Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Skynheiligheid! Sal dit ooit eindig?

Skynheiligheid! Sal dit ooit eindig?

PANAYIOTA het grootgeword op ’n eiland in die Middellandse See. As ’n tiener het sy baie in die politiek belanggestel. Later was sy die sekretaris van ’n politieke party in die dorp waar sy gewoon het. Sy het selfs van huis tot huis gegaan om fondse vir die party in te samel. Maar ná verloop van tyd het Panayiota teleurgesteld gevoel. Daar was familiebegunstiging, ambisie, konflik en jaloesie in die party, al het die partylede mekaar comrade genoem.

Daniel is in ’n baie godsdienstige gesin in Ierland grootgemaak. Maar hy kan nog goed onthou hoe skynheilig die priesters was. Hulle het baie gedrink, gedobbel en uit die kollektebord gesteel, en dit terwyl hulle vir hom gesê het dat hy in die hel sal brand as hy sondig.

Jeffery het die grootste deel van sy lewe bemarking en verkope gedoen vir internasionale skeepseienaars in die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Hy onthou baie gevalle waar kliënte en mededingers bedrog gepleeg het wanneer hulle met regeringsamptenare geonderhandel het. Hulle was huigelaars, dit wil sê nie opreg nie, en was bereid om byna enigiets te sê om ’n kontrak te kry.

Ongelukkig is dit nie die enigste gevalle van huigelary nie. Huigelary, of skynheiligheid, kom vandag in byna alle menslike bedrywighede voor—die politiek, godsdiens en die sakewêreld. Die woord “huigelaar” kom van ’n Griekse woord wat verwys na ’n spreker of toneelspeler, wat dikwels ’n masker gedra het. Ná verloop van tyd het die woord begin verwys na enigiemand wat toneelspeel om ander te bedrieg of om ’n selfsugtige doelwit te bevorder.

Mense het soms sterk gevoelens oor skynheiligheid, soos bitterheid, woede en gegriefdheid. Uit frustrasie sal slagoffers daarvan miskien sê: “Skynheiligheid! Sal dit ooit eindig?” Gelukkig gee God se Woord ons redes om te glo dat dit wel sal gebeur.

HOE GOD EN SY SEUN SKYNHEILIGHEID BESKOU

Volgens die Bybel het skynheiligheid nie sy oorsprong by mense nie, maar by ’n onsigbare geesskepsel. Vroeg in die mensegeskiedenis het Satan die Duiwel ’n slang gebruik om homself te vermom. Om die eerste vrou, Eva, te mislei, het hy gemaak asof hy haar wou help (Genesis 3:1-5). Van daardie tyd af het baie mense gemaak asof hulle iets is wat hulle nie werklik is nie omdat hulle ander wil mislei of selfsugtige doelwitte wil bereik.

Toe die eertydse nasie Israel in die strik van valse aanbidding en skynheiligheid getrap het, het God hulle herhaaldelik teen die gevolge daarvan gewaarsku. Jehovah God het deur die profeet Jesaja gesê: ‘Hierdie volk het met hulle mond nader gekom en my met hulle lippe verheerlik en hulle het hulle hart ver van my verwyder’ (Jesaja 29:13). Toe die nasie nie berou getoon het nie, het God toegelaat dat Israel se sentrum van aanbidding—Jerusalem en sy tempel—deur ander nasies vernietig word, eers deur die Babiloniërs in 607 VHJ en uiteindelik deur die Romeinse leër in 70 HJ. Dit is duidelik dat God skynheiligheid nie vir ewig verdra nie.

Aan die ander kant het God en Sy Seun, Jesus, groot waardering vir mense wat eerlik en opreg is. Byvoorbeeld, vroeg in Jesus se bediening het ’n man met die naam Natanael na hom toe gekom. Toe Jesus hom sien, het hy gesê: “Kyk, gewis ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47). Natanael, wat ook as Bartolomeus bekend gestaan het, het een van Jesus se 12 apostels geword.Lukas 6:13-16.

Jesus het tyd met sy volgelinge deurgebring en hulle God se denkwyse geleer. Daar moes geen skynheiligheid onder hulle wees nie. As ’n waarskuwing het Jesus die skynheilige gebruike van die godsdiensleiers van daardie tyd sterk veroordeel. Kyk na ’n paar van hierdie gebruike.

Hulle het hulle “regverdigheid” beoefen om deur mense gesien te word. Jesus het vir sy gehoor gesê: “Pas noukeurig op dat julle nie julle regverdigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word . . . net soos die huigelaars” nie. Hy het ook vir hulle gesê om barmhartigheidsgawes “in die geheim”, of sonder om aandag te trek, te gee. Hulle moes op ’n privaat plek bid, nie om deur ander gesien te word nie. Dan sou hulle aanbidding opreg wees en deur sy Vader waardeer word.Matteus 6:1-6.

Hulle was gou om te kritiseer. Jesus het gesê: “Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal” (Matteus 7:5). As iemand die aandag op die foute van ander vestig terwyl hy self groter swakhede het, maak hy asof hy iets is wat hy nie werklik is nie. Want in werklikheid het “almal . . . gesondig en skiet [almal] te kort aan die heerlikheid van God”.Romeine 3:23.

