Joe” het sy vrou en kinders met respek behandel. Ek het dit ook geniet om Christelike vergaderinge saam met hulle by te woon. Soms het ons groot byeenkomste bygewoon. Dit was ’n gelukkige tyd. Ek het veilig gevoel by die Getuies.

In teenstelling hiermee het verskriklike dinge in ons huis met my gebeur. My pa se lewenswyse het my ma baie ongelukkig gemaak, en sy het baie depressief geraak. Toe ek ongeveer tien jaar oud was, het my ma opgehou om met Jehovah se Getuies te assosieer. Ek het halfhartig voortgegaan en is op 17-jarige ouderdom gedoop. Maar kort daarna het ek by onchristelike gedrag betrokke geraak en was ek nie meer deel van die gemeente nie.

EK HET BESLUIT OM TERUG TE KEER

Kort ná my troue het twee opsieners van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies my kom besoek. Hulle het verduidelik hoe ek na Jehovah God kon terugkeer en het gereël dat ’n sendelingsuster met die naam Cindy my help. Teen hierdie tyd het ek my geloof grotendeels verloor, en daarom het ek haar gevra om aan my te bewys dat die Bybel werklik God se Woord is. Sy het vir my voorbeelde van vervulde Bybelprofesieë gewys. Met verloop van tyd het ons hegte vriendinne geword, en sy het aangebied om die basiese Bybelleringe met my te studeer. Ek het die aanbod aanvaar. Ek het vir die eerste keer besef dat Jehovah ’n God van liefde is wat wil hê dat ek gelukkig moet wees.

Toe ek weer Christelike vergaderinge begin bywoon het, het ek die Getuies se geselskap baie meer geniet as die geselskap van mense in die rolprentbedryf. Maar die dinge wat ek as ’n kind deurgemaak het, het my laat voel dat ek niemand kon vertrou nie, en ek het nie van myself gehou nie. ’n Lid van die gemeente het my gehelp deur my in die Bybel te wys hoe om hierdie emosionele probleme te hanteer, en ek het ook geleer hoe om ware vriende te maak.

IETS BETERS AS ’N GLANSLEWE

In 1997 het ek en my man na Hollywood, Kalifornië, in die VSA, getrek. Daar het ek meer gedoen om mense te help om by die wysheid van God se Woord baat te vind. Om ander omtrent die Bybel te leer het my meer bevrediging verskaf as enigiets wat ek as ’n rolprentster ondervind het. Byvoorbeeld, in 2002 het ek Cheri raakgeloop, ’n ou kennis uit Hongkong. Ons lewe was in baie opsigte dieselfde. Sy was die jaar voor my as mej. Hongkong gekroon. Trouens, toe ek die titel gewen het, was sy die een wat my gekroon het. Sy het ook ’n rolprentaktrise en later ’n rolprentvervaardiger geword wat met beroemde regisseurs gewerk het. Sy het ook na Hollywood getrek.

My hart het na Cheri uitgegaan toe ek uitgevind het dat haar verloofde skielik aan ’n hartaanval gesterf het. Sy was ’n Boeddhis, maar haar godsdiens het haar geen vertroosting gebied nie. Soos ek het sy die glanslewe gelei wat ander beny het, maar sy was hartseer en kon niemand vertrou nie. Ek het haar begin vertel wat ek uit die Bybel geleer het, maar haar agtergrond as ’n Boeddhis het dit vir haar moeilik gemaak om dit te waardeer.

My vriend Cheri op ’n filmstel

In 2003 het Cheri my eendag uit Vancouver, Kanada, gebel, waar sy besig was om ’n rolprent te vervaardig. Sy het my opgewonde vertel dat sy, terwyl sy gery en die landskap bewonder het, hardop begin bid het: “Sê my, wie is die ware God? Wat is u naam?” Op daardie oomblik het sy verby ’n Koninkryksaal gery en die naam Jehovah gesien. Dit was ’n antwoord van God, het sy gevoel, en sy wou so gou as moontlik met Jehovah se Getuies in aanraking kom. Ek het reëlings getref, en binne ’n paar dae het sy ’n vergadering van ’n Chineessprekende gemeente in Vancouver bygewoon.

