Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

Vertroosting in moeilike tye

Vertroosting in moeilike tye

Mense kom voor allerhande probleme te staan. Ons kan nie elke probleem hier bespreek nie, maar kom ons kyk van naderby na die vier voorbeelde wat ons reeds genoem het. Let op hoe mense met verskillende probleme deur God vertroos is.

WERKLOOSHEID

“Ek het geleer om enige werk te aanvaar, en ons het ontslae geraak van alle onnodige uitgawes.”—Jonathan

“Ek en my vrou het op dieselfde tyd ons werk verloor”, vertel Seth. * “Ons het twee jaar lank die pot aan die kook gehou met die hulp van familielede en ’n paar los werkies. Dit het my vrou, Priscilla, neerslagtig laat word en my laat voel dat ek niks werd is nie.

“Wat het ons gedurende hierdie tyd gehelp? Priscilla het voortdurend gedink aan Jesus se woorde in Matteus 6:34. Hy het gesê dat ons ons nie moet kwel oor môre nie, want elke dag het sy eie sorge. En haar hartgrondige gebede het haar die krag gegee om voort te gaan. Psalm 55:22 het my vertroos. Soos die psalmis het ek my las op Jehovah gewerp, en ek het gevind dat hy my onderskraag het. Hoewel ek nou ’n werk het, hou ons ons lewe eenvoudig, in ooreenstemming met Jesus se raad in Matteus 6:20-22. Ons het ook nader aan God en nader aan mekaar gekom.”

“Toe ons klein familiebesigheid bankrot gespeel het, was ek baie bekommerd oor die toekoms”, erken Jonathan. “Weens ’n ekonomiese krisis was 20 jaar se harde werk daarmee heen. Ek en my vrou het oor geld begin stry. Ons was te bang om iets met ’n kredietkaart te koop, ingeval die transaksie nie sou deurgaan nie.

“Maar God se Woord en sy gees het ons gehelp om goeie besluite te neem. Ek het geleer om enige werk te aanvaar, en ons het ontslae geraak van alle onnodige uitgawes. As Jehovah se Getuies het ons ook ondersteuning van medegelowiges ontvang. Hulle het ons gehelp om ons gevoel van eiewaarde te behou en het hulp verleen toe dit werklik moeilik gegaan het.”

DIE VERBROKKELING VAN ’N HUWELIK

“Toe my man my skielik verlaat het, het ek seergemaak en kwaad gevoel”, vertel Raquel. “En ’n verskriklike hartseer het oor my gekom. Maar ek het nader aan God gekom, en hy het my vertroos. Ek het elke dag gebid, en die vrede van God het my hart beskerm. Dit het gevoel asof hy my gebroke hart genees het.

“Sy Woord, die Bybel, het my gehelp om gevoelens van woede en gegriefdheid te oorkom. Ek het die woorde van die apostel Paulus in Romeine 12:21 ter harte geneem: ‘Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.’

“[Ek het besef] dat daar ’n tyd is om iets ‘as verlore op te gee’. . . . Ek het nou nuwe doelwitte in die lewe.”—Raquel

“’n Wyse raadgewer het my gehelp om te sien dat ek moet aanbeweeg. Hy het Prediker 3:6 vir my gewys en het vriendelik vir my gesê dat daar ’n tyd is om iets ‘as verlore op te gee’. Dit was reguit raad, maar ek het dit nodig gehad. Ek het nou nuwe doelwitte in die lewe.”

“Wanneer jou huwelik verbrokkel, het jy ondersteuning nodig”, sê Elizabeth. “Ek het ’n dierbare vriendin wat my dag ná dag ondersteun het. Sy het saam met my gehuil, my vertroos en my geliefd laat voel, nie verworpe nie. Ek is daarvan oortuig dat Jehovah haar gebruik om my emosionele wonde te genees.”