Hulle het slegte bedoelings gehad. By een geleentheid het dissipels van die Fariseërs en ondersteuners van Herodes Jesus ’n vraag oor belasting gevra. Hulle het vleiende taal gebruik en vir Jesus gesê: “Leermeester, ons weet dat u waaragtig is en die weg van God in waarheid leer.” Toe het hulle ’n strik gestel deur die vraag te vra: “Is dit geoorloof om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie?” Jesus het geantwoord: “Waarom stel julle my op die proef, huigelaars?” Jesus was reg toe hy hulle huigelaars genoem het, want hulle wou nie werklik ’n antwoord op hulle vraag gehad het nie, maar wou “hom met sy woorde [vastrek]”.Matteus 22:15-22.

Ware Christene beoefen “liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary”.1 TIMOTEUS 1:5.

Toe die Christengemeente op Pinkster 33 HJ gestig is, kon waarheid en eerlikheid floreer. Ware Christene het hard gewerk om skynheilige neigings uit hulle persoonlikheid te verwyder. Byvoorbeeld, Petrus, een van die 12 apostels, het mede-Christene aangemoedig om “gehoorsaamheid aan die waarheid met ongeveinsde broederlike geneentheid” te beoefen (1 Petrus 1:22). Die apostel Paulus het sy medewerkers ook aangespoor om “liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary” te openbaar.1 Timoteus 1:5.

DIE KRAG VAN GOD SE WOORD

Die leringe van Jesus en die apostels, soos in die Bybel opgeteken is, is vandag net so kragtig soos in die eerste eeu. In verband hiermee het die apostel Paulus geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Om Bybelleringe te leer ken en daarvolgens te probeer lewe, het baie mense gehelp om skynheiligheid te oorkom en opreg en eerlik te wees. Kyk na die ondervindinge van die drie mense wat aan die begin van die artikel genoem is.

“Ek [het] gesien hoe mense ware liefde betoon en opreg belangstel in hulle medemens.”—PANAYIOTA

Panayiota se hele lewe het verander toe sy ’n uitnodiging aanvaar het om vergaderinge by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon. Daar was geen vertoon van heiligheid om ander te probeer beïndruk nie. Sy sê: “Daar het ek gesien hoe mense ware liefde betoon en opreg belangstel in hulle medemens, iets wat ek nooit gesien het in al die jare wat ek by die politiek betrokke was nie.”

Panayiota het die Bybel begin studeer en is gedoop. Dit was 30 jaar gelede. Nou sê sy: “Ek het ware betekenis in die lewe gevind, nie toe ek van huis tot huis gegaan het om die politieke party te bevorder nie, maar toe ek begin preek het oor God se Koninkryk—die enigste manier waarop ons ’n regverdige wêreld kan hê.”

“Ek kon nie met die gedagte saamleef dat mede-Christene dink dat ek iets is wat ek nie is nie.”—DANIEL

Daniel het goeie vordering in die Christengemeente gemaak en is sekere verantwoordelikhede gegee. ’n Paar jaar later het hy ’n fout gemaak, en sy gewete het hom begin pla. “Ek het die skynheiligheid onthou wat ek jare tevore in die kerk gesien het”, het hy gesê, “en ek het gevoel dat ek geen ander keuse het as om my diensvoorregte op te gee nie. Ek kon nie met die gedagte saamleef dat mede-Christene dink dat ek iets is wat ek nie is nie.”

Nadat Daniel oor ’n tydperk gehelp is om geestelik te herstel, het hy gevoel dat hy weer met ’n goeie gewete diensvoorregte kan aanvaar, en hy was bly om weer verantwoordelikhede in die gemeente te ontvang. Hierdie verkwikkende eerlikheid is kenmerkend van dié wat God sonder skynheiligheid dien. Hulle leer om die ‘balk uit hulle eie oog uit te haal’ voordat hulle aanbied om die ‘strooihalm uit hulle broer se oog uit te haal’.

“Ek kon nie meer die bedrieglike verkoopsman met die gladde tong wees nie. . . . My gewete is beïnvloed”—JEFFERY

Jeffery, wat sy hele lewe lank in die sakewêreld gewerk het, het gesê: “Hoe meer my Bybelkennis toegeneem het, hoe meer het ek besef dat ek nie meer die bedrieglike verkoopsman met die gladde tong kon wees wat bereid is om enigiets te sê om die kontrak te kry nie. My gewete is beïnvloed deur Bybeltekste soos Spreuke 11:1, wat sê: ‘’n Bedrieglike weegskaal is vir Jehovah iets verfoeiliks.’” Ja, anders as die mense wat Jesus die belastingvraag gevra het, het Jeffrey geleer om nie oneerlike bedoelings in sy handelinge met ander te hê nie—nie mede-Christene of ongelowiges nie.

Miljoene Getuies van Jehovah regoor die wêreld probeer toepas wat hulle uit die Bybel geleer het. Hulle werk baie hard om hulle met “die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Ons moedig jou aan om uit te vind wie Jehovah se Getuies is, wat hulle glo en hoe hulle jou kan help om te leer oor die nuwe wêreld wat God belowe—’n wêreld waarin “regverdigheid [sal] woon” en skynheiligheid glad nie meer sal bestaan nie.2 Petrus 3:13.