“Hierdie mense stel opreg in my belang”, het Cheri later vir my gesê. “Ek kan vir hulle sê hoe ek voel.” Ek was baie bly om dit te hoor, want toe Cheri in die rolprentbedryf was, het sy nooit vriende gemaak nie. Cheri het aangehou om die vergaderinge by te woon. Maar in 2005 het sy ’n kontrak geteken om twee groot rolprente in China te vervaardig, en daarom moes sy na Hongkong terugkeer. Cheri het haar lewe in 2006 aan Jehovah toegewy, en dit was ’n vreugdevolle geleentheid toe sy daardie jaar by ’n Getuie-byeenkoms in Hongkong gedoop is. Hoewel sy meer in Jehovah se diens wou doen, het haar loopbaan in die rolprentbedryf dit vir haar baie moeilik gemaak, en sy was baie ongelukkig.

DIE VREUGDE WAT DIT MEEBRING OM ANDER TE HELP

In 2009 het Cheri se omstandighede heeltemal verander. Sy het besluit om die rolprentbedryf te verlaat sodat sy Jehovah ten volle kon dien. Sy het baie nuwe vriende in die Christengemeente gemaak. Sy het ’n voltydse prediker van die goeie nuus van die Koninkryk geword en het dit werklik geniet om mense te help om ’n beter lewenswyse te vind.—Matteus 24:14.

Toe het Cheri besluit om Nepalees te leer sodat sy die groeiende groep Nepaleessprekende Getuies in Hongkong kon ondersteun. Oor die algemeen word Nepalese in Hongkong geïgnoreer of selfs verag omdat hulle nie Engels of Chinees goed kan praat nie en omdat hulle gebruike anders is. Cheri het vir my gesê hoeveel sy dit geniet om hierdie mense te help om die Bybel te verstaan. Toe sy byvoorbeeld eendag van huis tot huis gegaan het, het sy ’n Nepalese vrou ontmoet wat kennis van Jesus gehad het, maar niks omtrent die ware God, Jehovah, geweet het nie. Cheri het haar in die Bybel gewys dat Jesus tot sy Vader in die hemel gebid het. Toe die vrou besef dat sy tot die ware God kon bid, wie se naam Jehovah is, het dit haar hart oopgemaak en het sy die goeie nuus aangeneem. Kort voor lank het haar man en dogter ook die Bybel begin studeer.—Psalm 83:18; Lukas 22:41, 42.

Cheri vandag

Toe ek sien hoeveel Cheri dit geniet om voltyds te preek, het ek my afgevra: ‘Wat verhinder my om te doen wat sy doen?’ Op hierdie stadium het ek ook weer in Hongkong gewoon. Ek het besluit om my sake so te reël dat ek ’n groter aandeel daaraan kon hê om Bybelwaarhede aan ander te leer. Ek het gevind dat dit my waarlik gelukkig maak om na mense te luister en hulle te help om God se Woord te verstaan.

Ek het gevind dat dit my waarlik gelukkig maak om mense te help om God se Woord te verstaan

Ek kon byvoorbeeld die Bybel studeer met ’n Viëtnamese vrou wat altyd hartseer was en dikwels trane in haar oë gehad het. Nou het sy ’n vreugdevolle uitkyk op die lewe en geniet sy dit werklik om met die gemeente te assosieer.

Ek en Cheri het albei iets baie beters as ’n glanslewe gevind. Hoewel die rolprentbedryf opwindend was en ons beroemd gemaak het, is dit bevredigender om mense van Jehovah God te leer omdat dit hom verheerlik. Ons het beslis die waarheid ondervind van Jesus se woorde: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.