SIEKTE OF BEJAARDHEID

“Nadat ek tot God gebid het, voel ek hoe sy gees my krag gee.”—Luis

Luis, wat in die eerste artikel van hierdie reeks aangehaal is, het ’n ernstige hartkwaal en het al twee keer by die dood omgedraai. Hy is nou 16 uur per dag op suurstof. “Ek bid voortdurend tot Jehovah”, sê hy. “En nadat ek tot God gebid het, voel ek hoe sy gees my krag gee. Gebed gee my die moed om voort te gaan omdat ek geloof in God het en weet dat hy vir my omgee.”

“Ek wil so baie dinge doen, maar ek kan nie”, verduidelik Petra, wat in haar 80’s is. Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat my krag al hoe minder word. Ek voel uitgeput en kan nie sonder medikasie klaarkom nie. Ek dink dikwels aan hoe Jesus sy Vader gevra het om ’n sekere beproewing te laat verbygaan as dit moontlik was. Maar Jehovah het Jesus krag gegee, en hy versterk my ook. Gebed is my daaglikse terapie. Ek voel baie beter nadat ek met God gepraat het.”—Matteus 26:39.

Julian, wat al byna 30 jaar aan veelvuldige sklerose ly, voel ook so. “Ek het ’n sakeman se stoel vir ’n rolstoel verruil”, sê hy. “Maar my lewe is die moeite werd omdat ek dit gebruik om ander te dien. Om van jouself te gee, kan ’n mens se lyding verlig, en Jehovah kom sy belofte na om ons te versterk wanneer ons dit nodig het. Soos die apostel Paulus kan ek waarlik sê: ‘Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.’”—Filippense 4:13.

DIE DOOD VAN ’N GELIEFDE

“Toe my pa in ’n ongeluk dood is, kon ek dit eers nie glo nie”, vertel Antonio. “Dit het so onregverdig gevoel—hy was net ’n onskuldige voetganger. Maar daar was niks wat ek kon doen nie. Hy was vyf dae lank in ’n koma voordat hy gesterf het. Ek het dit reggekry om nie voor my ma te huil nie, maar ek kon die trane nie keer wanneer ek alleen was nie. ‘Hoekom? Hoekom?’ het ek bly vra.

“Gedurende daardie verskriklike tyd het ek Jehovah bly vra om my te help om my emosies te beheers en om my gemoedsrus te gee. En ek het uiteindelik kalmer gevoel. Ek het daaraan gedink dat die Bybel toon dat ‘onvoorsiene gebeurtenisse’ enigeen van ons kan tref. Aangesien God nie kan lieg nie, is ek seker dat ek my pa weer in die opstanding sal sien.”—Prediker 9:11; Johannes 11:25; Titus 1:2.

“Hoewel ons seun in ’n vliegongeluk gesterf het, het ons nog steeds baie aangename herinneringe aan die tye wat ons saam geniet het.”​​—⁠Robert

Robert, wat in die eerste artikel genoem is, het ook so gevoel. Hy sê: “Ek en my vrou het die gemoedsrus ondervind waarvan Filippense 4:6, 7 praat. Ons gebede tot Jehovah het ons gehelp om dit te verkry. Hierdie innerlike vrede het ons gehelp om met verslaggewers te praat oor die opstandingshoop. Hoewel ons seun in ’n vliegongeluk gesterf het, het ons nog steeds baie aangename herinneringe aan die tye wat ons saam geniet het. Ons probeer om daarop te konsentreer.

“Wanneer mede-Getuies vir ons gesê het dat hulle op die televisie gesien het hoe ons kalm oor ons geloof praat, het ons vir hulle gesê dat dit danksy al hulle gebede ten behoewe van ons was. Ek glo waarlik dat Jehovah ons deur middel van al hulle vertroostende boodskappe ondersteun het.”

Soos al hierdie voorbeelde toon, kan God mense vertroos, maak nie saak met watter probleme of uitdagings hulle te kampe het nie. Wat van jou? Ongeag met watter probleme jy te kampe het, jy kan vertroosting vind wat jou deur moeilike tye sal help. * Vra Jehovah gerus vir hulp. Hy is “die God van alle vertroosting”.—2 Korintiërs 1:3.

^ par. 5 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 23 As jy graag nader aan God wil kom en sy vertroosting wil ontvang, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of aan die naaste takkantoor skryf.