Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Voor watter uitdagings het Herodes te staan gekom toe hy die tempel in Jerusalem herbou het?

Salomo het die tempel in Jerusalem oorspronklik op ’n heuwel opgerig en steunmure aan die ooste- en westekant van die heuwel laat bou om gelyke terrasse rondom die tempel te skep. Herodes wou ’n tempel hê wat indrukwekkender sou wees as Salomo s’n, en daarom het hy die tempel wat reeds bestaan het, herstel en vergroot.

Herodes se ingenieurs het die gelyke deel noord van die tempel vergroot sodat hy die terrasse daar kon uitbrei. Die platform aan die suidekant is met 32 meter vergroot. Om dit te doen, is ’n aantal gewelfde (boogvormige) klipmure en ’n breë steunmuur gebou. Op party plekke was hierdie muur 50 meter hoog.

Herodes het probeer om nie die Jode aanstoot te gee nie en wou nie hê dat die bouwerk op die tempeldienste en -offerandes inbreuk moes maak nie. Die Joodse geskiedkundige Josefus sê dat Herodes selfs Joodse priesters as bewerkers van klip en timmermanne opgelei het sodat geen ongemagtigde werkers die heilige gedeeltes sou binnegaan nie.

Herodes is dood voordat die projek voltooi is. Teen 30 HJ was die herbouwerk reeds 46 jaar lank aan die gang (Johannes 2:20). Die werk is in die middel van die eerste eeu HJ deur Herodes se agterkleinseun, Agrippa II, voltooi.

Waarom het die mense van Malta gedink dat die apostel Paulus ’n moordenaar is?

Die godin van geregtigheid (links) slaan die godin van ongeregtigheid

Party van die mense van Malta is moontlik deur Griekse godsdiensidees beïnvloed. Kyk na wat gebeur het nadat Paulus op Malta skipbreuk gely het, soos in die boek Handelinge beskryf word. ’n Vuur is gemaak om diegene wat skipbreuk gely het, warm te hou, en toe die apostel ’n bondel hout op die vuur sit, het ’n slang aan sy hand vasgebyt. Die eilanders het dus gesê: “Hierdie man is gewis ’n moordenaar, en hoewel hy veilig aan die see ontkom het, het die wrekende geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.”—Handelinge 28:4.

Die Griekse woord wat hier met “geregtigheid” weergegee word, is “di’ke”. Die woord kan na geregtigheid oor die algemeen verwys. Maar in die Griekse mitologie was Dike die naam van die godin van geregtigheid. Daar is geglo dat sy oor menseaangeleenthede toesig hou en verborge ongeregtighede aan Zeus rapporteer sodat die skuldiges gestraf kan word. Volgens een bron het die bewoners van Malta moontlik gedink: “Hoewel Paulus aan die see ontkom het, is hy ’n gemerkte man wat nou ingehaal word deur die godin Dike . . . deur middel van die adder.” Die mense het hulle beskouing verander toe hulle sien dat Paulus niks oorkom nie.