Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

2 Korintiërs 12:9 – “My genade is vir jou genoeg”

2 Korintiërs 12:9 – “My genade is vir jou genoeg”

 “My onverdiende goedheid is genoeg vir jou, want in swakheid word my krag volmaak.” – 2 Korintiërs 12:9, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” – 2 Korintiërs 12:9, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van 2 Korintiërs 12:9

 God belowe om die apostel Paulus die krag te gee wat hy nodig het om sy uitdagings en sy beperkings te verduur.

 “My onverdiende goedheid is genoeg vir jou.” God se antwoord op Paulus se herhaalde gebede kan ook weergegee word as “my goedheid is al wat jy nodig het”. Met ander woorde God se onverdiende goedheid sou genoeg wees om Paulus te help om sy uitdagings te verduur. Hoe so? Die woord wat met “onverdiende goedheid” of “genade” vertaal word, beskryf ’n vrye en onverdiende gawe wat God op ’n vrygewige manier gee. Paulus se geskrifte wys dat hy baie baat gevind het by God se onverdiende goedheid. Alhoewel Paulus voorheen Christene vervolg het, het God hom die krag gegee wat hy nodig gehad het om sy gedrag te verander en ander te help om Christene te word (1 Korintiërs 15:9, 10; 1 Timoteus 1:12-14). Paulus kon ten volle op God se hulp vertrou om enige probleme of uitdagings wat hy gehad het, te oorkom.

 “Want in swakheid word my krag volmaak.” Die Here Jehovah a herinner Paulus dat Sy krag veral gesien kan word wanneer hy dit gebruik om swak en onvolmaakte mense te help (2 Korintiërs 4:7; 12:8). As Christene hulle beperkings erken en Jehovah vir hulp vra, laat hulle toe dat God se krag hulle ten volle help (Efesiërs 3:16; Filippense 4:13). In hierdie sin word God se krag in menslike swakheid openbaar gemaak.

Konteks van 2 Korintiërs 12:9

 In ongeveer 55 HJ het Paulus ’n geïnspireerde brief aan die Christene in Korinte geskryf. In die laaste gedeelte van daardie brief verduidelik hy dat hy die gesag het om ’n apostel te wees. Hy het gevoel dat hy dit moes doen omdat party mense wat hulleself onderrigters genoem het, hom gekritiseer en dalk geoordeel het op grond van sy voorkoms of spraak. – 2 Korintiërs 10:7-10; 11:5, 6, 13; 12:11.

 Om homself te verdedig het Paulus verduidelik dat hy nie die dinge wat hy in sy bediening bereik het en die baie uitdagings wat hy verduur het, met sy eie krag kon doen nie (2 Korintiërs 6:4; 11:23-27; 12:12). In hoofstuk 12 praat hy van ’n figuurlike “doring in die vlees”, heel moontlik ’n aanhoudende probleem wat vir hom fisiese of emosionele pyn veroorsaak het (2 Korintiërs 12:7). Alhoewel Paulus nie sy probleem beskryf het nie, was hy vasbeslote om dit met God se hulp te verduur.

 Christene vandag kan dalk ook deur moeilike tye gaan en vervolg word. Hulle vind vertroosting daarin om te weet dat God se krag hulle kan help om enige uitdaging te verduur. Soos Paulus, kan hulle met vertroue sê: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk.” – 2 Korintiërs 12:10.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek 2 Korintiërs te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?